Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies se tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is ‘VERANDERING’.

Anders. Anders! Alles is so anders. Die hele wêreld het verander.

‘Soos wat?’ vra jy. Wag, ek verduidelik.

Ek luister anderdag na ‘Hoe verklaar jy dit’ op RSG. Daar noem Dave Pepler net ’n paar dinge wat verander het en daarmee gaan my gedagtes op gallop, want ek onthou toe skielik ’n hele klomp dinge wat was, maar vandag nie meer is nie. Of nie meer dieselfde is nie.

Hy noem die volgende:

-      In ons grootword jare het die meeste huise ’n groentetuin en ’n hoenderhok vol skrophoenders gehad.

-      Elke dorp het ten minste drie slagters gehad.

-      Daar was ’n groenteman wat die groente voorsien het wat ons nie self kon kweek nie.

-      Babas was by die huis gebore en ou mense het by die huis gesterf.

-      Later het moeders in die hospitaal geboorte gegee, maar op die natuurlike manier. Vandag is die gange van die hospitaal stil, jy hoor nie meer ’n vrou wat gil tydens geboorte nie, want dit word pynloos afgehandel.

-     
Ek haal ook aan uit ’n skryfsel van ons eie Suikerbrood en Suurvye:
“Is dit, met vandag se tegnologie, werklik nog nodig vir ‘n mishoring? Nie dat ek dit anders sou wou hê nie, want dit is een van die geluide wat maar eie bly aan ons – en seker alle – kusdorpies.”

Verandering is seker goed, solank dit ’n verbetering is.

Ek onthou toe ’n paar dinge wat verander het, wat nie sou pla as dit tog maar dieselfde gebly het nie. Of sou dit?

-      Melk wat in glas bottels by die huis afgelewer word.

-      Die groente lorrie wat straatop en straataf groente verkoop.

-      Oom Doep wat elke Vrydag twee dosyn eiers aflewer. Vars van die plaas af en hier en daar nog ’n spatseltjie mis aan ’n dop.

-      Die bakkery se driewiel waentjie wat vars brood en pasteie van huis tot huis verkoop.

-      Die tannie van Avbob wat elke maand die begrafnisboekie se geld by die huis kom haal.

-      Tupperware se huis partytjies.

-      Die gesin se uitstappie op ’n Sondag om in die winkelvensters te gaan kyk, in ’n dorp waar al die winkels toe is. Gelukkig was die kafee darem oop vir draai roomys.

-      Boeresport op Nuwejaarsdag.

-      Telefoon bestellings vir kruideniersware wat per fiets afgelewer was.

-      ’n Munisipale swembad waar al die kinders van die dorp op ’n Vrydagmiddag bymekaargekom het.

-      Kinders wat in die straat krieket speel onder die straatligte.

-      Piekniek kos op ’n kombers voor die motor by die inry teater. Almal het plat geval vir die Cowboys se koeëls en Indiane se gifpyle.

-      Middagstories op die radio terwyl al die kinders om een tafel huiswerk doen.
-      Versoek programme op die radio.

-      Vrouens wat self brood bak, konfyt kook en vrugte inlê.

-      Buurmense wat oor en weer by ’n draadheining gesels.

-      ’n Roomyskarretjie se klokkie wat in die straat weergalm.

-      Rooi en groen toffie-appels.

-      Tee wat in ’n teepot gemaak word en in ’n fyn porselein koppie met ’n piering bedien word. Deur ’n siffie geskink.

Wat kon maar dieselfde gebly het en wat het genadiglik verander?
Deel met ons. Herinner ons. Help ons onthou of vermaan ons om te vergeet.

Die enigste konstante in die lewe is dat alles een of ander tyd sal verander.


Onthou asseblief om die woord "verandering" in jou titel te gebruik en lekker skryf!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Voedsel vir die Siel

deur Snuffelgids

Hierdie digbundel is Voedsel vir die Siel. Dit bevat elke emosie se leemtes en na die lees voed dit jou tot in die dieptes van jou siel. Geen emosionele leemtes sal ooit weer kop uit steek nie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar