Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hierdie week nooi Kiekies ons om oor diere te skryf en ek is seker almal van ons het talle pragtige stories en vertellinge om te deel. Lekker skryf oor jou spesiale dieremaatjie!


’n Slim mens het lank gelede gesê dat die mens se beste vriend ’n hond is. (Ek het geen idee wie dit was nie) Daar is ’n hele paar dames wat egter reken diamante is ’n vrou se beste vriend, maar hulle ken seker nie die liefde van ’n hond nie. Ek het ook al baie gehoor dat mens vir jou ’n hond moet koop, as jy lojaliteit wil hê. Dis helemaal waar. Ek het nog altyd in beroepe gestaan waar ek met mense te doen gehad het en hoe langer ek met mense gewerk het hoe liewer het ek vir my diere geword.

Daar waar ek in die woestyn gebly het, sonder enige troeteldiere, het ek my ontferm oor ’n rondloper kat met vyf kleintjies wat in ’n park gewoon het. Ek het elke oggend en aand die sowat 2km, heen en weer gestap om hulle te gaan kos gee. Een van die kleintjies het vyf bene gehad. Dit was net die rondloper katte en so paar mense se honde, wat ek ooit te siene gekry het. Nie eers vlieë of ander insekte nie, want die stormwater dreine word elke twee weke met gif bespuit om als wat klouter of kruip te vermoor. Ek onthou hoe opgewonde ek een aand was oor ’n verdwaalde mot wat by die deur ingevlieg het. Op ’n ander stadium het ek ’n gecko-tjie wat in my woonstel beland het, vir ’n paar dae vasgekeer het, net om bietjie lewe daar te hê.

Ek het nou al opgemerk dat daar baie WOES-tyne is wat baie lief is vir diere. Daar is Thys wat alles van voëls af weet. Vonnie gesels baie oor haar brakkie. Vic het al vertel van sy hondjie wat sy kettie se klip-patroon vir hom gaan terug haal, nadat hy geskiet het. Wolf het ’n hoender-sekretaresse op die plot gehad en ek weet ook van die 2 boerbokke, Hans en Griet as ek reg onthou, waarvoor hy so lief was. Brandewyntert het ons onlangs vertel van ’n blouwildebees kalf wat sy probeer grootmaak het. Ons het onlangs ook Ano se Guppy ontmoet.

Daar is troeteldiere met eienaardige gewoontes. Ander wat oulike truuks kan doen. Sommige troeteldiere is nader aan mense, as die meeste mense wat ek ken.

Sommige mense het baie eienaardige en selfs grillerige troeteldiere. Ek het mos vertel dat ek die afgelope Kersvakansie saam met ’n tarantula en ’n slang moes deurbring wat saam met ons die huis gedeel het. Dis behalwe al die wilde diere wat in die tuin kom kuier het. Ek dink nou maar aan ’n ‘Bearded Dragon’. Ek weet nie eers naastenby wat dit in Afrikaans is nie. Onder in ons straat het iemand ’n ‘Potbelly’ varkie gehad. Op die internet lees ek van brulpaddas, krimpvarkies, krappe en kokkerotte. Almal, iemand se troeteldier.

Is jy lief vir diere? Skryf dan daaroor.

Doen jou hond of kat snaakse dinge? Vertel vir ons daarvan.
Gril jy vir diere? Sê tog maar.

Het jou hond al met jou terug gepraat? Deel met ons, ons sal jou glo.
Was daar iewers in die verlede ’n baie spesiale troeteldier in jou lewe? Dig aan hom of haar ’n ode toe en deel dit met ons.

Is dit jý wat ’n vreemde troeteldier aanhou? Verras ons met die details.

Dalk is daar ’n dier in jou. Stel ons voor. As jy kon kies om ’n dier te wees, wat sou jy kies?




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Bundel homofiliese kortkunsprosa.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar