Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies laat weet ....  Die tema vir hierdie week is ‘Rooi’.


Nee, dis nie al weer Valentynsdag nie, maar rooi beteken baie dinge in baie verskillende omstandighede. Rooi beteken ook ’n wye verskeidenheid van emosies.

Rooi is die kleur van liefde. In Februarie is dit rooi harte, strikke, bere en sjokolade in blink rooi papiertjies net waar jy kyk. O ja en rooi rose! In die klerewinkels se vensters is daar ragfyn rooi onder-kleertjies en nagrokkies om die hormone teen hoe spoed in ’n wentelbaan te plaas.

Rooi is die kleur van woede. Ma het altyd gesê: ‘Hierdie kind laat my rooi sien’. Seker maar soos ’n stier in die arena wanneer die bulvegter sy rooi doek wapper. Is dit so dat enige bul mens sal jaag as jy rooi dra?

Rooi is die kleur van Krismis en geskenke en samesyn en lekker eet en drink. Van somer, sonskyn en vakansie. Van gee en ontvang. Van kredietkaarte tot ver in die rooi, baljaar.

Van somer gepraat, rooi is die kleur van aarbeie, kersies, bessies en koffiebone wat nog aan die takke hang. Van Poinsettias en malvas. Rooi lywe wat te lank op die strand in die son gelê het. Rooiwyn teen sononder op die strand.

Rooi is die kleur van bloed en wonde en ernstige ongelukke. Die kleur van die kruis op ’n ambulans. In meeste lande ook die kleur van polisievoertuie.

Rooi is die kleur van die vroue van die nag. Sagte rooi sensuele lippe en lang rooi naels. Ek het grootgeword met die idee dat net prostitute rooi skoene en onderklere dra. Nee, ek weet nie waar ek daaraan gekom het nie. Seker omdat daar altyd na die rooilig distrik verwys was.

Rooi is die kleur van gevaar en pyn. Van hoe bloeddruk en hoofpyn. ‘Nou hoe verklaar jy dit, Kiekies?’ vra jy. Wel, ’n kleur koördineerder het verklaar dat as mens te veel rooi in jou sitkamer het, sal jou kuiermense vinnig onrustig raak en nie lank kuier nie. Weet nie of dit ’n probleem of ’n oplossing is nie. Toe ek in ’n stadium so bietjie hipertensie ontwikkel, verklaar ’n vriendin dis omdat ek rooi gordyne en kussinkies in my sitkamer het. Nou ja, dis nie ek wat so sê nie.

Rooi is die kleur van druip sirkels op ’n skoolrapport. Of te wel, dit was so. In die dae toe ’n rapport nog handgeskrewe was. Hoe dit deesdae aangedui word, weet ek nie eers nie.

Rooi was ook die kleur van kommunisme. Is dit nog so? En die kleur van die verdomde Engelse en hulle taal, wat volgens my pa die oorsaak was van al die probleme in die land. En dan het twee van hulle ook nog sy dogters se harte gesteel.

Rooi is die kleur van waarskuwing. Van stop en wag.

Wat beteken rooi jou lewe? Vertel vir ons! In welke vorm van skryf ook al in jou rooi bloed loop en jou hart rooiwarm laat klop. Of wat laat jou humeur tot in die rooi styg? Ons wil dit ook graag hoor. Hoe rooier jou skryfsel, hoe mooier vir die lesers.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Geweeg

deur Manie Jackson

Gedigte van skooldae af , die tyd toe ek geweeg is, tot ek getrou het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar