Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies hanteer van hierdie week af ons “Vandag in Woorde” projek en sy skop af met ‘n heerlike stukkie wat my sommer lus maak om my hande in die grond te kry …


Die tema vir hierdie week is Tuin. Dis oudste tuin waarvan ek weet is die een van lank-lank gelede. Daar was ’n man wat al die skuld op sy vrou gepak het en ’n vrou wat haar ore uitgeleen het en ’n slinkse slang en ’n verbode vrug. Net daar in Eden het daai twee mense ’n moeviese groot fout gemaak.

Tuinmaak is ’n vreugde wat baie Woesters geniet. Of so dink ek. Eendag is eendag sal ek nog Sneeuwolf se groentetuin in bakke, persoonlik gaan inspekteer. Ek na-aap hom op die oomblik, maar wag nog vir my sukses.

Vertel ons van die plesier wat jy smaak in jou tuin. Is dit ’n blomtuin, vetplanttuin, groentetuin of rotstuin? Drie potte op die balkon is ook ’n tuin!

Ek het onlangs groot plesier gesmaak in die Kirstenbosch Botaniese tuin, want ons Krismis-boks van die kinders af, was kaartjies vir ’n konsert daar. Het jy iets spesiaal in ’n tuin beleef? Dalk ’n partytjie of troue. Vertel tog, ons wil hoor!

Ek haal hier-en-daar ’n strofe aan uit A.G. Visser se gedig oor sy tuin:


Rosa Rosarum

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist're geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.

Bok-bokmakieries sing bly twee gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost'lose treurwilg se kruin.

Kom as die skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!



Ek het die volgende tuin-gesegdes gaan uitkrap:

As jy n bossie in jou tuin sien, buig jou knie en pluk dit uit anders het jy baie jare se bossies om te bestry.

Die Here pluk eerste die mooiste blomme vir sy tuin.

Langenhoven het gesê:

Beleefdheid is die hoedanigheid van hart wat die stukkende hekkie nie raak sien nie en die aandag vestig op die blomme in die tuin daaragter.

As jy terugkyk, hoe lyk die tuin van jou lewe? Wat kan jy uithaal en vernietig, of dalk net verplant? Gee vir ons raad en advies, dalk luister iemand. Wat onthou jy van die tuin waar jy grootgeword het?

Ons wil graag jou tuin-wedervaringe deel. En wat van ’n foto of twee?



Onthou: Gebruik asb die woord “tuin” in jou titel.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Sielswoorde

deur Driekie Grobler

Voedsel vir siel - 20 Christelik-geinspireerde gedigte voorgedra deur Jana Swart.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar