Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies het haar hierdie week heeltemal oortref …


Die tema vir hierdie week is ‘Versamel’.

Definisie: Bymekaarmaak, bymekaarbring.

’n Versamelaar is die persoon wat die versamel-aksie uitvoer en ’n versameling is dan die bymekaargemaakte goed wat die versamelaar versamel het.

Vir baie mense is ‘versamel’ ’n stokperdjie. Ons dink uit die staanspoor aan filatelie wat die versameling van seëls is. Hierdie mense is baie ernstig oor hulle bymekaarmakery en is ook heel dikwels bereid om ’n aardige bedraggie op te dok vir spesifieke seëls wat ontbreek in hul versameling.

Verder versamel mense enige ding, van blikke en bekers tot kerse en klippe. Hier in ons huis is ’n versameling kieries wat om die beurt gebruik word wanneer ons gaan stap. Vir ondersteuning én om vreemde brakke af te skrik. Dalk ook om ’n rower te takel wat dit te naby waag. Dus sommer ’n handige wapen.

Vir ander mense is ‘versamel’ ’n onwillekeurige aksie. Dis nou die opgaarders waarvan ek hier praat. Hulle tel op en dra huis toe en bêre in ’n kas of die garage. Wanneer dit daar vol is, in elke leë hoekie, kassie of laai, want sien, dit wat hulle aandra sal baie handig wees vir dié of daai item, wat einste opgaarder eendag nog wil aanmekaarslaan.

Daar is ook ’n ander soort opgaarder. Dis die een wat niks wil weggooi nie. Leë plastieksakke, stukkies hout, ou besemstokke, flentertjies lap en verjaardagkaartjies. Polistireen bakkies, leë bottels, ou foto’s, boute, skroefies en moere. Daar is geen perk of uitsondering nie.

In ons lekker-sê taal is daar heerlike versamelwoorde en ek noem slegs ’n paar van ’n horde:

•      Beddegoed – komberse, kussings en linne.

•      Bagasie – al die tasse en sakke van ’n reisiger.

•      Bundel – versameling gedigte wat elke digter op Woes nog sal publiseer.

•      Eskadrielje – groep van drie tot vyf vliegtuie.

•      Drag – die hoeveelheid hout wat op een slag gedra kan word.

•      Pluksel – ’n klomp vere, vrugte of groente wat gepluk was.

•      Snoer – pêrels wat in ’n ry geryg is.

•      Treksel – hoeveelheid benodig om byvoorbeeld koffie te maak.


So terwyl ek op die net rondkrap, kom ek af op ’n maatskappy wat bostukke maak in ’n reeks wat hulle noem ‘’n Versameling Idiome’. Die idee is om tradisionele gesegdes te laat herleef. Die prentjie wat voorop gedruk is, beeld dan die idioom uit. So byvoorbeeld is dit ’n skets van ’n bottel waarop geskryf is: Bitter in die mond maak die hart gesond. Dié reeks kan mos nimmereindigend wees.

Van versamel gepraat, onthou ek weer hoe ons kos en noodvoorraad versamel het kort voor die ’94 verkiesing. Blikkies en pakkies en sakkies het die spensrakke laat kreun. Kerse en batterye. Elke gasbottel was vol gas en elke primus was vol paraffien en in die garage, ’n paar kanne brandstof.

Het jy nog ál die liefdesbriewe wat jou ou kêrels vir jou geskryf het? Of ken jy iemand wat ’n interessante versameling het. Is jou laaie en rakke vol goetertjies wat jy bêre vir eendag? Eendag wat nooit kom nie. Of ás dit kom, is die soektog so onbegonne taak, dat jy eerder ’n ander een gaan koop. Dalk het jy ’n hele versameling van Pierneef of Irma Stern se werke.

Kom vertel ons in jou verkose genre, wat is dit wat jy versamel of opgaar en vir watter rede maak jy bymekaar. Jy kan maar jou geheime uitlap of die waarde van jou versameling bekend maak. Ons sal nie uitpraat nie.


Onthou asseblief om die woord "versamel" in jou titel te gebruik.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar