Titel: Wenners! Dig kompetisie 2010
Weergawe: 1
Aantal woorde: 1525
Kere gelees: 937
Datum gepubliseer: 28 Mar 2010
Ek glo die kwaliteit van die inskrywings spreek vanself. Die mense wat al vir my gesê het dat Woes swakker Afrikaans verteenwoordig sal hulle woorde moet sluk. Ek dink as 'n skeppende gemeenskap kan julle soos een, breëbors staan as 'n bewys dat die taal deur gewone sprekers na nuwe hoogtes geneem kan word en dat Afrikaans op sy eie voete kan staan
Dankie aan almal wat ingeskryf het en ook gehelp het met die kompetisie. Soos ek eers later verneem het, is die prysgeld vir hierdie kompetisie nie te versmaai nie met 'n 1ste prys van R3000 kontant. Die 1ste prys is nog meer waarde gegee deur die naweek vir 2 in 'n 5 ster hotel in die Kaap met vlugte en vervoer ingesluit, geborg deur Travel Choice. Travel Choice sal van nou af elke jaar 'n prys borg vir die kompetisie. Hou die webwerf dop vir meer spesiale aanbiedinge deur Travel Choice.
WENNERS (1STE DRIE PLEKKE)
1 Ammiemoon
2 Erna Jo
3 Sonja brink
AANSPORINGPRYSE
4 Zadu
5 Sussa
HUMORKATEGORIE
Kirsten armandt
WYDSTE VERSKEIDENHEID ONDERWERPE
Jan D Roux
MOOISTE LIEFDESGEDIGTE
Patsy
Gedigte van Wenners
NB! Die gedig wat hier verskyn is nie noodwendig die "wen" gedig nie. Al die inskrywings van die skrywer is in aggeneem en as geheel beoordeel.
1 ste - Die rotsvalk se oorwinningsvlug - Ammiemoon
As jy met jou luimerende musk en
sandelwood aroma wat soos klam
dennenaalde en mos in die lug hang,
robuust agter my lyf inskuif om in my
sagte voue koesterplek te kry,
vul 'n vrede soos die vlug van swaels
na somer kontinente
my hele wese
Vou die akropolis van jou manwees
om die versteende drukskeure
van my hartswand se rotssykant,
om die pirokseen,graniet en erts
van my verlede
soos 'n steenvalk
in sy snawel weg te dra na sy nes.
Lees jy die petroglief en paddasteen
vervleg in my aorta
deur jou braille vingerpunte
oor die kontoere van my lyf.
Vind jou primitiewe oerdrang
wat soos 'n jong buffel
oor bar vlaktes dreun,
rus in die wolfluweel
van my sagklaende vroue figuur.
Maak ek my oop soos 'n saffierblou
hemelruim op 'n wolklose dag,
om jou te voed met my nektar
druppend soet,
vloeiend in my geslagsdrif
opgesluit
net vir jou.
Gee ek my oor in jou digtershande
wat minneverse oopskryf in die
donker dieptes van my verwese siel.
Wat my met jou heuningwoorde
laat verdwaal in die sprokie van
jou volslae troonafstand
in die betreding van my grondgebied.
Verdrink ons saam
in die eenword.....van wees.
2de - Brief aan Antjie Krog - Erna Jo
Antjie Krog, Begging To Be Black,
het jy gedink swart is die kleur van Afrika?
wat maak die kleur van jou omhulsel saak
as die siel in hierdie wilde kontinent
keer op keer deur streekskatarsis
kristalliseer en reënboë kaats
onder ons bitter bloubaardson.
híér, in dié Country of your Skull
waar ou geheime soos oerskedels
in die Cradle of Mankind diep verborge lê
het die hak van God getrap,
in Sy spoor eden gespruit
waar verleiding in voorkennis skuil
in nákennis as en berou
híér, in dié Country of your Skull
is die ruggraat van Afrika
op die mespunt van 'n assegaai gedraai
onskuld onverskrokke, ongenaakbaar
in werwels vasgevleg om die subtiele kurwes
van dié land saam te snoer, te buig
in vrede wat onrustig deur grasvlaktes roer
Antjie Krog, Begging To Be Black,
het jy gedink swart is die kleur van Afrika?
wat is swart anders as wees in kleur
terwyl haar kinders hul verlede
en hul toekoms kleurryk vul
en reënboogbrûe bou
want rouge is haar grond bevlek
deur ou gisters se bloed en nou
in vrugbaarheid ons wortels voed,
purper die geweld van soldaatvoetval
en hoëveldse donderbui,
wat tweestrydig dood en lewe gee,
groen die tak van die olyf,
wit die langbeen aronskelk -
vredesvlag in vleiland en moeras
ons is almal, Antjie Krog, geskakeer
kleurvol, kleurryk, kleurvas
kinders van Afrika
3de - Ode aan 'n gewone girl soos jy - Sonja Brink
Eintlik cope sy nie regtig nie
eintlik is sy fyngesnaard
eintlik rafel sy maklik uit
en hang haar sanity
aan 'n dun, dun draad
Eens op 'n tyd
was vroue soos sy
net aan die adel toevertrou
slegs per geleentheid afgeshow
van ontstellende issues weggehou
en alom as 'fyngeteeld' beskou
(helaas daardie era is vir altyd verby
) nou mission sy voort
en loop blindweg
where angels fear to tread
en almal sê
sy's amazing
en almal dink sy is sterk;
sy's ambisieus en selfgedrewe
en balanseer haar kinders en werk
sy's 'n charismatiese leier
en 'n toegewyde ma,
'n uit-die-boks-uit-lover
en jy hoor haar nooit ooit kla!
en die meeste girls doen presies dieselfde
maar hul wens hul was meer soos sy
want sy is intellegent en oopkop
en spiritueel - dog vry
maar eintlik cope sy nie regtig nie
en eintlik is sy, jy
1ste aansporingsprys - afstand - Zadu
as jy weer by my is,
wil ek my stem demp
soos tussen bome
jou oor my laat spoel,
soos wind oor koring
jou ritueel wees,
oud soos nagmaal
as ek weer by jou is,
wil ek in jou wegraak
soos 'n valk in 'n wolk
ek wil die verdonkering
in jou o? wees,
met my hande jou gesig omvou,
jou soos braille onthou
ek wil by jou wees
as jy Halleluja op jou fluit speel,
as jou donker in swart lawa oor jou spoel,
as branders goudrooi kreukel
wil ek om kerse met jou groei
en krimp, in 'n ander dimensie
teen mure
en in spieëls
***
my lief,
afstand is 'n bedelaar
'n diep dood
tot jy weer kom
skryf ek vir jou briewe
soos vir afwesige kinders
2de aansporingsprys - Noot vir noot - Sussa
Dans my 'n ramba
'n samba
'n rock-n-roll riel
mazurka en wals
dwarsdeur my siel
trap 'n twostep 'n tango
of cha-cha koebaai
op die maat van musiek
liriek en lawaai
harmonies en ritmies
so lekker verby
melodies en klankryk
my hart o! bevry
slaan die kitaarsnaar
of tokkel klavier
trap oop die orrel
dis pure plesier
doem-doem op die drom
en blaas op jou fluit
speel konsertina
kastanette
hobo en trompette
fluit 'n flenterversie
vrolik in die wind
rittel die rammelaar
wees bly soos 'n kind
holadriohoo met 'n didgeridoo
musiek is die hemel
se pad na my hart
Signorita, kom dans
jou Spaanse dans
tot diep in my lyf
dat ek jou 'n noot-vir-noot
versie vol dankies kan skryf
Bring nou 'n sjofar
die stadsmure val
daar's 'n lied in my hart
DIS AL
HUMORKATEGORIE - Van Venus of Mars? - Kirsten_Armandt
Ek moet altyd eers vra
Wie is van Venus
Wie is dit wat van Mars is
Onthou dan eers agterna
Daar is ’n astronomiese verskil
Byvoorbeeld die restaurantrekening
“Sit op jou bril”
Dan ’n henne-bespreking en verrekening
Mans vra die totaal
Met ’n naastenby noot sal elk betaal
Tip en drankies uit die heup ingesluit
Manne stry nooit oor dié besluit
By ’n afskeid van ’n kollega
Moes ek die pyn alleen dra
“Meisies ons rekeninge is apart gevra”
Restaurateur sê huiwerig ja
Dit is ’n gemaal en deel
Een dring aan sy` betaal vir ons gas
Nee myne was net huiswyn in ’n glas
Die footjie sal ons dames deel
Genade vrou
Almal kwetter gelyk Kelner wil vou
’n Gedempte gil: “Watse soda?
No no Get me your Indoena”
Rekeninge almal op mekaar
Konsulteer weer en weer
verifieer ouditeer konsolideer
kwantifiseer - kleingeldhopie voor haar
Nou vir ’n kwaliteitssirkel
’n Hoe was die diens werkswinkel
Sy Afrikaans was mooi in beheer
Kleingeld word op die ry af
na ’n kopknik alles in ’n bord omgekeer
My senuwees is op
Dié kollektebord word nou formeel oorhandig
Niemand vra darem weer die seën Sipo jou tip,
jy was top!
Fluister een: “Was ons nie dalk te oordadig?”
Toe ’n gesamentlike tab vir verder kuier...
WYDSTE VERSKEIDENHEID ONDERWERPE - KLEINSEUN - Jan D Roux
{vir Jaco}
? Ster se straal
het miljoene jare terug
met sy reis begin
en vanaand blinkwit
op die aard' verskyn.
Lengte : etlike sentimeters.
Massa :ongeveer drie kilogram.
Dat so ? klein ou ietsie
? siniese ou swaap
week kan maak;
hom weer op sy knieë dwing;
waar ? dik kors gesofistikeerdheid
breek; hom nederig voor die Skepper bring.
Op 15 Mei ? Vrydag
het hul jou koms aangekondig
en in diè na-naguur
terwyl ek na die hemel tuur,
is dit my helder wens
dat die wintersterre uit jou oë skyn
en mag die witter geskitter
in jou siel nooit verdwyn.
MOOISTE LIEFDESGEDIGTE - Geseël met klei - Patsy
Gee vir my
die ferm vat van jou hande
gee vir my
die bekendheid van jou arms
gee vir my
die koeltes van jou mond
gee vir my die wit duiwe
van die vrede in jou oë
sodat ek soos 'n kind weer
onvoorwaardelik in liefde kan glo
en laat jou ongeskonde siel
deur my vloei
sodat ons saam heel kan wees :
bring vir my elke dag jou liefde
in 'n mandjie
wat geseël is met klei
Lees ander Woes-nuus artikel deur Willem Woes
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die nuusstuk
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie nuusstuk
Lees soortgelyke Woes-nuus artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae

Woes-Nuus

deur DMJR
'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.