Ek probeer oor niks spyt te wees in my lewe nie, maar daar is wel een of twee wat daar sal bly. Om spyt te wees oor iets het nog nooit regtig sin gemaak vir my nie. My pa het my geleer dat jy nie moet spyt wees oor die dinge wat jy gedoen het nie maar liewer spyt moet wees oor die dinge wat jy nie gedoen het nie.
Meeste van die dinge in my lewe val ek aan soos ‘n honger boemelaar ‘n Wimpy burger gaan aanval en tog is daar dinge wat ek nie doen nie waaroor ek spyt sal wees.
Die eerste sal seker spyt oor verhoudings wees maar om meer tyd daarop te mors sal my spyt maak dat ek daaraan gedink het.
Daar is wel een ding wat my jaag waaroor ek ernstig spyt bly. Nie oor die oomblik nie maar oor wat kon wees. Ek het op Buffelspoort met ‘n klomp mense gaan praat waarna ek weer huis toe gery het. Voor ek in die motor geklim het was daar die mooiste klein blommetjies wat van die bome afgeval het.
Ek het een opgetel en die reuk was wonderlik gewees. Hierdie blom het passasier gery terug huis toe. By Hartebeespoortdam se wal stop ek by die verkeerslig en daar is een of ander meisie met ‘n blikkie wat vir iets kollekteer wat ek nie weet waarvoor nie.
Ek dog toe by myself dat ek dalk hierdie blom vir haar moet gee. Sy kom verby en glimlag met haar voortandlose glimlag en ek gee maar net ‘n nee-dankie hand in haar rigting.
Nooit het ek die blom vir haar gegee nie.
Wat sou dit vir haar doen dat iemand, ‘n man, vir haar ‘n blom gee omdat hy dink dit sal haar gelukkig maak? Sou dit dalk iets in haar lewe kon verander wat andersins nooit sou verander nie? Sou dit net ‘n glimlag en dalk ‘n warm gevoel van aanvaarding vir daardie persoon beteken? Die vrae ry my soos ‘n perd nie gery kan word op die Durban July nie.
So, as jy wil spyt wees oor iets moenie spyt wees oor mense wat pyn in jou lewe veroorsaak het nie. Hulle is nie sekondes van jou lewe werd nie. Wees spyt oor die kere wanneer jy regtig iets goed in iemand se lewe kon beteken. Al is dit net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde.