Ek het lanklaas geskilder met my woorde, omdat ek bang is ek misinterpreteer die omgewing waarin ek my daagliks bevind.
Die winters-pastelle is sagkuns aangewend in die nag. Die Alp-toppe lê weer spierwit bedek met sneeu. Snaaks, want die herfsblare is nog nie eens behoorlik van die bome gestroop nie. Vanoggend is die prentjie uit die skilder se palet impessionisties - wit, skerp gepunte bergtoppe, met sigbare kwasmerke in die middel van rooi, geel en bruin herfsblare. Op die grond is die immergroen gras, wat wagtend is op die swaai van nog ‘n wit kwas. Al die kombinasies van gewone onderwerpe gemeng tot ‘n eenhied, ‘n lewende wêreld uit ‘n ongewone aansig.
Die trein weerkaats op die meer se stil donkerblou water en die son op die horison, verblind my met ’n helder warm oranje, geel en goud. Vandag is God se skildery weereens uit die Hemel. My Hemel op aarde. Die treinvenster wasem toe soos ek die dag aanskou. Met my mou vee ek dit vinnig skoon in sirkelbewegings om nie uit te mis op die skildery se detail nie. As die skoonheid maar net onbetas kon bly soos ‘n stillewe-portret, maar ongelukkig is die prentjie net tydelik, nes ons lewe op aarde - ‘n Tydelike vesting vir die siel.
Die lewe is vir my soms so gekompliseerd, dat ek nie altyd kan afskaal na die eenvoud daarvan nie. Dis óf so gejaagd en ongewaardeerd, óf so alleen en selfgesentreerd. Tog het die Skilder sy kwas sagkuns geswaai om my iewers op sy skildery in te pas. Al voel dit soms ek is net die skadu van die wilgerboom.
Op die oomblik voel ek soos ‘n potloodskets, dof geskribbel op die groot, wit doek. Daar is al so baie geskribbel en uitgevee dat die buitelyne nie eintlik sinmaak nie. Net die Skilder sal weet waar om die volgende lyn te trek. Ek staan driedimensioneel in postuur regop, ken op, oë oop. Ek fokus strak, stil. Die beeldhouwerk is nie vir my nie. Dit meng met my los, gemaklike, laggende, lewenskurwe.
Ek wens en bid vir die stippellyne om voltooi te word. Al is dit net vir tydelik - ‘n nommerpas kleurprent. Niks eksplisiet, niks met ‘n “Monalisa smile”, niks waardevols, net eenvoudig, soos ek is.
Ek wens vir ‘n bietjie kleur, kleur wat jy sal kom aanwend. Die sagte lyne wat jy skets en verkleur met jou skoonheid, skep ‘n estetiese gevoel. Ek is soms so ongeduldig dat ek self die kwas wil vat en verandering wil aanbring, maar word so dikwels deur my eie talent teruggehou. Daarom moet ek nou leer by my meesters. Daarom moet ek nou in postuur regopstaan, totdat ek uit die dowwe sketsboek kan ontsnap om ons saam op ‘n nuwe blad te kan skilder.
Ek sal waarde toevoeg tot die eindproduk van ons bestaan, voltooid, geraam.
Neem jou hart, skilder my. Sit jou waterverfkleur neer op my. Dit is die kleur wat nooit verdwyn.
Ek wag vir jou, my Michelangelo.
Mario Vermeulen Oct 09
(501 woorde)
|