Projekte:

Projek: KERSFEES

Kere gelees: 5845 | Totale Kommentare: 168

In baie lande laat kinders leë houers agter vir Kersvader om vol te maak met geskenke soos speelgoed, lekkergoed of vrugte. In die V.S.A. hang kinders 'n kerskous by die kaggel op Oukersaand sodat Kersvader dit kan volmaak gedurende Oukersnag. In ander lande weer plaas kinders hulle leë skoene daar sodat Kersvader dit vir hulle kan volmaak. Die gee van geskenke word egter nie tot hierdie geskenkbringers beperk nie en vriende en familie gee ook aan mekaar geskenke.

Laat ons egter nie die ware boodskap miskyk oor Kersfees nie nl . die herdenking van Jesus Christus se geboorte, en dit dan ook in die regte gees en gesindheid hanteer.

Hier is GEEN opdrag van rymritme aan die gedigte gekoppel nie so julle het ‘n vrye keuse en genre.

Inskrywings is ONBEPERK in elke afdeling … Gedigte, Artikel, Rubriek, Resensie, Verhale, Gorrel en Musiek & Liriek

Aangesien die projek so ‘n wye keuse kan insluit en julle lekker kan woeker  oor die Feestyd gaan hierdie projek n maand lank geldig wees, aangesien baie mense met vakansie/verlof  is gee dit dus genoeg tyd vir almal om betrokke te raak.


Onthou asb die laaste skrywe sal dus om 24:00 die Dinsdag aand ingeneem word ... die wenners gaan gekies word deur ‘n onafhanklike persoon wat glad nie op woes betrokke is nie, elke skrywe sal anoniem ge-epos word met ‘n nommer en dus op meriete gekies word. Hierdie persoon is ‘n Suid-Afrikaner wat oorsee woon en hy het reeds 17 boeke in die mark so ek dink dit is ‘n geskikte persoon om die beoordeling te hanteer. Die wenners sal dan die vrydag bekendgemaak word en die eerste 3 plekke sal ‘n sertifikaat ontvang in elke afdeling hetsy gedig, rubriek, verhaal, resensie, artikel, of musiek & liriek.
Ons wens almal ‘n geseënde en rustige Feesgety toe.

Anzé Bezuidenhout


Projek: Krag

Kere gelees: 280 | Totale Kommentare: 25

Ons voorlaaste Vandag in Woorde vir 2014: 

Die mees gepaste tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘KRAG’. So naby as wat ons aan 25 Desember is,  is hierdie tema selfs meer gepas as ‘Kersfees’ vir ieder en elke Suid-Afrikaner. 

Die mees gepaste tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘KRAG’. So naby as wat ons aan 25 Desember is,  is hierdie tema selfs meer gepas as ‘Kersfees’ vir ieder en elke Suid-Afrikaner. Elkeen het ’n ‘KRAG’ storie om te vertel. Van Musina tot by Malmesbury, van Krombaai tot by Komatipoort.

Daar is nie ’n besigheidsman of vrou wat nie deurloop nie. Selfs die koerantverkopertjie by die verkeerslig ervaar verliese, want niemand stop lank genoeg om gou die Sunday Crimes te koop nie. Ek is al ’n maand terug by my huisie by die see, maar het van dag een af en elke naweek daarna ten minste twee ure elke Saterdag en Sondag in die stilte of in die donkerte geploeter. 


Projek: KLEUR

Kere gelees: 1920 | Totale Kommentare: 154

PROJEK TEMA  -  KLEURE 3 Desember – 10 Desember 2014

Hier is GEEN opdrag van rymritme aan die gedigte gekoppel nie so julle het ‘n vrye keuse en genre.

Hier is GEEN beperking op die hoeveelheid inskrywings nie. Dus kan jy soveel keer en in soveel kategoriee deelneem soos dit jou pas.

Vir interessantheid gee ek ook die betekenisse van ‘n paar kleure sodat julle lekker kan woeker in elke afdeling … Gedigte, Artikel, Rubriek, Verhale, Gorrel en Musiek & Liriek

ROOI is beslis een van die treffendste kleure wat aan die positiewe kant fisieke braafheid, krag, warmte, energie, stimulasie, manlikheid en opgewondenheid simboliseer.

BLOU kan gesien word as die teenoorgestelde van rooi. Dit is ʼn intelektuele kleur en sy positiewe eienskappe is kommunikasie, vertroue, doeltreffendheid, kalmte, plig, logika en refleksie.

GEEL simboliseer aan die positiewe kant optimisme, selfvertroue, emosionele standvastigheid, vriendelikheid en kreatiwiteit, maar aan die ander kant dui dit ook irrasionaliteit, vrees, emosionele broosheid, depressie en angstigheid.

GROEN  skep balans, verfrissing, universele liefde, rus, versekering, omgewingsbewustheid en vrede.

WIT is ʼn achromatiese kleur,  het verskeie goeie eienskappe soos higiëne, suiwerheid, duidelikheid, eenvoud, sofistikasie en doeltreffendheid. Dit simboliseer egter ook koudheid, skanse, onvriendelikheid en elitisme.

PERS - Die positiewe eienskappe van pers – of violet – is spirituele bewustheid, beheersing, visie, luuksheid, outentisiteit, waarheid en kwaliteit.

PIENK is sonder twyfel ʼn vroulike kleur. Dit is simbolies van fisieke kalmte, versorging, warmte, liefde, seksualiteit en oorlewing van die spesies.

SWART is ʼn kragtige kleur wat slim gebruik kan word om die indruk van sofistikasie, glans, sekuriteit, emosionele veiligheid, doeltreffendheid en substansie te skep.

Dit is maar slegs enkele voorbeelde van kleure.

Ek hoop werklik dat ons ‘n kleurvolle getal inskrywings in elke afdeling gaan ontvang

Onthou asb die laaste skrywe sal dus om 24:00 die dinsdag aand ingeneem word ... die wenners gaan gekies word deur ‘n onafhanklike persoon wat glad nie op woes betrokke is nie, elke skrywe sal anoniem ge-epos word met ‘n nommer en dus op meriete gekies word. Hierdie persoon is ‘n Suid-Afrikaner wat oorsee woon en hy het reeds 17 boeke in die mark so ek dink dit is ‘n geskikte persoon om die beoordeling te hanteer. Die wenners sal dan die vrydag bekendgemaak word en die eerste 3 plekke sal ‘n sertifikaat ontvang in elke afdeling hetsy gedig, rubriek, verhaal, resensie, artikel of musiek & liriek.
Mooi, kleurvolle  en geseënde week vir  elke WOES lid

Anzé Bezuidenhout


Projek: FEES

Kere gelees: 276 | Totale Kommentare: 15

Hiepiep hoera!!! En nogge piep! Die maand van feeste het aangebreek! Daarom dan hierdie week se tema vir Vandag in Woorde: ‘FEES’.

Dis die tyd van ‘FEES’ in die kantoor. Een na die ander jaar-einde partytjie. ‘n Geleentheid vir nuwe hakkies en ’n rokkie net reg vir ’n skemerkelkie. Of vir die manne, ’n nuwe hemp en das. Of wat dra mense deesdae?

Verder is daar feeste om die talle mense wat in die nuwe jaar ’n nuwe werk begin, by die ou werksplek te groet. Of die wat so gelukkig is om uit te tree of af te tree, vir hulle word daar ook ’n fees gereël en feesgevier.

Dan kom die fees vir familie, vriende en vyande op Kersdag. Die tafels kreun onder die stapels skaapboud, gestopte kalkoen, geglasuurde gesoute en gerookte varkboud versier met pynappelringe en glans kersies, beestong en braaihoender.
Dan het ons nog nie eers geraak aan die berg witrys en die piramiedes braai-aartappels, die kaneel pampoen en soetpatats, die groenbone en sewe soorte slaaie nie. Die nagereg verdien ’n paragraaf op sy eie.


Projek: Natuur Projek

Kere gelees: 2237 | Totale Kommentare: 232

Die Tema vir hierdie week is NATUUR
(GEEN DIERE OF VOELS ASB dis vir volgende projekte)

Hier is GEEN beperking op die hoeveelheid inskrywings nie. Dus kan jy soveel keer en in soveel kategoriee deelneem soos dit jou pas.

Gedigte:

Ek vra dus dat ons afskop met n Kwatryn - Natuur poging GEEN DIER OF VOELS asb dit staan oor vir volgende projekte (jy kan self die aantal verse kies wat jy per kwatryn gedig plaas, maar die vorm van vers 1 moet herhalend deur die gedig loop bv: aabb herhaal in elke strofe dan) wat n week lank sal duur. 

Hier moet die digters asb by die reels hou. Die eerste strofe bepaal die rymritme van jou volgendes (hoeveelheid strofes na jou keuse)

KWATRYN is n gedig wat elke strofe uit slegs uit 4 REELS bestaan met 5 soorte van rymskemas nl:

•      Omarmde rym – abba
•      Kruisrym – abab
•      Paarrym – aabb
•      Slagrym – aaaa
•      Gebrokerym – abcb, abca

n voorbeeld van my eie werk - met aaba (paar/gebroke rym ritme)

deur warm liefdeswoestyn
is jy my koel oase fontein
die polsende bloed in my are
met jou liefde wat eggo in refrein

© Anzé Bezuidenhout

Verhale, Rubrieke, Artikels, Gorrel, Resensie en Musiek en Liriek kan oor enige NATUUR tema skryf

Elke afdeling word apart beoordeel

Die laaste skrywes sal dus om 24:00 die dinsdag aand ingeneem word ... die wenner gaan gekies word deur n onafhanklike persoon wat glad nie op woes betrokke is nie, elke skrywe sal anoniem ge-epos word met n nommer en dus op meriete gekies word. Hierdie persoon is n Suid-Afrikaner wat oorsee woon en hy het reeds 17 boeke in die mark so ek dink dit is n geskikte persoon om die beoordeling te hanteer. die wenners sal dan die vrydag bekendgemaak word en die eerste 3 plekke sal n sertifikaat ontvang in elke afdeling hetsy gedig, rubriek, verhaal, resensie, artikel of musiek & liriek.


Projek: Geskenk

Kere gelees: 736 | Totale Kommentare: 63

Dit is al weer sulke tyd! Die tyd van gee en ontvang. Dan raai jy dalk heeltemal reg. Die tema vir hierdie week in Vandag in Woorde is ‘GESKENK’.

Vir hierdie tema is daar so baie om oor te skryf. Die heel eerste ‘GESKENK’ wat in my gedagtes kom, is al die wonderlike verniet en onverdiende geskenke wat ek (en jy beslis ook) uit God se Vaderhand ontvang het en dié wat ek daagliks vars en nuut ontvang.

Dan dink ek aan ’n ‘GESKENK’, oftewel ’n hele paar wat ek by my Bokka gekry het oor die jare. Het jy so ’n spesiale GESKENK wat jy lankal ontvang het maar dit nog elke dag, of tenminste elke week, geniet en waardeer. Of dalk is daai geskenk al poegaai, maar nog heel in jou onthou-gedagtes. Vertel ons daarvan.


Projek: Skrik

Kere gelees: 1014 | Totale Kommentare: 63

Die tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is ‘SKRIK’. Een van my onderwysers het altoos gesê: “As jy weer skrik, skrik tog net wakker!”

Ek is nie iemand wat vir koue pampoen skrik nie, maar vir elke spinnekop, groot of klein. Ja, daarvoor skrik ek my in ’n spasma in wat veroorsaak dat ek die eerste beste naaste skoen of plakkie gryp en twee, drie hou slaan tot die arme ding net moes is. En daarna kan ek nie ophou gril nie en verbeel my kort-kort ek sien nog een.

