Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kiekies laat nie op haar "wag" met hierdie week se tema nie ...


Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘Wag!’

Woordeboek definisies vir die woord ‘wag’:

-      Iemand wie se werk dit is om ’n plek of persoon op te pas en te beskerm.

-      Iemand wat moet verhoed dat gevangenis ontsnap.

-      Posisie inneem totdat iemand kom of iets gebeur.

-      Weerhou om iets te doen, uitstel tot later.

’n Baie groot deel van ons lewens bestaan uit wag. Vir die mens wat van sy derde jaar af, nét ’n halfuur per week moes wag, sal teen sy sewentigste lewensjaar meer as sewentig dae en sewentig nagte om gewag het.

’n Halfuur is baie min as ons mooi dink waar ons oral moet wag:

By die kassier in die supermark.

By elke rooi robot, stopstraat of waar ’n voetganger moet oorstap.

In die ry voor ’n bankkassier of konsultant.

Veral die vrouens wag lank in die ry by die toilette. Veral as dit by een of ander fees of skouterrein of teater is.

In ’n ry om deur ’n apteker gehelp te word.

In ’n dokter of tandarts se spreekkamer.

Op die sypaadjie by die voetgangers se oorgang.

In die kerk vir die bruid om te kom.

In die teater vir die fliek of optrede om te begin.

In ’n restaurant vir die kos om te kom.

In ’n ontvangslokaal voor jy vir ’n onderhoud geroep word.

Vir ’n antwoord nadat jy vir werk aansoek gedoen het.

Op die lughawe voor jy op die vliegtuig kan klim en dan weer in die vliegtuig voor daar uiteindelik opgestyg word en dan tot jy land en weer vir jou bagasie op die draai-band.

Vir die kos om gaar te word, die brood om klaar te bak en die tert om te set in die yskas.

Vir die bus, die trein of die taxi.

Vir SARS om die ‘aan u verskuldig’ bedrag in jou bankrekening te betaal.

Vir die uitslag van ’n eksamen of nog erger, ’n bloedtoets.

Min of meer nege maande vir elke baba om gebore te word.

In die lang tou om jou bestuurslisensie te hernu of ’n vir ’n nuwe paspoort aansoek te doen.

Baie keer raak al die gewag net te erg en as jy nie ’n wag voor mond het nie, kan jy dalk ding sê wat jou agter tralies laat beland, waar ’n wag jou dophou om te verhoed dat jy ontsnap. Daar sal jy verhoor af-wag-tend bly tot jy voor die regter verskyn om uit te vind hoe lank jy in ’n sel sal moet wag om vrygelaat te word.

Watter wag is vir jou die ergste? Wat neem jy waar, terwyl jy wag? Hoe verwyl jy die tyd terwyl jy wag? Vertel ons van ’n tyd wat jy moes wag.

Of van daai dinge wat jy laat wag deur uit te stel. Van uitstel kom afstel en later is jy teleurgestel. Hoeveel dinge wag al hoe lank om klaar te kom, hê?

Rym, vertel, gorrel of sing
Hoe hanteer jy die WAG-ding?
Ek het geleer: ‘Hy wat op die Here wag,
kry nuwe krag.’



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Volg net die Skoenlappers

deur Anria

Volg net die skoenlappers ... Binne jou hart is daar vrolike fladderende skoenlappers. Vir elke gevoel, ’n skoenlapper van ’n ander kleur. Wanneer jy gelukkig is, vlieg jou skoenlappers vrolik en vry rond net waar hulle wil wees. Hulle vlieg buite jou hart en reis die wêreld vol. Hulle bring vir jou geluk terug. Nou en dan ontmoet mens iemand wat jou skoenlappers vang en in ’n hok sit. Die helderkleurige skoenlappers vervaal dan ... hulle raak dof en vol stof en as jy nie self besluit om die hok se slot af te breek en jou skoenlappers weer los te laat nie, word hulle almal swart. Maar sodra die son weer ingelaat word, sodra ’n ligte windjie oor die swart skoenlappers waai ... sal die stof sommer self besluit om af te klim en jou skoenlappers se vlerke sal groot oop sprei en hulle sal weer die wêreld invlieg en jy ... dan sal jy weer weet hoe om te lag. Daar is altyd hoop.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar