Jip. Ek bedoel dit. Ek wil vrek om weer lewendig te voel. Hoeveel van ons mensdom donder nie elke dag deur die lewe nie.
Word wakker, loer, en gril vir die persoon langs my lê en wonder wie de hel dit is, en sy lê al hier vir meer as tien jaar daar. Wurg een of ander plastiek ontbytgraan af vir ‘n supposed gebalanseerde dieet.
Kom by die werk aan waar dit voel of jy met ‘n sweep geslaan moet word om jou werk te doen. Jy wonder of jy wel daardie chick met die sweep wat adverteer by die porno winkel moet bel. Miskien sal ‘n sweep jou goed doen. Al wat jou vrou sal doen is om jou oor die vingers te tik en te sê, “Nee Hendrik, dit is hoe vêr mamma sal gaan”.
Na werk gaan jy gym toe net om te sien hoe jou lyf agteruit gaan as jy kyk na die ander mense. Gym is nie daar om jou beter te laat voel nie, dit bring jou net tot ‘n besef dat die lewe jou verbyglip terwyl jy sit en piekniek hou in ‘n parkie wat soos honde poefie ruik en dooie gras het.
Die aandete is dieselfde as die vorige week, jaar, getroude lewe. Die kinders is nie eers by die tafel nie, hulle is besig om te SMS voor die TV. Daar is ‘n gekrap aan die voordeur. Die hond is seker weer buite. As jy weer vir die kinders moet sê om die brak binne te hou gaan jy hulle weggooi.
Dit is net te veel. Jy moer die bord kos teen die muur. Sy kyk verskrik op, “en nou pappa?”. Na die voordeur. Hier moet jy uit. Pluk die ding oop.
Daar staan drie van hulle. Die lus vir kwaaddoen drup van hulle af. Die eerste een etter jou skuins op die kop met jou gunsteling 17 Gedore spanner. Jy probeer bybly.
Hulle kom die huis binne en maak amok tussen kinders en vrou. Los net die kinders. Los die vrou se vroulikheid asseblief. Die bloed voel warm soos dit in jou oog stroom.
Alarms in die verte. Die figure beweeg anders. Hulle is haastig en nie meer tergend.
Alles word swart.
Alles raak stil.
Word wakker, loer, en glimlag vir een wat haar lewe met my deel. Ek kan nie glo dit is tien jaar nie en ek is nog so verlief soos ‘n tiener op sestien. Die graankos kraak nuut onder my tande ....
Willem
(416 woorde)
|