So wonder ek dus nou wat is daar waarvoor jy skrik. Waarvoor was jou grootste lamste skrik ooit? Waffer nagmerries laat jou in koue sweet wakker skrik? Het jy ook drome wat hulself herhaal, oor en oor, wat jou elke keer hygend laat wakker skrik. Myne is ’n matriek wiskunde, oftewel Algebra, vraestel waarvoor ek nie ’n duit geleer het nie.

So van skrik gepraat, nou onthou ek ’n skoolhoof wat afgetree het en by sy afskeidspartytjie gesê het die heel lekkerste beste ding van aftrede is dat hy nou nie meer soggens sal wakker skrik nie, hy gaan sommer net dood gewoon en sonder ophef, wakker word.


Projek: Mis

Kere gelees: 2506 | Totale Kommentare: 143

Die woord en tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is ‘MIS’. ’n Klein woordjie met ’n wye spektrum van betekenisse.  Ek het een spesifieke betekenis op die hart gehad en as mens sulke een-rigting gedagtes dink, dan is dit so maklik om al die res te ‘MIS’. Ek besluit toe om liewer die woordeboek nader te trek en al die betekenisse vir ons uit te krap en uit te klaar. Kom kyk saam met my!

Mis: Fyn druppeltjies water wat soos ’n wolk laag oor die grond of water hang. ’n Mistige dag laat my altoos heerlik snoesig voel.

Mis: Die uitwerpsels van diere. Ek neem aan die uitwerpsels van mense is sommer net bollie. Soms is die uitwerpsels van mense in die woordvorm ook bollie.

Mis: Om na iets te mik en dit nie te raak nie. Soms mik ons nie, maar ons mis ook nie.

Mis: Hierdie was die ‘MIS’ wat ek in gedagte gehad het, om mee te begin. Die rede daarvoor is dat ek elke jaar wat ek ouer word leer dat selfs in moeilike tye en plekke, soos daar waar ek in die bos gebly het, sal daar iets wees wat jy mis, wanneer dit verby is of nie meer daar is nie. Ek kon nie vinnig genoeg weer terug in die mooiste Kaap wees nie en ek is vreeslik dankbaar vir alles wat ek hier het en beleef, maar ek mis al daai pragtige kleurvolle bome en ’n heel paar wonderlike mense. Dalk mis hulle my ook.


Projek: Onomatopeë

Kere gelees: 594 | Totale Kommentare: 13

Die tema vir Vandag in Woorde is hierdie week ‘ONOMATOPEE’. Of te wel ‘onomatopeë’, want daar is baie en jy mag een of vele kies om vir ons ’n lekker-lees bydrae  op te tower. Voor jy begin skryf, sê  net eers die woord ’n paar keer. Dis vol-rond, ’n mond vol en  loslippig. Terwyl dit oor my tong rol, beweeg my lippe in alle rigtings om die woord uit te druk en deur te stoot, soos deeg deur  ’n koekiedrukker. Voel amper of ek met ’n lipleser praat, vir wie ek dit baie duidelik wil uitspreek.

Ons gebruik onomatopeë om ’n woord te vorm wat die geluid of klank naboots van die ding wat dit beskryf.


Projek: Foto- Uitdaging: 5

Kere gelees: 552 | Totale Kommentare: 26

Ja-nee, dis weer tyd vir ’n lekker foto-woord-uitdaging as tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’! So saam met die Oktober nuusbrief, vier ons dan hierdie week aarbeiseisoen.

Ek self kan nie wag om in die Kaap te kom om my eie vars aarbeie te gaan pluk, doer by die Mooi Berge aarbei-plaas met die veelkleurige voëlverskrikkers net buite Somerset-Wes, nie.

Bekyk hierdie foto en luister wat sê jou verbeelding vir jou.

Is dit iets oor die rooi kleur wat jou gedagtes op galop sit?

Is dit die vrugte?

Is dit gesonde kos?

Aarbeie, laat my onmiddellik aan Wimbledon en tennis dink. Dit laat my weer aan vakansie in Europa dink. Dit laat my aan ’n vliegtuigrit dink. En so hol my kop weg met allerhande idees.


Projek: Klein

Kere gelees: 1358 | Totale Kommentare: 63

Ek wou eers hierdie week se tema een van onthou gemaak het, maar toe merk ek op dat ons alreeds in 2013 oor onthou geskryf het. Dis ook al so lank gelede dat ek vergeet het van onthou.

Ek wil ook nie regtig afwyk van onthou nie, want Viooltjie se prag gedig:  ‘Daar was iets omtrent die Vrystaat...’, het my onthou knoppie gedruk. Nee, dit gaan nie oor die Vrystaat nie, want al wat ek van die Vrystaat onthou is die kere wat ons daardeur moes toer, om by ons vakansie bestemmings te kom. Waaroor dit wel gaan is die tyd toe ek klein was en daarom is hierdie week se tema dus ‘KLEIN’.

Hierdie week in Vandag in Woorde kan jy na hartelus skryf oor dinge wat in jou onthou uitstaan, van doerie tyd toe jy nog ‘KLEIN’ was.  Sommige mense onthou vêr terug van die tyd toe hy net gespeen en op die been was. Wat van daai eerste dag by die skool? Of daai keer wat jy so bang was dat jy jouself amper natgemaak het? Of daai loesing wat jy nooit sal vergeet nie? Ek het na elke loesing vas geglo dat ek ’n aangenome kind is wat nou so verniel word omdat niemand in die wye wêreld vir my lief is nie.

Wat van  daai dierbaarste van dierbares of mislike, onuitstaanbare onderwyser of onderwyseres? Meeste van ons kan iemand uit beide kategorieë, uit ons kleintyd onthou.


Projek: Ongeluk

Kere gelees: 1290 | Totale Kommentare: 68

Die tema vir ‘Vandag in Woorde’ is hierdie week ‘ONGELUK’. Vir enige iemand wat so ‘vallende’ en ‘val-lerig’ soos ek is, is ‘ongeluk’ ’n gereelde gebeurtenis. My pa, wat ’n paar druppels Namakwaland bloed in sy are gehad het, het altoos gesê: ‘My kjint, as jy niks kry om oor te val nie, dan staat en val jy wragtag oor jou eige pote!’ Nou ja, ’n feit is ’n feit.

Ongeluk is ook die teenoorgestelde van geluk. Wat het jy daaroor te skryf?
Dan was ek ook al ’n keer of twee in ’n ligte motorongeluk betrokke. Ongelukkig vir my was dit meestal my eie skuld. Het jy ’n motor-ongeluk storie?

Wat dink jy van mense wat aspris iets aanvang en as jy hulle uitvang, vinnig is om sê: ‘Skies man, dit was net ’n ongeluk!’  Ongeluk, my voet en ‘askies’ maak niks reg nie. Ek dink ‘askies’ moet uit die woordeboeke verban word. (Ai hoe lekker giggel ek nou, want ‘askies’ is nie in die woordeboek nie, net ‘jammer’. Ongelukkig vind ek dit nou eers uit.)

Ons hoor ook iemand sê: ‘die ongeluk ry my’.
Ander glo ongelukke gebeur in drieë en dan is alles weer normaal.


Projek: Emmer

Kere gelees: 1136 | Totale Kommentare: 53

Wonder bo wonder kom daar toe nog ’n nuwe onderwerp in my kop. Die tema vir hierdie week is ‘EMMER’.

