Hierdie week betree ons die storie-fabriek. Of dalk eerder die Storie-boord of -kelder gevul met ’n magdom stories en gedig-idees, in verskeie kultivars, kleure en geure. Sommige galbitter en ander heuningsoet! Ons betree die SPREEKKAMER. Wie se SPREEKKAMER? Nee, vandag sê ek nie voor nie, jy kan self besluit.
Die huisdokter se SPREEKKAMER? Of die ginekoloog of uroloog s’n? Dalk het jy al besoek afgelê by ’n sielkundige of psigiater se SPREEKKAMER. Of dalk kan jy jou voorstel hoe die pasiënte lyk en waaroor hulle gesels.
Kom ons dink wie het almal ’n SPREEKKAMER. Daar is die veearts, die oogarts, die kardioloog, die onkoloog en die pediater ook. Ek dink mens noem ’n berader se kantoor ook ’n SPREEKKAMER.
Was jy lanklaas by enige spreekkamer? Wel dan is dit hoogtyd dat jy weer ’n slag daar uitkom. Hierdie week lê ek jou die taak op: besoek ’n SPREEKKAMER, met of sonder ’n afspraak. Dan vergader jy inligting en stories, gaan reguit huis toe en skryf dat die spoeg spat en die stof staan.
Oee alla, ek is nou skoon opgewonde oor die bydraes wat ons hierdie week te lese gaan kry! Laat waai, Meraai en roer jou, ou Joe! Ek wag ongeduldig!
Boland-groetnis
Kiekies.