Woes-Nuus

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hierdie week se tema vir Vandag in Woorde is eenvoudig net ‘WOORDE’. WOORDE wat mooi op die oor val en lekker van die die lippe afrol. WOORDE met musiek in die uitspraak of beelde in die letters. WOORDE waarvan jy hou. WOORDE wat jy graag sê. Nou goed dan, ook WOORDE wat jy verpes en helemaal vermy.

Dink nou maar aan kafoefel. Hierdie woord is een met beelde in sy letters, of hoe?
Dan is daar peuter. Kan jy sien hoe iemand vat en vroetel waar hy nie moet nie? Vroetel is ook so woord.

Ek dink ook aan pofadder en knormoer. Of selfs net knorrig. Nou dat ek daaraan dink, al drie hierdie WOORDE beskryf sekere mense wat ek ken.

Laat die woord boesem jou ook ’n warm gevoel om die hart voel? En net deur opelyf te sê, gee mos sommer ’n salige gevoel van verligting. Chiffon kom sag en glibberig deur jou lippe. Polemiek klink soos dit waarmee ’n politikus hom besig hou. Eintlik is dit.

Wat die oorsprong van ‘poenskop’ is weet ek g’n, maar lyk dit dan nie of iemand met so haarsnit, poense op sy kop het nie? En poedelnakend sê so lekker uit mens se kieste uit, al dink ek aan ’n lyf met krulletjies bedek, as ek van ’n poedel praat.
Verder klink ’n mens wat braak nie naastenby so siek soos ’n ou wat kots nie. En iets wat sterf, nie naastenby in soveel pyn as ’n ding wat vrek nie.

WOORDE wat ek nie kan verdra nie is vry en kêrel. Die een klink so vieslik soos die ander in my ore, maar ek glo dis as gevolg van beelde en herinneringe uit my verlede. Nee wag, ek hou baie meer van kafoefel! Het jy sulke gehate WOORDE?

Kom verduidelik vir ons in soveel WOORDE van al die WOORDE waarvan jy hou of wat jy verafsku.

Dan stel ek jou nou aan die WOORD.

Boland-groetnis
Kiekies.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar