Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies se gedagtes gaan vandagterug na laaaaank gelede en sy vra ons om saam met haar te onthou ...

Die tema vir ‘Vandag in Woorde’ vir hierdie week is ‘ONTHOU’. Nou moet ek bieg, dit was nie my eie idee nie. Dit het gekom van ’n gesprek tussen my en Elvina, nadat ek kommentaar gelewer het op haar heerlike rubriek waarin sy die ou ‘donkie’ onthou, wat gestook moes word om warm water te voorsien aan ’n huishouding van ouds. Ek kon dit so duidelik onthou, met lekker en pynlike herinneringe. As kind wou ek altoos help stook, daarom dus dat ek op ’n dag heel-voet binne-in ’n hoop warm as getrap het. Arrrrrrggg ek ril nou nog van pyn.

In antwoord op my kommentaar sê Elvina toe: “Ek wens net meer lede wil sulke onthou dinge neerpen. Wat van die volgende tema ‘ek onthou ...”

Nou ja, dan gee ek nou gehoor, want daar is so baie dinge om met ’n lekker hart te onthou. Jy kan dit nou vir ons in gedig, artikel, rubriek of sommer ’n hele kortverhaal oorvertel.

Net gister onthou ek daai boksies Sugus wat ons gekoop het en as jy die binnegoed opgeëet het, was daar ’n prent van een of ander land se tradisionele drag. Ek wou almal bymekaarmaak en het heeltyd Sugus gekou. Onthou jy dit?

Ek het ook lekker herinneringe oor inry teater toe gaan. Eers as kind. In die somer kon ons op ’n kombers voor die kar sit. In die winter moes pa kort-kort die ‘de-mister’ aanskakel om die voorruit te ont-stoom. Later jare toe ek saam met Bokka gaan fliek het, het ons nie gebodder om die voorruit te probeer skoonmaak nie. Onthou jy dit?

Ek onthou ma se trap Singer, wat later darem modern gemaak is toe pa vir hom ’n motortjie aangesit het. Ek onthou die klakka-klakka van die trap terwyl ma vir ons rokke vir die myn se kersboom gemaak het. Die dwars-arm het ’n verband-lappie omgehad waaraan die spelde gesteek was. Onthou jy dit?

Og tog, daar is ’n duisend en een onthou-e om van te praat. Glas melkbottels op die agterstoep met die koepons in sodat die melkman môre die leë bottels kan vat en vol bottels daar los. Saterdae ook 2pinte lemoensap. Onthou jy dit?

Die groente-lorrie wat straatop en straat-af gery het om tamaties en ywe, groente en vrugte te verkoop. Agter hom aan, het die bakkery se waentjie gery wat vars melkbrode met tieties op die kors en oliebolle en vlaskywe verkoop het. Onthou jy dit?

Of ’n kombuis wat na vars lang wit anys-beskuite of perskekonfyt en blatjang ruik. Of die ou stoompot met die gewiggie op, wat ringetjie vir ringetjie uitstoot soos wat die stoom binne-in opbou. Of die ou strykyster wat op die primus stofie warm gemaak word voor jy kon stryk. Of pa se ou Morris-motortjie met die plastiek dak en agterruit. Of my dikwiel - rassistiese - baaisiekel wat met die trap gerem moes word. Onthou jy al die goed? Of enige een of heel iets anders?

Seblief tog, vertel vir ons. Kom ons stap ’n entjie terug op ons spore.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

ROEPSTEM

deur Charmain*

Charmain Potgieter besit die vermoë om ʼn leser gevange te neem in haar beeldryke digkuns. Haar woorde vorm en vloei gemaklik in mens se gedagtes met ʼn belofte om te bly. By die lees van haar gedigte staan ek telkens opnuut verwonderd oor haar wonderlike gawe wat sy met soveel passie oordra. Haar werk is in diepte verrykend en laat altyd stof tot nadenke en iets kosbaar om te bêre in die hart. Ek kan haar bundel met die grootste vrymoedigheid voor elkeen met ʼn liefde en koestering vir digkuns kom neersit. Karen van der Merwe



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar