Hierdie is die langste gedig in Afrikaans - 8,828 woorde
Toe vat die Suid-Afrikaners hand
en dig die land aan die brand
Begin die Woes-digters ...
die woorde inspan:
(Meraai vannie baai)
Al is ons vêr verspreid
oor die hele aarde heen
het ons nou die kans
om saam hande te kan neem
(Carol Williams)
Afrikaans my kosbare taal
dis na jou wat ek elke dag smag
Jy vul my lewenspad met edelgesteentes
en jy vul soveel van my leemtes
Afrikaans Afrikaans jou oulike ding
saam met jou kan ek lekker sing
Jy het al so baie vreugde gebring
saam met jou stap ek al die pad
My liefde is onmeetbaar
en groei elke liewe dag
Ware liefde bring ek vir jou
wat vir ewig sal hou
(Tanja Marx)
Afrikaans is plesierig, dit kan jy glo.
Dit is holderstebolder onderstebo.
'n Mooi jong dame teen ander gemeet
En tog so verleidelik, dit moet jy weet.
Afrikaans is my meisie, soet in die mond.
Vars van jonkheid en pragtig gerond.
Pittig en prettig en propvol vernuf,
Teen haar ruik die ander tale maar muf!
(Fikkels)
Afrikaans my taal my trots
Vir jou sal ek aanhou baklei
Jy's my steunpilaar my rots
vir jou sing ek die Afrikaanse Stem
uit volle bors!
(Chanti)
Suid-Afrika, Suid-Afrika
Jou sonneskyn en sterreprag
Afrikaans gee aan elke mens
'n plekkie elke dag
(Alf)
Al word onse kinders ook Zoeloe geleer,
Engelse onderskrif op SABC geforseer
Sal ons vir jou veg, my lieflingtaal,
in onse harte sal jy altyd voortbestaan!
Solank as wat almal op Woes kan dig,
en Steve nog 'n wenkbrou of twee laat lig
Sal Afrikaners vir jou sing en skryf,
dis jou skoonheid wat ons daarheen dryf
(Magda Swart)
Geboortetaal, Skaamtetaal
In ons land was jy die woord,
Die daad, die skade
Wat ons laat struikel het
Boeretaal, Blanketaal
In ons harte was jy die trots,
Die septer, die mag
Wat ons laat verdoem het
Flentertaal, Oorbrugtaal
In ons hande was jy die maatstaf,
die weegskaal, die uitspraak
wat ons laat oordeel het
Ootmoedtaal, Vergewingstaal
In ons oorgang was jy die trane,
Die verwyte, die verlies
Wat ons laat bieg het
Skeppingstaal, Grootwordtaal
In ons fleur is jy die toekoms
Die hoop, die oorwinning
Wat ons laat seevier!
(Suzette)
En wees ons voetstuk weer ‘n keer,
terwyl ons na die mensdom reik:
Hulpeloos in wind en weer.
Help ons, maak hul pad gelyk
(Johan Fourie)
Die mens as skepsel in sy heerlikheid
Het 'n tong gekry met 'n onderskeid
En al praat ek die taal van wit of swart
Kom my Moedertaal tog maar uit my hart
Wie sou kon raai en wie sou kon sê
Wie ek eintlik is en wat ek wil hê
As ek nie in liplekker Afrikaans
My woorde op my tong laat dans
(BB)
Uit Hollands en ander tale gehaal,
Is Afrikaans ons eie Moedertaal.
Aan moedersknie het ons geleer:
'Asseblief' en 'dankie' en nog meer.
Die oggenstond het goud in die mond;
'n Haastige hond verbrand sy mond;
Ons grawe ou koeie uit die sloot
En op die water werp ons ons brood.
Afrikaans, ons is aan jou verknog,
Al pleeg ons ook teen jou bedrog,
Wanneer ons so 'oukei' en 'koebaai'
Maar ons sal nooit die rug op jou draai.
'Die Stem' sal altyd ons Volkslied bly,
Wat jou trane in jou oë laat kry
Afrikaners sing saam uit volle bors,
Moenie ons mooiste taal vermors
(Boerenooi)
Afrikaans ...
Jy is nie maar net nog 'n taal
jy is dan my moedertaal
dat jy dit sal word van vele mens
was, is en bly my grootste wens
Jy't nie die skrif van die Griek
of die Xhosa se kliek
selfs nie die styl van Sjinees
en die sis van Portugees
Vir baie is jy 'n skandaal
maar jy bly nogsteeds my taal
niks wat in my hart se kamers lê
kan ek nie in jou woorde sê
Jy't nie die Frans se nasaal
of die Russiese skaal
selfs nie die spelling van Pools
en die letters van Mongools
Jy is nie maar net nog 'n taal
jy is dan my Moedertaal
dat jy dit sal word van vele mens
was, is en bly my grootste wens
Kombuistaal, praattaal, skertstaal
nie lank gelee is jy gebore
sonder enige plan of fees
maar ek het jou gefaal, o babataal
vir my tong was jy nie beskore
my taal was Nederlands gewees
Gastetaal, skryftaal, skooltaal
nietemin het jy gegroei
en verder deur die land getrek
steeds het ek jou gefaal, o jongmenstaal
terwyl jy teen Engels stoei
en so jou vlerke wyer strek
Pragtaal, lieftaal, engeltaal
die land het vir jou te klein geword
en jy't oor grense heen gespoel
om my ook in te haal, o lieflingtaal
my hart met jou skoonheid te omgord
met 'n sagte, warm gevoel
Marktaal, landstaal, oorlogstaal
my mooie land het jy verwoes
en mense teen mekaar laat draai
nou't jy vir my gefaal, apartheidstaal
jou klanke laat my ore roes
soos jy jou doodsheid verder saai
Vredetaal, praattaal, lagtaal
jy het so pas die toets geslaag
met jou woorde van versoening
weer het jy my kom haal, o moedertaal
toe te sien dat geen mens dit waag
jou te werp in die verdoeming
Jou ouers het hulle uit Europa hier kom vestig
nie omdat hulle hier wou woon nie
maar slegs om ‘n halfwegstasie te kom stig
vir die Oos-Indiese- Kompanjie
Hulle het egter soveel van die land gehou
en al die dieresoorte wat hier lewe
dat hulle besluit het om ‘n toekoms te bou
en hul al dieper binneland in te begewe
In die proses is jy uit die Afrikastof gebore
en spoedig was jy baie mense se lieflingkind
daar was wel diegene wie jou graag wou versmore
maar ‘n mens kan jou weldra orals vind
Jy het vinnig gegroei tot ‘n volwaardige taal
wat jou nie net self verryk met vreemde woorde
selfs vreemde tale kom woorde by jou haal
en oorsee hoor mens reeds jou klanke se akkoorde
Vandag is dit egter ‘n heel ander storie
want oral probeer hulle jou uit te forseer
hulle reken dis nou tyd vir die einde van jou glorie
en werk hard daaraan om jou gebruik te keer
Afrikaans, jy is regtig in gevaar
geen wet op die wetboek kan my van jou weerhou
want ek sal jou altyd in my hart bewaar
en voortgaan om jou woordeskat uit te bou
(Louis Basson)
Vir ons is Afrikaans
die mooiste taal,
'n Skatkis vol woorde
om daaruit te haal.
Met een woord draai ons
'n skroef lekker vas,
Vir 'n dreigement
is dié woord ook gepas!
Een woord beskryf reënval
in Namakwaland
Asook hoeveel geld
ons het in die bank!
Die oggendstof het goud in die mond
Die son en die maan
is glo koeëlrond ....
In Hooglied is skoonheid rooi granate;
Lekker eet, laat bars ons uit ons nate!
Afrikaans, ons het jou regtig lief
Jy is ons Boere se hartedief
Met jou kan ons na die toekoms streef
Met jou kan ons pret én hartseer beleef
(Boerenooi)
Afrikaans, Afrikaans jou liewe ding,
dis jy wat my in die stort laat sing,
jy wat saggies my hand kom vat
en saam met my die paadjie stap
Vir jou sal ek sing uit volle bors,
en hulde bring met pap en wors,
want nêrens is ‘n taal so mooi,
vloekwoorde verkleur gesigte rooi
Beskrywende woorde vou jou toe,
werkwoorde flik-flooi vir ‘n lekker soen,
metafore en vergelykings bind die teks,
byvoeglike naamwoorde herroep jou eks
Afrikaans, Afrikaans, jou lawwe ding,
dis jy wat ons so styf saam bind,
jy wat in ons harte kruip,
en ons in jou sjarme versuip
(Magda Swart)
Engels, Hollands, Duits en Frans
staan in hierdie land geen kans
Waar sal jy 'n taal nog vind
wat so soet is op die tong se punt?
Toe die Hollanders die land inloop
van Drommedaris, Rijger en Goede Hoop
het hul waarskynlik op die strand
die eerste Afrikaans geplant.
Daardie saadjie het gegroei,
Gerank, gestoel, gebot, gebloei
En toe op die regte tyd
Saad geskiet. En voortgespruit
(Fikkels)
Van my eerste lewenslig
het jy my hart vasgehou
Jy was altyd daar
Ons is die perfekte paar
Jy is my sonneblom
Afrikaans jy is my groot liefde
En vir jou gee ek om
is altyd getrou en nooit flou
My taal ek wil jou
vir altyd hier by my hou
jou snoesig toemaak
met my liefdeskombers
Jou woorde is vir my
soos 'n kosbare skat
en ek gaan dit vir ewig
bewaar in my hart!
(Tanja Marx)
O, Moedertaal, geboortetaal
jou het ek lief bo alles
My Afrikaanse bloed bepaal
dat ek oor jou so mal is!
Ek vra my pa so ewe hoekom
dit "Moedertaal" is en hy brom
dit maak nie saak wat Pa's wil hê
Ma's het mos eenmaal die laaste sê!
(BB)
So is jy dan vir ons die taal
van kleuter-tyd geleer,
en kon Pa's al brommend
ook 'n skewe antwoord gee!
(Meraai vannie baai)
In Afrikaans kan ons vertel
Van sprokies lank gelede ...
karaktertjies uit vergange se dae
Voor die kassie was ons vasgenael!
Heidi se kenwysie …
deur oud en jonk geneurie
Peter en die bokkies …
Gesmelte kaas op broodjies!
Haas Das se nuuskas …
waar almal om ses vergaar!
Knersus en die waslyn vol tande
Karel Kraai en sy kitaar!
Wielie Walie en die bytjies
Die blommetjies wat roep:
Bennie sal jy ‘n storie bring?
Waar is dan die ou se bril?
Sarel Seemonster …
Altoos deur, die pot mis gesit!
Hard probeer …
tog só swaar geleer
Groenie die Drakie …
Droom om brandweerman te wees
Ongelukkig vlammetjies gespoeg,
En álles aan die brand gesteek!
(Meraai vannie baai)
Ek onthou nog goed vir Sus en Daan,
Vir Huppelkind, en so aan
Ek dink soms nog aan Rakkertjie Rob,
die pikkewyntjie met die mussie op.
Ons moet ook nie Van Hunks vergeet
En wie sal nie van Trompie weet?
Saartjie en Patrys-hulle sou
by enige held kon kers vashou.
Hestertjie Haarnaald se reis per trein,
Nie na Pretoria, maar Modderfontein
Later het ook Kosie en Kwak
hulself in ons geskiedenis kom plak.
(Fikkels)
Klaasvakie het kom kuier by my
Hy sê dinge is deurmekaar in droomland
Skapies tel gaan glo nie help nie
Hulle staan en wei
Die man in die maan
Kuier op 'n ander planeet.
Waar …?
Net hy sal weet!
Die tandemuis glo hy is baas
Kersvader is die jaar laat
Almal in feëtjieland
is daaroor aan die praat!
Almal is bang..
Vir Oom Tokkelos
Almal is bang …
Vir Oom Krokkedil
Kyk mooi....kyk mooi
Daar in die bos
Daar is al die aaklige goed
Wat kleine mensies laat gril
(Chanti)
Ou Aspoestertjie jy
is maar 'n droë oestertjie
teenoor my lieflingtaal
wat ek elke dag koester
Die wolwe in ons lewe
word al hoe woester
maar my held Afrikaans
is so sterk soos staal!
Die Drie Beertjies
se hartjies is vol sonlig
hulle lag en sing uitbundig
en is so verlig
Afrikaans word elke dag
saam hul pap bedien
en nou kry hulle verhaal
sommer tien uit tien
(Tanja Marx)
Kul jou hier ...
Kul jou daar ...
Engels is die rooi gevaar
Kry jou khakis reg, ou swaer.
Tikkel, tokkel ...
Dis nou mooi ...
Rooikappie was n Boerenooi
Nou's sy en Houtkapper innie kooi!
Oepse daisy!
Vat hom vas!
Klaasvakie vat
so aan my bas!
Koekmakranka
Kyk daai beer!
Goue Lokkies soen hom weer
Blondines het ook g'n verweer!
Haai oe, blommie
Dis mos bollie ...
Heksie ry op n Hoover rond
Sit -sit so, vat sy net-net grond!
(Suzette Fouche)
En die tandmuis kom ...
met sy stert so krom ...
en hy lag hom amper vrek
vir die kind, met die groot haasbek
(Alf)
En so dig Woes se span in Afrikaans
van lekker laf tot diep uit die hart
Selfs die grootste vreug
of diepste smart …
(Meraai vannie baai)
Oor dinge in die hart en siel verberg,
wat soms nie baie moeite verg,
om af en toe met ‘n vriend te deel,
en heg dan ook ‘n band te seel.
Want so is die denke van die Afrikaanse volk:
‘n Onbreekbare enigma aan die leke tolk.
Dis waarom ons nou saamstaan om die wêreld te wys,
wát daar in ons onontblote harte verrys…
Vir ‘n jong Afrikaanse verliefde man,
is daar niks so lekker soos kys.
‘n Meisie aan die arm, om te wys hy kan
sy liefde ook onvoorwaardelik bewys.
‘n Jong Afrikaanse dame is ook,
lief om bederf en vertroetel te word.
Maar een ding wat altyd by haar sal spook,
Is: “Wat as die ware liefde dan skort?”
Ervare Afrikaanse mans is weer,
die ware wysheid vanself, verstaan?
Die beste om hul wysheid egter aan te leer,
Is as hul met ‘n “dóppie” nader staan.
Evare dames –want ons maggie sê “oud”,
is ware dames in murg en been.
In die wel en weë, is hul goed gesout,
en ons bid dat Die Vader ons moeders seën.
So is die denke van die Afrikaanse mens:
Net soos ook ál die ander mense sin is.
Ons bid ook, huil ook, en ons wens,
Dat daar ‘n plekkie in die son, vir ons ook is
(Johan Fourie)
Ons kan huil, grap en lag
maar as die helder son sak en verdwyn
in die diepe donker van die nag
swerf ons gedagtes wyd en vry
Ons gedagtes gaan en vergaan
Terselfdertyd hier, dan daar…
Dis die wese van ons bestaan
In die diepe, donker kring
Aorta, slagaar, die lewensbloed
van ons verlede, ons mense en taal
vegtend teen n oormag - n destruktiewe stormvloed
kulmineer kumulatief in loopgrawe van erosie
Fondament, middelpunt, basis
is ons land van nering en geboorte,
die absolute sentrale aksis
waarom ons lewens tol en draai
Ritme, realiteit en reaksie
ons gewortelde, daaglikse verweer
met min tyd vir stilswye, kontemplasie
en die luukse behoefte van vergeet
Innuendo, interaksie …. kontempleer
wat relatief, subjektief en selfs objektief
in, om en rondom ons manifesteer,
so getuig ieder oog bloeiend skarlakenrooi
Karsinoom, konvulsie, n konvekse beeld
van ons nasie in eie gekraakte spieël,
versprei ligstrale en emosies verdeeld
in verlede, gister en steeds vandag
Affek, emosie en onbedekte gevoel
berge, strome, riviere, strande,
letters en woorde hartstogtelik bedoel
n evolusie vir antieke Afrikanerdom
Altyd, alom, ewig en altoos
sny lemme skerp en krys krete kras;
soms lê nuanses donker en moedeloos
vretend, snyend, bytend aan elke Afrikaner siel
Norme, noodweer en die Nou –
ons ryping om te kan waardeer
verlede, hede en alle onthou
van wie ons was, is en dan waarheen
Stryd, sorgeloosheid en strategie
is in ons lewens en woordeskat ingeburger;
dis realiteit en geen banale fantasie,
soekend, smagtend, sal ons wel antwoorde vind….
Soek, soek, soek en jy sal vind
waarna jy uit jou hart uit smag,
my kosbare, tasbare weerlose kind
want so bly jy mens, my eerbare land…
Oorlogskind, weeshuiskind, straat-se-kind
Wat opstaan elke liewe dag
En alles in jou siel veilig verbind
Vir môre se geslag om nie te verbrou
Maar elke detail fyn-fyn te onthou
Vas te plak en nooit te vergeet –
‘n Helder toekoms op te probeer bou
Uit ‘n donker, duistere, vreemde verlede
Want die verlede is nie rotsvas nie
Woorde en dade sal stelselmatig vergaan
Niks bly ooit dieselfde nie;
Liewe kind, mag jy eendag verstaan…
(Carol Williams)
Jou woorde gee my lewe soveel betekenis
en saam met jou het ek my ware self gevind
Jou liefde vir jou kinders is onvoorwaardelik
en daarvoor wil ek jou diep uit my hart bedank!
In tye van voorspoed en in tye van storms
is jy altyd daar soos 'n getroue skaduwee
Jy vervang my trane met mooi goue pêrels
en los gelukspakkies orals op my lewenspad!
Afrikaans jy gee my vlerke om te vlieg
daar hoog en vry in die warm Afrika son
Saam met jou sweef ek soos 'n arend
want jy is die wind onder my vlerke
(Tanja Marx)
Jou heuningpot-mond drup
letters van jou woorde
tot in die binnekamers
van my Godvrugtige siel
Mag die vuur van ons liefde
nooit tot as verbrand
die naaktheid van ons harte
'n ewigheid aantrek
Mag ons nimmer
uit ons droom
ontwaak
(Theresa Lombaard)
Tussen ‘n duisend gisters van my lewe
En die baie môres wat voorlê
Bly ek altyd soekend
Tussen ‘n magdom mense
En ‘n see van gesigte
Bly ek steeds soek
Ek soek jou gesig tussen die magdom
Nou moet ek saam leef
Met my besluite
My keuses in die lewe
Dit laat my innerlik bewe
Gister was jy vergete
Vandag sukkel ek om jou te vergewe
Hoe kon jy dan anders?
Jou stem weergalm teen die branders
Aanhouer wen leer ek by my ouers
Breek weg fluister die duiwel op my skouer
Hoe kan ek dan anders?
Woes in my breek die branders
Wie sal my tog verstaan?
My lewe voor my uitgestrek
Here U het dit reeds uitgewerk
Is ek besig om te vergaan?
(Martie Papenfus)
My Moedertaal ek het jou lief
Stel ek gerus of lug 'n grief
het jy 'n woordjie byderhand
Gepas vir volk en Vaderland
Jy is al so deel van my -
Daagsliks stap ons sy aan sy
Op sleutelbord, deur notaboek
'n Woord het jy op my versoek
'n Smeekgebed, om hulp in nood
Woordjies van troos, met die dood
Altyd gewillig om hulp te verleen
Verskaf jy woorde aan elkeen
Wiegeliedjies, kleuterrympies
skoolsport krete, hartsgeheimpies -
Altoos is jy teenwoordig hier
Vir almal liefde, prêt en plesier
(Boerenooi)
Nootvas, gatvas duidelik in 'n ander klas
Koersvas soos 'n kompas, arm man se sakpas
Kom uit die kas. Maak 'n las
Druk dit teen jou hart vas
Stofdroog, waterplas
Blikbeker of kristalglas
Spierwit, pikswart, groen soos gras
Als word met my taal skoongewas.
(Fikkels)
Afrikaans my rots my krag
Jou ink vloei in my are
My liefde vir my taal is al waarna ek smag
Afrikaans…Suid Afrika se verlede...bly lewe
Vir gister vir môre, vir dekade na dekade
Niemand sal die stemmetjie in my kan stil maak
Wat is ek sonder my taal?
Wat is ek sonder my Afrikaanse voorvaders wat oor my waak?
Sonder my taal is my wêreld koud en kaal
God kyk na Suid Afrika …
God kyk na sy mense …
God kyk na elkeen se wense
Suid Afrika my rots my krag!
Laat Afrikaans lewe vir ewig en ‘n dag!
(Chanti)
Dankie vir my taal waarin
Ek my saak kan stel
Vir letters en grepe
Komma’s en punte
Dankie vir die uitering
Van my diepste wese
Vir die neerlê en neersit
Van woorde en klanke op papier
Dankie dat ek dit nie binne hoef te hou
Maar dat ek dit sagkens
En soms kragtig
Kan neerlê op papier
Dankie dat ek my taal kan troetel
En so ook my taal vir my
Want wat is ek sonder woorde
Anders as ‘n stomme siel vasgekelder
‘n Moeder sonder woorde sonder taal.
(Dina Dink)
Diep uit my hart kom herinnering skoon
Van ‘n land só kleurvol, met n reënboogkroon
‘n Land van trane en ‘n land van bloed
Ten spyte van geweld, glo ons in God en hou ons moed!
Baie gee pad vir ewig en groet!
Ons “hul ouers” bly agter met ‘n peins-gemoed
Suid Afrika se vlag só deurdrenk met bloed
Hier sterf mense elke dag, “gemartel in koelen bloed!”
Hier wil ons woon, hier wil ons werk,
Want hier is ons Skole en ons Kerk
Hier sal ons hande vat, groei en gedý
Hierdie “Suid-Afrika” van jou en van my!
Afrikaners vol van hoop
In ‘n land duur met bloed gekoop
Bereid om kaalvoet oor die Drakensberg te loop!
Dié taal so wit in moedersmelk gedoop
Op Moedersknie is ons geleer
Afrikaans suiwer te hou en met trots te eer
By ons skole gewapper die Suid Afrikaanse vlag
Word nou afgebreek en deur ander verag
Al is dié “Afrikaner” op sy knieë gedwing
Sal ons nog in Afrikaans ons “Volkslied” sing
Al word ons deur “regstellende aksie” verag
Praat ons Afrikaans, bly ons trots en bly ons lag
Mag ons waardeer dit wat ons ontvang
Gelowig bly, al draai ons die ander wang
God het ‘n doel met ons in hierdie land
God sal ons lei en vashou, in die holte van Sy Hand
(Christal)
Toegevou en gekoester in my geloof
kan ek in my eie taal:
die naam van die Heer verhoog,
sonder vrees opstaan teen verraad
Geklee’ met jou kom ons saans bymekaar
'n Rots en anker deur die jare
Om die Woord geskaar,
vertroos en bemoedig ons mekaar
Oor berg en dal ...
oor vallei en heuwel ...
saam met die kreun van ossewaens
was jy, aan die sy, van my voorvaders.
Met jou borrelend op die tong
van menige raadslede
was daar probleme na vore gebring
verskille opgelos in vrede
Verstewig en versterk met goue drade
kronkel die pad wat jy moes stap
geweef deur meesterhande,
my geliefde taal ...só gepas.
(Meraai vannie baai)
n Lewensaar loop deur my land
ook deur die rooi Kalaharisand
Daar waar die son kan stukkend brand
aan die Noord-Westekant
Soms lyk die veld soos ‘n woestyn
Soms lyk dit soos ‘n blommetuin
as die son lag oor die aarde skyn
kom proe die nektar van die soetste wyn
Die oranjegeel laatmiddagson
is sekerlik die grootste bron
vir die kunstenaar, kwas en palet
en ‘n krakende windpomp-siloeët
Die Witgatboom en Kameeldoring
wat bo die wuiwende gras uittoring
Wat niks ontvang, net ryklik gee
aan kos, beskerming en skaduwee
Die Oranje wat soms maal en woed
en alles meesleur in ‘n vloed
Sal ons ook andermaal vergoed
as vrugte soet, ons liggaam voed
My land van kontras, groot en wyd
nederig in sy majesteit
Vrygewig in barmhartigheid
Hier wil ek my lewe sluit
(Fikkels)
Suid Afrika, O Sonskyn land
Van hier tot in die Boesmanland
Verby die Langebaan se rant
Dan weer terug na Gatland kant
Pomp en bruis jy deur my are
Waai jou wind deur my los hare
Blaas jy asem deur die kitaar se snare
Leef jy in my trotse hart as’t ware
(Magda Swart)
Rooi bloei die siel
Van die sakkende son
Op die braaiwarm- sand
Van die Kgalagadi vlaktes
Goud skyn die oë
Van die boomklimmer- jakkels
Soos hy skuil op die jag
Na die graatjiestert- meerkat
Blou gloei die lug
Bo die sterwende rotse
Waar die dood lê en wag
In die speëlbeeld op die pad
Sus is die land
Aan ons verste grens
Waar die Hoodia eters
Die skadu’s omtel
(Suzette Fouche)
Ek wil graag ‘n gedig oor Suid Afrika skryf
Maar hoe beperk ‘n mens ‘n land so uiters divers
tot die lyne van ‘n digvers
Van die welige lowergroen plante van Noord-Natal
tot die rooi sand van die dorre Kalahari Woestynland
Van die skaapplase van die Groot Karoo
tot die saailande en vrugteboorde van die Boland
Vind mens soveel verskillende nasies
elk met sy eie pragtige taal
Maar al die verskillende kulture
is juis die hoeksteen van hierdie verhaal
Van die dae toe die San oor die vlaktes geloop het
tot die Xhosa vandag die land regeer
het so baie dinge gebeur
dat ons slegs kan sê: “Baie dankie Heer”
Want daar was vrede en daar was oorloë
Daar was apartheid en daar was samesyn
Maar vir my bly Suid Afrika steeds die land van my drome
En daarop klink ek graag ‘n glasie wyn
(Louis Basson)
Liefste land van my
jy maak my vry …
van Oos na Wes bly jy bes
Jou prag en praal en so die
vermenging van jou taal
van streek tot streek is iets
waarvan almal moet weet
Wanneer ek toer is daar iets
wat hier diep binne roer
wat meer wil ek hê
as om dit in my taal te kan sê
(Dina Dink)
In Gauteng gebore en getoë,
Soek ek ‘n blaaskans in Limpopo
Al met die Pietersburg “highway”
Is die pad wat ek na Warmbad ry
Is dit nou Bela-Bela of Warmbad?
Die vreemde name maak ‘n mens sat!
Diere en voëls, bosse en bome,
Bosveld-landskap, mooier as drome
Soel someraande om die kampvuur –
Geen stadsgeraas om te verduur
Hier skitter die maan en sterre,
Die heel helderste by verre!
Smorens durf ons die snelweë aan
Vroegdag, in die skyn van die maan
Buffer aan buffer, kruie ons voort –
Toer ons daagliks van Suid na Noord
Die luggie koud, tog verfrissend
Sterretjies skitter met ‘n silwer tint
Pare ligte in elle lange toue
Voetgangers in jasse teen die koue
Wolkekrabbers raak al hoe meer sigbaar
Bekende logo’s sien ‘n mens daar
Imposante geboue, meesterlike argitektuur –
Ruggraat van ons ekonomie, dis alles hier
Sandton, besigheidsmekka van ons land
Met bekoring van sy eie, bring hy sy kant
Met hemelhoë geboue, troon hy trots –
Menigte maatskappy se hulp en rots
(Boerenooi)
Hier in die stadsverkeer
sukkel ons al hoe meer
want die straatverkopertjies
met al hul ‘goetertjies’
wil net aanhou inprop,
waar jy ook al stop!
Ook op Margate se strande
net waar jy loop,
is stalletjies opgerig
waar jy al’s kan koop
amper van ‘n Olifant
tot ‘n denim knoop!
Hier op die Hoëveld
is almal ongesteld
want die besoedelde lug
laat almal kug – woes!
Want die sinusse is opgeblok
en word jy wakker van hoes!
(Alf)
Koolstofmonoksied - koolstofdioksied
Omhul deur glas en staal
Sit ons en party praat in ander taal
So snel ons voort teen nul kilometer per uur
Op pad na die groot Stad en sy kultuur
Koolstofmonoksied – koolstofdioksied
Omhul deur glas en staal
Een hou tyd op klassieke musiek
Die ander een - so boos soos tien
Op pad na die groot Stad
Dit is al tien oor tien!
Koolstofmonoksied – koolstofdioksied
Omhul deur glas en staal
In lang rye kruie ons voort
Terwyl taxi’s verby ons blits
Sypaadjie of te ‘not’ - so ry sy soort!
Koolstofmonoksied – koolstofdioksied
Omhul deur kantoor geskarrel
Voel jy jou verstand is in ‘n dwarrel
Te veel gas van verkeer -
Ons het geen verweer!
(Jan Anderland)
Al ry die boere sit-sit so
Al stamp die taxi’s saggies verby
Weet ek Suid Afrika is die enigste plek
Vir jou … en vir my
Ry ek deur die Bosveld
Besluit ek sommer gou-gou
Hierdie prentjie .. ons land …
Is baie meer werd as geld
Ons Suid Afrika … ons land …
Ons waaraan ons môre’s op bou
Roei ek met my bootjie op die Vaaldam
Sien ek hoe die sonsondergang
Die lug inkleur …
Skielik in my hart besef ek
Suid Afrika is ‘n land wat KAN!
Die land wat die res van die wêreld
Met sy kultuur geur!
(Chanti)
So ry ons al met die Witbank N4
Die pad na Nelspruit en Witrivier
Deur die tonnel by Waterval Boven
Pragtige natuurskkon, lieven loven!
Ons kruip langs ‘ou Joe’ se berg op
Terwyl bome en bosse verby gallop
Asemrowende uitsig tuimel na benede –
Ons voel so dankbaar, diep tevrede
Padstalle met eetgoed te kus en te keur –
Advokadopere, lemoene en wat meer
Van marmalade tot Macademia neut
Vir elke smaak, iets om te eet
Mpumalanga, ‘plek waar die son ondergaan’
Mag jou skoonheid nooit ooit vergaan
Vir ewig en altyd wil ons die weelde geniet
Wat jou unieke omgewing vir ons bied
(Boerenooi)
Het jy al getoer deur die Provinsie Noord-Wes
Hier waar die Magaliesberge uit troon?
Hier kry jy die Maroela en Kiepersol,
Die Moepel en die Drolpeerboom
Het jy uit jou motor geklim, gestap tot bo-op
Die Magaliesberg se kruin?
Die prag beleef van die Bloukopkoggelmander
Die Eekhorinkies en ons spesiale Aalwyn?
Ons noem hom die Peglerae,
As jy so gelukkig is om hom in blom te kry
Sal jy hom nooit vergeet, in geel-oranje en rooi
Geklee in die kleure van die son onbeskryfbaar mooi!
Klippe opmekaar gestapel
Waar die Witkruis Arend ook woon
God het die Peglerae hier geplant
Dat dit in “Sy Tuin” kan troon.
(Christal)
Flenterpaaie
Koud en kil
Stukkende stiltes
Waar groot mans gil
Losiesgeboue
Vrot en vuil
Oorvol oggende
Waar vrouens huil
Dwelmstrate
Bloeiend bang
Soekende seuntjies
Wat net brood verlang
Hillbrow-kinders
Dronk op gom
Druipstert dogters
As vrouens vermom!
(Suzette Fouche)
Soos ‘n vroeg verwelkte blom
Knak die koppies skaam -
En staar hul stom na die grond
Geen toekomsdrome – verlore onskuld
Skielik voel ek só dankbaar
Vir elke óngeskonde blom -
Die hoop sal nooit beskaam!
Daar is nog soveel vreug verborg!
(Meraai vannie baai)
Klaar gestort en opgetof
Is ek gereed vir nog ‘n skof
Sonnetjie kom oranjerooi uit
Druppels ry gly-plank teen die ruit
Koel oggendluggie tintel my vel
Hoe kan ek my tog verder kwel?
Oor wêreldsgoed, geld of skuld
Ek voel dan so totaal vervuld!
Dankbaar om te sien, te hoor
Voel en ervaar vir my beskoor –
Vir elke sintuig dank ek Hom
Wat telkens tot my redding kom
(Boerenooi)
Sintuiglik- begaafd
is ons as mens
en ontvang onophoudelik
daaglikse brood sonder grens
Hoor, hoor , hoor
en probeer luister
na die voëls wat kwetter,
winde wat speel-speel fluister
Sien, sien, sien
en kyk om jou rond
na blomme, diere, woude;
na kleure – helder en bont
Voel, voel voel
die barbaarse wildheid van ‘n boom se bas,
sak sak weg in ‘n donskombers
en streel, streel … laat jou vingers tas …
Proe, proe, proe
elke dag iets nuuts, vreemd en vars
en laat jou tande banaal
deur die vars, klam skil bars
Ruik, ruik, ruik
‘n spesiale plek, blom … mens
En in die heelal
Sweef jou hart se argewens …
(Carol Williams)
Dis die dag wat breek
En die reis wat my opgewek maak
Dis die son wat steek
Die blommeprag waaraan ek kan raak
Die reis is verby
Vir almal, ook vir my
Het die mooiste geel blomme
Op die aarde gesien
(Alf)
My hart tiekiedraai uitbundig
Tussen geel sonneblomme
Ligvoets dans ek deur velde
Oneindige vreugde in my hand
Ek lag sonder enige sorge
Die verlede is vêr agter my
Ek wil van nou af voluit lewe
En elke kosbare oomblik benut
(Tanja Marx)
Leeg sou my bestaan dan wees
Met geen gedig om van te lees
Sonder skryf van ons mooi taal
Was my lewe maar bra vaal
Eensaam sou die langpad wees
Sonder musiek om aan te fees
Kilo’s wat verby my vlieg
Laat my aan die spoedgrens lieg
Dood sou die partytjie wees
Sonder ‘n dansvloer blink gesmeer
Daar waar ons die heel aand dans
Sal ons ‘rave’of sal ons wals?
Trots sou al die winkels wees
Veral die wat my so mooi kan klee
‘n Trooster op enige dag
Laat my sommer weer breed glimlag
‘n Paar opkikkers in my bestaan
Wat my help die weg oopbaan
Ligpuntjies vir ‘n stresvolle mens
Om van te eet uit ‘n propvolle spens
(Magda Swart)
My taal is my huis
Waarna ek terugkeer
Wanneer angs of vreugde my beetpak
En die kamers vul met soete klank!
My taal is my rots
Wat my regop hou in die stryd van letters
Wat soms saambundel tot ‘n kakofonie!
My taal is my kuns
Waar my gedagtes vorm vind
Woorde wat vloei vanuit my moeder se ‘Monday’
Van kleins af my lewe beskilder!
My taal is my gemeenskap
Met God -
Wanneer ek in gebed neersak:
Verwoord dié taal my diepste nood!
My taal is my simfonie
Waarin ek my geliefde kan vereer
En die lewe besing …
My taal is Afrikaans!
(Carien Vorster)
Hondesnoet-stappies
In die vroeë more
Met die dou op my tone
En die wolke in my oë
Katspin-streke
In die middernag
Met die kussing op my kop
En die donkerte wat lag
Gansveer manewales
In die skemer lig
Langnek draaie
Wat my hard laat sug
Klein-diertjie liefde
Deel van my huis
Neem oor my slaapkamer
Swaai septer in my kombuis
(Suzette Fouche)
As ons op die trap sit saans
en ek my lot by hom bekla,
verstaan my hond nét Afrikaans
en help my sorge dra
Haa en Hie, is nie Engels nie
wat net weereens bewys …
Donkies is ook deel van dié
wat Afrikaans wil prys
Ag kom tog nou, wees ernstig
Alle grappies op ‘n stok
Jy kan jou ore nêrens rig
om iets mooier te ontlok
Ek het ‘n klompie jaar gelee’
langs Engelse gebly,
en my taal is die een waarmee
hul die lekkerste baklei
In my taal kan ek lekker sê
Dat almal kan verstaan
Als wat so swaar in my hart lê
Selfs woede, liefde en so aan
(Fikkels)
Liefde, vreugde …smart of leed
Alles saam maak my lewe
Vandag is ons hier …
Môre word ‘n soete herrinering
‘n Traan wat rol …ongemerk afgevee
Die nag kruip stilweg nader -
Bring saam met hom die lang bang ure
van onthou - die goed en die kwaad!
Gebreekte harte agter geslote deure
Uitroepe na nuwe begin!
Onvervulde wense en die bang vrese
Onuitgespreekte vrae - wát bly dan vir ons oor?
Naklank van ‘n duisend stukkies glas wat val
Versplinter deur die hart se winter
Tog is alles nie net tot niet!
Buite wink die lente reeds, en roep ons saggies:
Kom – kom dan nou
Daar is núwe lewe!
Begrawe die ou-ou verlede!
Sien jy die glinstering in die vertes?
‘n Vuur wat brand met die gloed van die son
‘n Nuwe dag breek dan weereens vir ons aan
Bring met hom saam die vlaag van blye hoop
Van weér begin met bórrelende lewenslus!
Nuwe vreugdes - nuwe herrineringe!
Lag en hoop - pyn en verlange;
Dié sal weer daar wees, vir jou én vir my
Maar, dit alles saam, maak ons lewe!
Stap ek nou met vaste tred weer voort
Die laning van Sipresse, agter my gelaat
Voor my, strek die Jakaranda’s
Vol in blom – met verruklike kleur getooi!
Die lewe is weereens belowend mooi …
En verskaf aan jou en my, sóveel vreug!
Borrelende blydskap en laat trane verdroog
Die waarom’s en hoekom’s maak nie saak
Want vandag het ek weer nuut geword!
My gees is bevry
Dit is weereens bewys …
Vir baie ure lank bepeins!
Die toekoms strek voor ons uit!
Vrede en voorspoed -
Vir die nuwe generasie
Vat ons saam die hand met vreug!
Bou ons saam – ek en jy
aan ons kosbare taal
en ons eie, Suid-Afrikaanse kultuur!
Baie het gestreef om ons van dit, te ontneem
Vakansie dae is weggeneem en ontsien
Ander in hul plek geplaas wat vir ons
as Christen geen sinvolle betekenis kan dra!
God’s verbond tot niet verklaar
Hoe kán ons dan dit verduur
Is dit dan nie al eeue lank eie aan ons kultuur?
Kom ons reik weer uit na mekaar
Gun jou naaste die son se skyn
Laat ons feesvier en jubelend
ons taal beskerm teen verdoeming
Ons kán weer versoen …
Ek en jy, saám soos een -
Afrikaners in múrg en been -
Ons taal verskaf aan ons, die vreug!
(Meraai vannie baai)
As die son se strale wegsink
sit ek so en dink:
Watter wonderlike kleur
van die oranje-rooi
wat die hemel tooi!
Om ons as mens op te beur
Dis so gemaak deur onse Heer
Dis net Hy, wat alles kan beheer
Viooltjies, viooltjies!
So baie om van te kies
Dis ‘n geel enetjie hier en ‘n perse daar
Ag - sit sommer algar bymekaar
Dit is tog te mooi!
Asof geverf in rooi!
Kyk na die blomme prag
Dat alles leef, elke dag!
(Alf)
Met geboorte word ons welkom geheet
deur die gekoer van Ma’s en Pa’s.
Ooms en Tannie’s –
Oupa’s en Ouma’s
Soos ons met die jare ouer word
Het die gekoer afgeneem –
Het ons die lewe waargeneem
En ervaar in volle glorie
Die lief en leed van menswees
Kinderskoene is ontgroei
Jongmens-lyfies het begin blom
Die oorgang was soms skokkend
Tog was ons deurentyd bewus
van die sprankel om te mag wandel
op die pad van menswees!
Soms was dit net uitbundige prêt
Ander keer weer diepe smart
Begin ons soek -rond en bont
Links en regs, van Oos na Wes
Waar lê die bronne van my sorge?
Dan kyk ek op, na bowe -
En weet, die uitkoms, is naby!
Die liefde van onse Heer
en die genade van beskerming teer,
vul my hele wese met dankbaarheid
Met diepe bepeinsing vul ek die nagtelike ure
Verwonderd oor die Grootheid en Almag!
Wanneer ek dan soms nog wonder
of is daar meer as kommer en sorge
op hierdie gebaande menswees-pad?
Hoeveel keer gaan ons nog moet groet?
Dan weet ek, die son, gaan weer skyn!
En die leed, sal dan, verdwyn!
Die weersiens maak my só bly
maar die totsiens sê, laat my noú al huil
Vra ek dan, vergeef tog Heer!
Al die trane en die bitterheid van leed,
het my gemoed só swaar bedroef!
Skenk my dan weer U vreug
sodat ek kan jubel en kan juig!
Soos die Woord daarvan getuig
My las was dikwels nét te swaar
Maar toe het ek dit kom neersit,
en my gemoed was meteéns verlig
want U, was my siel, weer wit!
Dan kan ek weer onthou;
al die vreug - uit lank vergange se jeug!
Die skaterende kinder-laggies
selfs die vonkelende sterrehemel-ogies
Kosbare herrineringe vul my héle wese
Die troetelende gevoel van U nabyheid
Beskermd teen die onheile van onbekende more's
Wandelend tussen die duine van al die gister's
Omring deur hemelse geur uit die tuine van die hede
Glimlaggende gesigte wat staar uit ou foto's
bring heimweë en soveel onthou!
Die sagte voue van U liefdeskleed
omhels my met ‘n tasbare vree'
Dankie Heer vir soveel vreugde
Oneindige barmhartigheid !
Genade onbeskryflik groot!
Vergifnis uit U Woord;
Dit alles is ons erfenis;
Opgeteken in ons eie Moedertaal:
- Afrikaans -
Ek wil weer uitbundig sing -
in 'n kring, soos lank gelee'
Ek wil weer dans -
verspot kan tiekiedraai, soos lank gelee'
Spontaan wil ek net weer, bestaan!
Ek wil weer my loon aan jou betoon
My opregte dank vir jou bring
Saam met jou wil ek weer
die natuur, in sy volheid, beleef!
Mymerend in die soelheid van aandskemering
Toegewyd en ewig verbly;
In die volheid, van Sy grootheid!
Nie meer kwyn of verdwyn vir jou en my!
Wil ons weer, net spontaan bestaan!
Ek wil weer die geur en kleur bespeur
deur Moeder-natuur vir ons gestuur
Aangebied vir pure genot en plesier
Gedoop in volle hoop, wil ek streef;
na die winkende toekoms, sonder vrees
Soos die wilde blomme in die wydheid van die velde
na die winterkou' weer ontkiem, en opskiet
Wil ek uitreik na die onbekende hede -
Met wyd oopgestrekte hande -
Bestand teen alle weerstande -
Spontaan wil ek, net weer, bestaan!
(Meraai vannie baai)
By kerslig voor die “Dover” stoof,
het Moeder my beloof,
dat sy my sal leer hekel
en ook om te kan brei
Ek was tog al te dankbaar,
ʼn leermeester te hê soos sy
In Afrikaans leer ek hier
met maatband, skêr en bruinpapier
ʼn Patroon te knip vir ʼn tabberd rooi
Vreugdes in my lewe,
veelvuldig en so mooi
Ek leer ook skryf en dig,
om my woorde in te tooi
Normes en waardes in die
Afrikaanse Taal is ook baie sterk.
In Afrikaans het ek geleer,
gelag en te werk
Ek het ook van God geleer,
en behoort aan ʼn Kerk
Waar kan jy in enig' ander taal,
lewe so onbeperk?
Afrikaans ons taal ons “rykdom”,
wat vêr uit die verlede kom
Sal iemand ons dit wil ontneem?
Dit klink só onmoontlik en só vreemd!
(Christal)
Donker wolke óm ons heen
Helder wit blitse en 'n swaar gedreun!
Reën wat neerplof in die stof
Die reuk - die geur:
van stowwerige grond
Die diere huppel rond
Groot die vreugde:
van die eerste reën!
Ek kyk om my rond
Mense staar na die grond
Mismoedig en geboë
Mense-kind lig op die kop!
Word weer met blydskap opgetoë!
Kyk op die horison
Vergeet van die verlede
Bou aan die toekoms
Doen alles vir die hede!
Vind plesier in die lewe
Van bou en vertrou
In Suid-Afrika -
ons land, ons taal
Afrikaans vir ons nageslag
Moet nie langer wag -
sodat ons weer kan lag!
Uit die blou van die hemele
en oor die dieptes van die see
is Afrika gesmee -
Oor bruisende branders -
het volke gekom
Tale vermeng - Afrikaans gevorm
Uniek en besonder
Energiek in elke lied!
(Jan Anderland)
Afrikaans - Ons murg en bloed
Met getekende beelde
En skilderagtige woorde
Met klank en ritme
Veg ons vir jou
Afrikaans - Ons murg en bloed
(Johanna van Niekerk)
Soos die reënboog skitter in die son
En lelies elke winter blom
Soos kanaries uit hul borsies sing
En sonneblomme kleur bring
So sal ek die paadjie stap
Met 'n huppel in my lag
Met 'n hart wat bars van trots
Skreeu ek dit uit volle bors!
Eet Afrikaans …
Sing Afrikaans …
Droom Afrikaans …
Ja, ek IS Afrikaans!
Só sal ek my land dan sien
Só sal ek my maal bedien
Gister’s in die sand geskryf
Môre sal die boek herskryf
(Magda Swart)
Op klip wil ek dit ets
Op doek wil ek dit skets
Die pad vorentoe, die stap ons nou
Kom vertel my dan nou gou …
Ken jy dalk ook my liefling-taal?
Die lig op my gesig
is die poort na die binnekamer van my hart
Waar die diepte van my getroue liefde
vir jou my geliefde taal, Afrikaans
vir ewig sál bly brand!
Vir hulle wat kom, om jou te wil verwoes
En miskenning voor die voet
Sal ons nie swig óf swyg
Sal ons nie laat hul jou as taal, vergruis
Sal ons Afrikaners, beslis die knieg nié buig!
‘n Lang-lang pad stap ons al saam
Met dankbaarheid as volk, saamgesnoer
Deur ons taal en deur eie kultuur
Opdraend of afdraend – bied ons weerstand
Ons sal jou nie feil met dié wete:
Dit is ons begeerte in die lewe!
Ons sal aan jou vaskleef
Asof ineen geweef!
Soos kosbare pêrels in ‘n snoer
Met jou sal die Afrikaner volk weer gedenk
Sal ons dit ongemerk só bewerk
Dat jy nooit ‘n vroeë dood sal sterf
Ons diepste verlange en ons grootste belange
is opgeteken in talle gesange!
Dit is volbring, het kore gesing
Dit is gewis nié net, ‘n lagie vernis!
Hierdie liefde van ons vir jou, is gewis!
Sterk soos staal is jy dan, my taal
Smarag of robyn,
geen ander aardse skyn -
van skatte diep uit aardse kors gehaal -
Sal jou ooit uit my hart laat kwyn!
Sonder enige weifel-
Met geen twyfel -
Sal ons aanhou soek na die pad
wat ons met jou wil stap
Doelgerig met vaste tred!
Vir ons Volk en Vaderland!
Beproewings sal ons nie ontmoedig
Benoudheid sal ons nie verhinder
Geweld nog minder
Want aan jou – sal ons vashou
My liefde vir jou sal bly brand
soos ‘n vlam van die lewens-kers!
Só sal jou lig dan ewig helder bly skyn
Om die donker wat nader sluip,
te fnuik en aan ons as volk,
weér die lig te bring!
Stil verlange na die bekende klanke
van jou oor die tong gerol,
van ‘n kleuter met rooi- bol- wange!
Baba woordjies uitgebabbel!
Stil verlange na die huweliks- klanke
vir die blosende jong bruid:
‘n loflied gebring vir liefde wat ontluik!
Stil verlange na die harde klanke
van die astrante tiener
met oorverdowende getrom!
Wat my dan weer laat hunker na stilte!
Só stap ons met jou, die pad vorentoe saam
Selfs langs ‘n vars hopie grond
by nog ‘n nuwe graf
Die kwetsende pyn van hul wat agterbly
Weerklink jou klanke oor die lippe
wanneer die laaste verse van die lied
die eer betoon, aan hul ontslape
Diegene wat hierdie pad nie meer,
saam met jou, in die toekoms, kan bewandel
En tóg sal hul áltyd deur, met diepe eerbied,
in ons gedagte nog heers, en voortbestaan!
Só is jy dan vir ons my liefling-taal!
Onverganklik en ewig daar op die lewenspad.
Deur die ruite van my hart se venster,
kan ek terugstaar na die pad van al die gister’s
Kan ek turend wonder, oor die pad van môre
wat ons met jou gaan stap - Afrikaans!
Laat ons jou dan nou nié beskaam
Ons geliefd’ en beminde Moedertaal –
Laat ons dan geen steen onaangeraak
sal laat in hierdie stryd -
om jou bestaan, my geboorte taal!
Afrikaans vir jou, sal ons bewaak!
Nimmer immer sal jy dan taán!
Nuwe woorde wat nog nie bestaan
in ‘n woordeboek êrens opgeteken,
word daagliks op die internet geplaas!
So brei ons taal dan uit en sprei die jonge vlerkie
soos die wilde Gansie op ons gehuurde plasie
In sy vlug is daar verséker geen klug
Sal ons dan ophou met mor en sug!
En die pen opneem, sonder ‘n gekug!
Met blydskap dan nog ‘n paar versies dig –
(Meraai vannie baai)
Ukuthala, my vriend
My hart is swart
My hart is bruin
My drome is ‘n son-refrein
Uxolo, my vriend
Jou hand is blank
Jou hand is geel
Jou ideale wil ek met jou deel
Vrede, my vriend
My taal is joune
My taal is myne
In ons land lees jy tussen die lyne
(Suzette Fouche)
Ons stap die pad
hand aan hand
Jy is my sleutel
tot vriendeband
Jy voer my weg
na my eie land
Ongeag my lewens-stand
Ek skryf, dink en
dig met jou
Meer as ‘n kommunikasie middel
het ek in jou
Jy is my hart
My kultuur!
My toekoms en nou
die pad vorentoe
Is deur nog niemand betaal
Ek is trots om te sê
Afrikaans is my taal
(Kate)
Sy is hier gebore
Is deel van ons verlede
Al die gister ‘s en die hede
Ook van elke nuwe môre
Sy is ons Moedertaal
Met haar loof ons die Heer
Skryf, leer, lees en sing
Met haar is ons nooit ooit klaar
In die howe word sy uitgehaal...
Haar kinders sal haar altyd eer
Haar voortbestaan word nie beding
Nie in ‘n duisend jaar!
As ons haar daagliks nog kan hoor
sal ons nie moed verloor
Sal ons steeds bly veg
Afrikaans, o Afrikaans
Jy is so suiwer, ja so eg
Kan jou nooit laat vermoor!
Met mening beur sy voort …
Politiek probeer haar smoor –
Tog is sy nes die wat haar praat,
onopgesmuk en fyn van gees
Soos die sout van die aarde;
Daarsonder is alles laf
Haar doodkry is min
Moes al te veel oorwin
Dis hier waar sy hoort
So enig in haar sort
En ons haar woorde wil hoor …
In kerke, skole en op straat
Kombuistaal haar naam?
Ons neem haar orals saam
Van binnekamer en gebed
Van wetmaker en parlement
Verhoogplanke tot rolprent
Die visverkoper en die slet
Sy is aan niemand onbekend
Baie wat haar nie wil praat
Haar wil vermorsel en vertrap
Die letsels kan wel skend …
Maar sal niemand baat
Sy is Afrikaans, ons erfenis skat!
(Riana)
My land se skatte en erfenis
kan nie versteek word in ‘n kis
Daar is wel sommige kiste wat
die helde van ons kuns bevat
Digters en skrywers van weleer
is nie almal met ons meer,
maar hul erf’nis is vir ons gelaat
om ewig nog daaroor te praat
Wie sou nie die talent wou hê
van ‘n Eugene N Marais?
Ek sou so graag wat wou gee
om te kan dig soos Jan Cilliers
Lees pyngedagtes van J. D. du Toit.
Die Psalmdigter wat so mooi
die Psalmliedere Afrikaans kon maak
Hy styg bo almal uit. Onaangeraak
Die Hantam het vir ons Leipold gegee
en ons onthou selfs Abraham Fouché
Langenhofen se Stem van Suid-Afrika
sal ek ewig trots in my hart ronddra
Eitemal en I.D. du Plessis
se skatte sal nooit wegraak nie
Ek glo weinig skrywers sou
by Van Wyk Louw kon kers vashou
Die veelsydige Elizabeth Eybers het
Afrikaans gevat, gesmee, geplet
en die mooiste gedigte opgetower
So mooi beskryf. Haar kroon verower
Fagan se huisie by die see
wat teen die aanslae beskerming gee
is beeldspraak van ons taal se stryd
teen die aanslae van lis en nydigheid
Met dié gedig hoop ek, ek kan
my dank betuig aan Opperman
Die man wat my, al bly ek leek,
die liefde vir dig kon kweek
(Fikkels)
Afrikaans, geknegte taal,
van ossewa se tyd al aan
'n Taal van swaarkry,
swoeg en sweet van meet af aan
Die begin jare onder Britte se beleid
Was Afrikaans uit skole verban
Wanneer jy as kind,
'n Afrikaanse woord laat glip
skreeu die onderwyser,
“child please hold your lip!”
Gewoonlik was hierdie kind,
dan baie swaar gestraf.
Kry hierdie kind
'n groot bord om sy nek
Waarop die gewraakte woord,
“Donkey” listig pryk!
'n Bespotting van hom te maak
Wat het hul tog bereik?
Die taal wat die meeste,
onder Apartheid ly
Die beleid van apartheid
het ons van die Britte gekry.
Grootste vloekwoord in ons taal
die woord “apartheid,”
deur Verwoerd vervolmaak
Hierdie selfde woord,
waarvoor ons duur betaal
Hoe meer ons taal onder druk was,
hoe meer wou ons dit praat
Die taal waarin ons hartseer is,
en waarin ons liefde maak!
Al lyk die voortbestaan,
van Afrikaans maar skraal
kan niks en niemand hom weer keer
Ons het te duur daarvoor betaal!
Ek reik nou uit na jou,
ek nooi jou vriendelik uit
kom vat tog nou my hand
Suid Afrikaners deur die land,
kom ons smee ‘n hegte band
So stap ons nou die paadjie
Stap tog met my mee
Vir my 'n treetjie vorentoe,
Vir jou, gee nog 'n treë!
My vriend wat is nou die verskil?
Ons praat elk ons eie taal,
Waarom plaas ons dan nog,
ons naaste op 'n skaal?
Ons is die reënboog-land!
Met Afrikaans,
ook 'n reënboog- taal
Ons het mos al lankal,
die angel daar uitgehaal!
Kom nou Afrikaners
kom dat ons gedy
Hier is mos genoeg woonplek,
vir jou en ook vir my
In hierdie reënboog land,
met sy sonskyn en sy reën,
Kan almal bid in eie taal
Dat God ons land kan seën!
Kom ons neem nou hande,
vorm 'n ketting vir Afrikaans
Geniet ons die Voortrekkers
Met Volkspele kan ons dans
Afrikaanse liedjies kan ons lekker sing
Kom ons neem nou hande,
vorm nou 'n kring.
Want in 'n kring is ons gebring …
Om Volkspele te speel,
en saam te sing.
Ons Voortrekkermonument,
pryk met prag en praal.
Ons Taalmonument met drie suile,
toring hoog op in die Paarl.
Oom Paul Kruger staan statig op die Plein.
Die naam Pretoria gaan nie verander,
Pretoria bly Pretoria, ons klink 'n glasie wyn!
Totius staan in Potchefstroom,
die stad met die ou Wilgerboom
Totius het ons Afrikaanse taal
laat lewe, groei en uitgebrei.
Waar sal jy in die wêreld
nog so pragtige taal kan kry?
(Christal)
De grote skeep arriveer in Tafelbaai
meer aan’t de Hottentot se kaai
Van Riebeeck plaas sij swart stewel aan’t wal
kyk hoe sterf die inheemses aan’t gal
Vlugtelinge van de Franse Ryk
bou wingerde vir de wyn kruik
Rooinekke kom septer swaai
ossewaens kreun noord met ‘n groot lawaai
Boere-kommando’s in ‘n laer getrek
Dingaan en sy stam lê bloed-bevlek
en tot Piet Retief se groot plesier
vind plaas die slag van Bloed-rivier
Van die Kaapse kant
tot oor die Drakensberge se rant
trek die prospekteerders voort
na die Transvaalse goue oord
Die Vierkleur wapper
Engelse behoud al swakker
Na Boer en Khaki se geskiet
word ons die Zuid-Afrikaanse Republiek
Van Verwoerd en sy „Transvaler“
Raak onse land bleek en valer
die Vader van Apartheid
versprei sy gif vinnig en wyd
Op ‘n verre eiland na justisie se gedrentel
‘n Jong bruin man word gelaat agter slot en grendel
Tyd staan stil vir sewe-en-twintig lange jare
Speel musiek van wraak en vrede op sy hart se snare
Vinnig volg lang donker dae
Bloed vlek ons parlements trappe met vrae
‘n Land verval in sak en as
Kortbroek het gedink dis van-pas
Intussen gebeur Sharpeville
De dood van Hector tussen die gegil
‘n Jong swart opstand soos nog nooit gesien
Gaan die platvoete die een oorsien?
Ons politieke pols klop vinnig en hard
Biko vermoor tussen uniforms en smart
Dumbutshena verslag
verdrink onder groot gelag
Die Groot Krokodil pateties oor mag
veroorsaak golwe met sy Rubicon verslag
Sy Apartheidswette dreun hy uit
Sy wange bulder en skud soos rooi kluit
De Klerk lig die byl van Madiba se kop
sluit saam Apartheid toe in ‘n donker hok
Die ANC nie meer verban
en Barcelona sien n Suid Afrikaanse span
Ons kry ‘n nuwe swart president
Die hele wereld sit regop en attent
‘n Konstitusie gebore vir almal in ink
apartheid en verdeling klou nog met stink
Mbeki arriveer met nuwe gevorderde idees
Die Afrika-Renaissance sal dit wees
Werk en huise vir almal wat beef
Die regering kom net nie op dreef
Ons kleurskema ‘issues’ opgelos,
sit ons nou met n nuwe gemors,
met Dokter Knoffel se beetblare en kruie skort
om nie te praat van Zuma se vreeslose stort
Die Afrikaner ‘develop’ ‘n nuwe identiteit
Hoekom ons self aan die verlede vergryp?
Met humor van Pieter-Dirk Uys
tot die eerste African in ‘space’
Die pad vorentoe wat wink
Elf tale en kulture vir almal geskink
Loop ons nou tesame die toekoms in
Die kanse vir herhaalde foute baie min
(Naomi L Oosthuizen)
In ‘n huis van elf
Kyk ons na onself
‘n Taal beskerm gaan dood in ‘n hoek
Gebruik Afrikaans op tong en in boek
(Willem Woes)
So het n groepie SA’ners dan die hand gevat
en die land aan die brand gedig!
Weekliks was die versies bygevoeg
Het gedagtes woorde gebaar!
Is daar lyne gevorm-
In versies is jou naam besing, my taal!
In elke skrywer se eie styl
was daar oor jou as taal geroem!
Hoe wyd en diep ons liefde vir jou strek
Hoe kósbaar en uniék vir elkeen wat jou,
sy Moedertaal kan noem!
Hier is dan vandag , spesiaal net vir jou
Ver en wyd – van Oos na Wes
Van die Noorde tot die Suide
Oor baie grense heen:
Die poging wat bewys het aan die wêreld
dat 'n volk weer saám kon staán as eén!
Soos reeds telke male geskrywe
Ons sal jou nooit begewe of vergete agter laat!
Mag jou woordeskat dan daagliks steeds groei
is ons gebed, opreg geuiter, in kinderlike geloof
Hand aan hand deur ons mooie land!
Oor berg en dal …
Heuwel of vallei
Van duskantland -
tot aan die anderkant -
Waar meeue skreeu
en branders ewig dreun!
Aangepak met slegs skrywers-moed
was die elektroniese penne
gevul met digtersbloed
Saamgesnoer is hier dan nou
in eén gedig:
met ‘n paar duisend woorde
hulde gebring aan jou!
Kom ons dan nou groet
met laaste woord en vers
Ons eie geliefde Moedertaal …
Lank sal jy lewe!
-Afrikaans-
(Meraai vannie baai)
(9546 woorde)
|