Nee man, nie slop-emmer nie. Tensy jy ’n lekker skryfsel oor ’n slop-emmer kan opdis. Ook nie oor iets so ernstig soos die emmer skop nie. En weer moet ek sê: tensy jy ’n lekker emmer-skop skryfsel kan opdis. En nou is ek soos die Engelsman sê, on the roll. Ek dink aan al die soorte emmers waaroor ’n mens kan skryf.

Wat ek eintlik in gedagte gehad het, was ’n emmer soos in ‘emmer-lys’ of ‘bucket list’. Vertel vir ons in absoluut enige genre van jou voorkeur,  van een of alle items op jou emmer-lys. Dalk is dit iets wat jy alreeds gedoen het of iets wat jy binnekort gaan doen.

Onthou nou, dit kan iets op jou emmer-lys wees of iets so eenvoudig soos ’n melkemmer. Daar is oneindig stories wat nou deur my kop maal en ek kan sowaar nie wag om jou emmer-storie te lees nie.


Projek: Stout

Kere gelees: 1795 | Totale Kommentare: 95

Die tema van ‘Vandag In Woorde’ vir hierdie week is ‘STOUT’. Ek weet vir ’n feit dat daar ’n hele aantal Woestelinge is, wat soms sommer onhebbelik stout is. Ja toe jy, daai vroom gesiggie fnuik my nie!

Sommige is deurlopend stout en ander net sporadies. Hierdie week het ieder en elk die geleentheid om te erken, te bely en te vertel van al die stoutighede wat jy al aangevang het. En as jy nou te vertel het dat jy nog nooit stout was nie, wil ek jou net vra om jou vlerkies reg te skud en jou stralekrans reg te skuif.

Veronderstel dat jou eie stoutigheid nie ’n skryfsel werd is nie, dan is daar sekerlik iemand anders se geite waarvan jy ons kan vertel. Kinders is stout. Troeteldiere is stout. Ander mense se kinders is stout. Pêlle is stout. STOUT kom soms in die vorm van poetse bak. En STOUT kan soms vrek snaaks wees. En soms hand-oor-die-mond onverwags en ongelooflik wees.

Kom ons trek hierdie week ons stoute skoene aan en krap al die verlede se stout geite uit en dis dit op ’n skrywers-bord in die vorm van ’n gedig, rubriek, verhaal of liriek op en bedien jou medeskrywers met ’n sappige lees-happie. Jy mag maar sommer net gorrel ook.

Nou ja ons wag.
Bos-groetnis en stout wees
Kiekies.


Projek: Foto 4

Kere gelees: 1094 | Totale Kommentare: 52

Ek dink dis hoogtyd dat ons weer ’n foto kry wat die verbeelding op ’n koets-rit kan laat wegjaag. Of weg-seil. Of weg-gallop. Of afgly, of opklouter.

Ek wag elke keer met kinderlike opwinding en  skoenlappers-in-die-maag afwagting om te lees wat die foto in verskeie skrywers se harte en gedagtes en siele wakker gemaak het. Nog nie een keer was ek teleurgesteld nie. Hierdie Woes-werf het sulke wonderlike talentvolle skrywers wat op enige leë doek, ’n woord-skildery kan optower.

As jy nog nooit saam geskryf het aan ’n foto-uitdaging nie, hoe lyk dit? Gaan jy ons hierdie keer verras? Al wat jy moet doen, is om ’n rukkie na die foto te kyk, toe te laat dat die beeld in jou kop kom en dan joe oë toe te maak om te sien wat daar agter toe ooglede afspeel. En dan laat waai jy en skryf vir ons ’n gedig, storie of rubriek. Watwou, dalk die lirieke vir die volgende nr. 1 liedjie op die treffersparade!
Maak seker jy las asseblief ‘Foto 4’ by jou titel, sodat lesers dadelik kan sien jy neem deel aan hierdie uitdaging. Nou kan ek nie meer wag om te sien watter idees en gedagtes hierdie foto by ons skrywers wakker gemaak het nie! Kom jy met jou koets of is jy op rolskaatse?

Merke....gereed....SKRYF!


Projek: Voor

Kere gelees: 1526 | Totale Kommentare: 65

Hierdie week se tema vir Vandag in Woorde is ‘VOOR’. Letterlik ‘voor’ of figuurlik ‘voor’. Jy kies self. Voor in die koor, voorbarig of voor op die wa. Dalk is jy ’n voor-danser, voor-sêer of voor-sanger. Voor is die teenoorgestelde van agter, maar voor is ook die teenoorgestelde van na. Ek sê mos: ‘jy kies self’. Skryf iets oor  die ‘voor’ wat in jou kop opspring.

Dalk is dit die water-voor wat water aan die landerye op die plaas voorsien. Jou plaas of jou oupa se plaas. In my grootword dae was daar ’n voor waarlangs al die mynwater weggevoer was. Waarheen, weet ek nie. Dit was ’n heerlike speelplek vir die kinders. In jou geboorte pak moes jy daar afgly, want as jy dit met ‘n swembroek sou waag, was dit sommer gou flenters geskuur en dan wou ma weet waar dit gebeur het en die waarheid sou jou suur bekom.

Daar is ek nou weer heel van trant af. Jy sien, dis die ding van skryf. Jy begin met een gedagte en eindig met ’n gedagte wat niks met die eerste een uit te waai het nie. 


Projek: Foto 3

Kere gelees: 1742 | Totale Kommentare: 70

Die vorige foto uitdagings het die Woesters se verbeelding aan die brand laat slaan en daar het sulke wonderlike bydraes van gekom, dat ek dink dis hoog tyd om die volgende foto vry te stel. Ek kan nie wag vir dit wat ons hierdie keer gaan sien nie!

Vir diegene wat nog nooit deelgeneem het nie, agge nee man, wat makeer vir jou? Maar moenie komkommer nie, hier is nou nog ’n kans. Komaan, neem deel, dis ’n wonderlike ervaring.

Laat ek net weer  verduidelik. Hierby aangeheg is ’n foto.  Ek gaan jou niks vertel van hierdie foto nie. Jy bekyk hom, bedink hom en maak jou oë toe. Dit wat jy daar agter jou ooglede sien, dis waaroor jy skryf. Dalk is dit ’n gedig. Dalk ’n kortverhaal. Dalk is dit die lirieke van ’n liedjie wat eendag van ’n verhoog af aan duisende gesing sal word. Miskien sien jy ’n artikel of selfs ’n rubriek. ’n Gorrel is ook welkom. Enige iets!

Maak seker jy las asseblief ‘Foto 3’ by jou titel, sodat lesers dadelik kan sien jy neem deel aan hierdie uitdaging. Nou kan ek nie meer wag om te sien watter idees en gedagtes hierdie foto by ons skrywers wakker gemaak het nie!

Merke....gereed....SKRYF!

Bos-groetnis
Kiekies.


Projek: Vic

Kere gelees: 3195 | Totale Kommentare: 89

So week of 2 gelede was on tema vir Vandag in Woorde ‘WOES’. Hierdie week is ons tema dan heel gepas ’n Woesteling. Meer spesifiek is die tema ‘VIC’! Ons  geëerde Woes-vriend! Nie sommer hieroor of daaroor nie, maar omdat ons die eer het om op 10 April sy  80ste verjaardag te vier. Jy lees reg ...

’T-A-G-T-I-G’, tien maal agt!

Sou jy dit ooit kon raai aan die pragtige werke wat hy hier op Woes plak, vir ons om te geniet. As jy nog nooit iets van hom gelees het nie, is jy beslis aan die verloorkant. Gaan skrop sommer dadelik op sy werf. Hy skryf in verskeie genres en daar is beslis iets vir ieder en elk om te proe en geniet.

Kom skryf gerus saam en onthou asb om "Vic" in jou titel te gebruik. 




AFGODE

deur Piet Schoombie

Die aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar