Die tema vir hierdie week se vandag in woorde is ‘vuur’. Letterlike of figuurlike vuur.
As ek aan vuur dink is die eerste prentjie wat in my kop kom die beeld van ’n bosveld vuur, doer op my sus en swaer se plaas, ’n klompie kilometer anderkant Polokwane. Heng man, mens kuier heerlik by daai Polle en hulle vuur. Daar is nie elektriese lig wat die vonkelende vlamme in hulle wasige blou silhouette versteur nie. Hulle maak vuur met halwe bome, sodat daar vir ure lank vlamme se geknetter hoorbaar is. Langbeen gestrek, raak ons voetsole vuurwarm terwyl die winter windjie jou rug yskoud maak, daar waar ons in die kring van die spotters sit en luister nag die naggeluide. Nee wag, ek raak nou in vervoering. Om na die vlamme te staar hipnotiseer my elke keer. Selfs as ek net daaraan dink.
Is daar dan iemand wat nie van vuur hou nie? Dink nou maar hoe romanties ’n kaggelvuur in ’n kliphuisie iewers in ’n Kaapse berg is, terwyl die misreën teen die venstertjies in spore afloop. ’n Glasie rooiwyn in die hand en donker rissie-sjokolade wat smelt op die tong. Salig!
As kind kon ek nie ’n kersvlam met rus laat nie. Onthou jy nog hoe ons ’n wysvinger deur die vlam getrek het, sonder om te brand. Verstommend. Die kerswas wat in drade teen die kers afloop, het darem so lekker gebrei en gerol. Nes die klei waarmee ons op ons leie gespeel het. Kyk nou net waar laat ’n kersvlam my gaan draai maak.
Hierdie vlam van die kers is baie soos die figuurlike vuur in die gesegde: as jy met vuur speel moet jy nie verbaas wees as jy brand nie. Nes ’n kind nie geglo het dat die kers se vlam tog uiteindelik ’n blaas kan veroorsaak nie, so glo mense tot vandag toe nie. Dis nou tot daai vlamme my lelik skroei en dan wil ek huil. Eintlik verdien ek mos die pyn, of hoe? Is daar ’n storie om te vertel van so ’n vuur-spelery, wat jy moedig genoeg of wys genoeg is om met ons te deel?
Is daar ’n soort vuur wat jou ook liries maak? Of vertel ons van daai een spesifieke vuur waar ’n storie in jou lewe geskep was. Vuur verleen homself ook tot ’n rilling wekkende spookstorie en ons het lanklaas spoke gejaag hier op ons WOES-te werf. Of selfs iets tragies soos die ‘Towering Inferno’ van ouds. Ha, ek is seker ons gaan binnekort ’n hele paar vuurwarm vertellings beleef.
Kry solank ’n natlappie gereed en ‘watch this space’!
Onthou asseblief om die woord "vuur" in jou budrae se titel te gebruik. Geniet dit!!!