Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Terwyl dit nog somer is en die reëns in meeste streke volstoom, of is dit vol-stroom, op die aarde neerdaal om alles in lowergroen landskappe te omskep, sal hierdie week se tema ‘GROEN’ wees. Hier in die bos is dit nie net groen nie. Dis skree skerp lemmetjie groen. Hoe lyk dit met ’n bydrae oor die groen natuurskoon?

Wanneer mens hoërskool of universiteit begin, word jy ’n groentjie genoem. Dalk is daar ’n lekker groentjie storie wat jy hier op die werf wil vertel. Of dalk kan jy oor iemand anders se groentjie-geite skinder.

Om ontslae te raak van groentjie status moet jy ont-groen raak. Ontgroening bring ’n bietjie pyn, maar baie komieklike situasies wat jy vir jou Woes maters kan oorvertel.

Ander groen gedagtes is die groenoog monster. ’n Aaklige ding wat aanhou groei en in ’n dinosourus ontaard as hy nie kleintyd vermorsel word nie.

Die verkwisterige man eet die vrugte van sy lewe groen op; die inhalige laat hulle sit tot hulle vrot is. So het Langenhoven gesê. Oor hierdie groen situasie kan mens dik stukke filosofeer in ’n lekker skryfsel hier op ons werf.

Groen om die kiewe raak – dis niks aangenaam nie.

Ken iemand dalk die naam groenegagie?

Groen is die kleur van ’n verkleurmannetjie voor iets hom bedreig of kwaad maak. Dan word hy soms pikswart. Daar is mense ook wat op hierdie wyse hulle ware kleure wys. Groen laat my ook aan wurms en sprinkane dink. Snaaks, ek ken ook mense wat aan daai benamings sal voldoen.

Bottelgroen sal ek altyd vereenselwig met skoolklere, want ek moes dit van graad een tot matriek dra.

’n Ander skakering van groen wat herinneringe in my wakker maak, is die ligte groen kleur van outydse glasbottels. Die water van die oseaan daar by my huisie by die see, raak met tye so groen. Helder en deurskynend, glas-groen. Oi, hoe verlang ek nou.

Die gras is groener aan die ander kant van die draad. Kan iemand ons dalk vertel hoekom?

’n Ou bok soek net groen blaartjies. Ons het mos ’n hele paar ou of ‘ouerige’ bokke op die Woes werf. Nou wonder ek net of ons eerlike ouerige bokke het, wat ons so ietsie sal meedeel oor groen blaartjies.

Wag, dis nou eers genoeg groen gedagtes. Oor na al die Woes skrywers. Ons wag vir groen verhale, rubrieke, gorrels, gedigte of lirieke.

Grasgroen bos-groetnis
Kiekies.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar