Kiekies is hierdie week VOL .... eh .... idees. Kom ons skryf heerlik oor hierdie interessante tema van haar ...
Die tema vir hierdie week is ‘VOL’ en dit is ’n tema wat ‘propvol’ met ‘volop’ moontlikhede is. Seker ook nie vir almal nie. Net vir dié wat ‘vol’ idees en kreatiwiteit is. Dalk ook diegene by wie daar nou ietsie in die verbeelding begin rondspring. Of in die geheue dalk. Ietsie ‘vol’ energie, wat smeek om uitgelaat te word. Ek ken mense wat elke dag hulle gedagtes ‘volstop’ met ’n swetterjoel skryf-planne. Of is ek nou gans te ‘hoopvol’ of te ‘vol-moed’?
Nee, ek glo nie! Jy hoef nie ‘selfvoldaan’, ‘volleerd’ of ‘volmaak’ te wees om iets ‘betekenisvol’ uit jou pen te laat vloei nie. Al wat dit vra is net ’n bietjie ‘volharding’.
Hoor ek dalk iemand roep: ‘volstrek’ nie?
Agge nee, komaan jy is nou sommer ‘vol’ streke. As jy bereid is om jou wonderlike verbeelding en idees ‘voluit’ in te span, sal jy lag-lag aan my versoek ‘voldoen’ en ’n waardige skryfsel sonder moeite ‘voltooi’ en ‘voleindig’. Dit sal ‘voldoende’ wees. Dalk ook ’n ‘volslae’ sukses. En dis ’n ‘voldonge’ feit, nie sommer net iets wat ek uitgedink het nie. Daarvan is ek seker, want ‘volgens’ my oordeel is daar op Woes ’n hele spul ‘volbloed’ skrywers. So…..as iemand wat kán skryf my nou ‘gatvol’ wil maak, moet hy sy kop in die sand druk soos ’n ‘volstruis’.
Nou ja, daai was nou sommer ’n hele ‘bek-vol’ en daarmee gee ek dan nou vir jou ‘volmag’ om vir ons ’n storie ‘volmondig’ op te dis. Jy maak soos jy lus het en hoef aan niemand se vereistes te ‘voldoen’ nie.
En daarmee is my skryf bemoediging nou ‘volbring’ en ‘volstaan’ ek tot ‘volgende’ week. Ek wens jou ’n week ‘vol’ vrede, vreugde en seën toe.
Laat jou pen oorloop met dit waarvan jou hart ‘vol’ is.