Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies nooi ons hierdie week om ons menings te lug oor TELEVISIE ...

Vandag in Woorde se tema vir hierdie week is Televisie. Of ons dit wil erken of nie, televisie speel ’n groot rol in meeste mense se lewens. Ek is versigtig om nie te sê ‘’n belangrike rol’ nie, alhoewel ek glo dat televisie tog ’n belangrike rol in sekere mense se lewens speel. Ek dink nou maar aan ou mense, alleen mense en gebreekte mense. Daar in ’n ouetehuis, iewers alleen in ’n woonstelletjie of vasgekluister in ’n rolstoel of ’n bed. Vir hulle is televisie sekerlik kontak met die buitewêreld en tydverdryf van lang ure en geselskap. Dis darem tog ’n manier om van die werklikheid te ontsnap of is ek nou helemaal verkeerd?

Hoe vêr terug onthou jy iets van televisie?

Ek onthou toe die eerste televisieprogramme op TV te siene was en pa botweg geweier het om vir ons ’n stel te koop. Dis van die bose en geldmors, het hy gereken. Wel toe moet ons maar ’n ander plan maak. Vier van ons het vyf kilometer met die fiets gery na ’n pel se huis toe. Daar het ons oopmond sit en kyk na ‘Ter wille van oorlewing’ tot die landsvlag gewapper het oor die skerm.
Dan weer vyf kilometer huis toe. Gelukkig was dit nog veilig genoeg om na nege op ’n someraand in die straat, met ’n fiets te ry.

Watter programme het uitgestaan in die verre verlede? Of staan nou uit, in die huidige? Watter programme laat jou soos Jonty Rhodes duik na die afstandbeheer, as dit tyd raak dat dit moet begin? Of dalk laat ’n program jou dieselfde duikslag uitvoer, maar om van kanaal te verander.

Ek laat my geheue sommerso bietjie terugstap op die spoor van die verlede. ’n Paar programme bly my by:

Nommer asseblief, Het van Verlangekraal, Die Manheim Saga,
Dokter Dokter, Skooldae, Seepsteen Bataljon,
Ballade vir ’n Enkeling, Net ’n bietjie liefde, Sonkring,
Biltong and Pot-roast, Jopie Adam, Dallas,
Balke Toe! ,Flink Dink, Bay Watch, McGuive

Dan was daar natuurlik die kinder programme:
Brakanjan, Casimir, Mina Moo, Kraaines,
Wielie Walie, Pieriewieriepark, Liewe Heksie, Heidi ...

Ek is verbaas oor hoeveel ek onthou, maar daar moet ’n rede wees hoekom ek sommige programme onthou en heeltemal van ander vergeet het. As ek nou een program moet uitlig wat my die meeste geraak het, wat woede en hartseer en vreugde in my opgewek het, was dit Sonkring.

Is daar een so program wat vir jou uitstaan?

Waarna het jy jou kinders laat kyk?

Dierbare WOES-teling, sal jy asseblief vir ons vertel watter rol televisie in jou en jou gesin se lewe speel of nie speel nie?

Verwoord dit in ’n gedig, rubriek, gorrel-stuk of dalk kan jy sommer ’n hele nuwe TV-reeks inlei met ’n kortverhaal. Ons sal daarvan hou. Wie weet, dalk wink daar ’n beroep vir een van ons eie Woes-skrywers!

Klap oop daai rekenaar en laat jou vingers die vertel-werk doen!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Skakerings van Grys

deur Swartberg

n Bundel van 54 gedigte oor n hele aantal jare geskryf. Beskikbaar in elektroniese formaat.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar