Einde van die maand. Ek het vergeet om ‘n tjek te deponeer en moet nou die Saterdag bank toe gaan om dit in te betaal. Aangesien dit einde van die maand is verwag ek ‘n lang gestanery. Ek kom toe by my bank aan, dit is een van daardie banke wat se bankkoste so duur is dat dit voel of jy net bank en nie ontrek nie. Kom ons noem sommer die bank, ter verduideliking, “Net-bank bank”.
My “net-bank banktak” het 9 tellers om mense te help. Dit is 09:00 in die oggend en daar is net 6 tellers wat diens doen. So kapasiteit is af met 30%. Die mense staan al amper uit “Net-bank bank” se tak maar daar is net 6 tellers.
Dink jy die bankbestuurder sal sy gesig agter ‘n teller wys? Die teller waar hy as ‘n groentjie seker begin het. Nee! Hy sit seker tee en koekies geniet wat vir hom aangedra word. Hy is mos te belangrik om te help. Die feit dat die boks in ‘n diens industrie is maak nie vir hom saak nie. Hy kry mos ‘n salaris. Hy het aansien. Hoekom moet hy met die gepeupel meng?
So my voorstel aan hierdie fiktiewe “net-bank bank” sal wees om jou bestuur elke oggend in ‘n kamertjie te gooi en te wetter met sambokke en herhaaldelik die vraag te vra, “hoekom is jy hier?”. Die antwoord natuurlik sal wees, “om die kliënt te dien”. Maar ek het so voorgevoel dit sal ten minste so uur se slaat moet vat voor iemand dit sal sê.
Viva diens! Viva mense wat kan dink, want daar is nie baie van hulle nie!
Willem
(274 woorde)
|