Projekte: Vandag in woorde

Projek: Huis

Kere gelees: 421 | Totale Kommentare: 51

Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde, is ‘huis’.
Hierdie woord het ’n hele rits betekenisse. Vir een mens is dit maar net die gebou waarin mense woon. Vir ’n ander beteken dit ’n veilige hawe of ’n plek van welbehae en vrede. Die gesegde lei ook:
‘Oos Wes, tuis bes’.
Selfs dít kan vir verskillende mense verskillende begrippe hê. Omdat Sarie in die buiteland woon, sal ‘huis’ in haar gesprek, haar geboorteland wees. Vir die inwoner van ’n plakkerskamp, is ‘huis’ die hout en sink geboutjie met klippe op die dak, waarin drie gesinne saamwoon. Christene praat van die gebou waar die kerk bymekaarkom, as die ‘huis’ van die Here. ’n Jong getroude paartjie praat steeds van hulle ouerhuis as ‘huis’.
Soms is ‘huis’ ’n tuiste en soms is dit ’n net ’n dak oor die kop.
‘Huis is waar jou hart is’, kan ook verskillende hart gevoelens beteken. Laurika Rauch sing so mooi van haar huisie by die see. Ek wonder of die Wit Huis vir die Obama gesin, soos ’n tuiste voel. Ek dink ook aan koshuis, weeshuis en ouetehuis. In die ou dae was daar gepraat van die boeke huis vir ’n boekwinkel, bakhuis vir die bakkery of ’n koffie huis. Ek onthou die ‘huis’ danse op universiteit en die huissport op skool. Onthou jy nog hoe ons keuses gemaak het met ‘huis, paleis, pondok, varkhok’?
Ek is al weer besig om ’n ander huis te probeer omskep in ’n tuiste en verlang alreeds na my eie huisie by die see. Wat maak jou tuis in ’n huis? Vir mý is dit ’n potjie kappertjies of laventel blommetjies.  Die geur van tuis gekookte kos of koekies en beskuit in die oond. Familie foto’s teen ’n muur.  Wanneer raak ‘huis’ vir jou ’n tuiste?


Projek: Kombers

Kere gelees: 572 | Totale Kommentare: 48

Daar is darem min dinge so lekker as om op koue wintersaande binne-in ‘n dik winterskombers op te krul en ‘n lekker boek te lees of jou gunsteling TV program te kyk.  Miskien met ‘n heerlike beker stomende warm sjokolade om jou hande warm te hou. Of om saam met iemand anders onder die kombers op te krul … 
Lyk my mense het ‘n kombers vir elke doel. Ek dink nou aan ‘n babakombersie, oumenskombersie, hekelkomberse, piekniekkomberse, laslappiekomberse en sommer nog vele meer.
Dan is daar ook heelwat ander konnotasies wat ons aan komberse heg. Ons praat van ‘n wolkkombers as die wolke so oor die berge hang, van ‘n liefdeskombers wat jou omvou, ‘n vriendskapskombers … dit laat my nou dink aan ‘n fliek wat ek eenmaal gesien het, “How to make an American Quilt,” waar ‘n paar vriendinne ‘n storie vertel het met lap. Elke blokkie het ‘n spesifieke herinnering opgeroep en uiteindelik ‘n hele paar verhale vertel.
Deel  jou eie kombersstorie met ons en hou ons almal snoesig warm in die winter wat ons bekruip. Lekker skryf!

Onthou asseblief om die woord "kombers" in jou titel te gebruik.


Projek: Koffie

Kere gelees: 670 | Totale Kommentare: 28

Boeretroos!
‘Ryk en lekker, koffie-kapitaal’ het Jan Spies gesê.
Saai en armer, sou die skepping én die lewe gewees het sonder koffie en koffie winkels en koffie afsprake en koffie eerste ding in die môre en laaste ding vanaand. In ’n blikbeker of ’n keramiek beker. Enige beker, solank dit ’n groot beker is. En stomend warm. Met skuim of room. Saam met kaaskoek of appeltert. Wortelkoek of suurlemoen tert.
Ek wonder hoeveel koffie afsprake het al in ’n huwelik ontaard. Of ’n egskeiding afgeweer. Nuwe vriendskappe laat smee. Ou vriendskappe laat herleef. ’n Aanstelling in ’n nuwe werk bewerkstellig.
Nou toe, kom dan. Vertel vir ons hoe jy van jou koffie hou. En waar. En saam met wie. En wanneer en hoeveel. Skryf en beskryf dit. Sing dit, besing dit of dig dit, maar seblief tog, kom drink ’n koppie koffie saam met my en laat ons daarvan hoor. Of liewer, lees.
Gebruik asseblief die woord "koffie" in jou titel.


Projek: Verandering

Kere gelees: 1085 | Totale Kommentare: 62

Die nuwe tema vir Vandag in Woorde is ‘VERANDERING’.

Anders. Anders! Alles is so anders. Die hele wêreld het verander.
‘Soos wat?’ vra jy. Wag, ek verduidelik.
Ek luister anderdag na ‘Hoe verklaar jy dit’ op RSG. Daar noem Dave Pepler net ’n paar dinge wat verander het en daarmee gaan my gedagtes op gallop, want ek onthou toe skielik ’n hele klomp dinge wat was, maar vandag nie meer is nie.  Of nie meer dieselfde is nie.

Hy noem die volgende:
- In ons grootword jare het die meeste huise ’n groentetuin en ’n hoenderhok vol skrophoenders gehad.
- Elke dorp het ten minste drie slagters gehad.
- Daar was ’n groenteman wat die groente voorsien het wat ons nie self kon kweek nie.
- Babas was by die huis gebore en ou mense het by die huis gesterf.
- Later het moeders in die hospitaal geboorte gegee, maar op die natuurlike manier. Vandag is die gange van die hospitaal stil, jy hoor nie meer ’n vrou wat gil tydens geboorte nie, want dit word pynloos afgehandel.

Wat kon maar dieselfde gebly het en wat het genadiglik verander?
Deel met ons. Herinner ons. Help ons onthou of vermaan ons om te vergeet.

Die enigste konstante in die lewe is dat alles een of ander tyd sal verander.


Projek: Gewoontes

Kere gelees: 1033 | Totale Kommentare: 87

Ons mense is en bly maar gediertes met vreemde en aanhoudende gewoontes. Soms goeie gewoontes en soms slegte gewoontes. Sommige gewoontes erg irriterend. Wetenskaplikes beweer dat enige aksie wat ek herhalend, vir een en twintig dae uitvoer, of net so lank weerhou om te doen, raak ’n aangeleerde gewoonte of ’n verbreekte gewoonte. Ou gewoontes wat mens lankal afgeleer het, bekruip en bespring jou egter soms uit die bloute en sonder dat jy dit verwag. Ek het lankal opgehou rook en as sekere omstandighede weer opduik, soek-soek my hand na ’n gif-pyltjie en wapper my longe van die lus. So moet mens dus voortdurend wilskrag toepas.

 ’n Gewoonte raak tweede natuur. Dis iets wat ons al so dikwels gedoen het dat dit 'n natuurlike deel van ons daaglikse funksionering geword het. As die gewoonte afkeur wek of sleg vir ons gesondheid is, of eenvoudig onaangenaam of aanstootlik is, word dit as 'n slegte gewoonte beskryf. Meeste van ons het ten minste een slegte gewoonte wat ons bitter graag wil breek, maar verandering is harde werk -  en daar is geen maklike manier om so 'n gewoonte te bowe te kom nie.

Terwyl daar dan so baie daaroor te sê is, het jy mos g’n rede om nie ook ’n bydrae van enige lengte te lewer nie. Vertel ons van eienaardige gewoontes wat jy al opgemerk het of dalk sommer self aangeleer het. Toe man, ek daag jou uit. Of as jy verkies, vra ek mooi. Kom wees ’n ‘sport’ en deel met ons. 


Projek: Diere

Kere gelees: 1997 | Totale Kommentare: 99

’n Slim mens het lank gelede gesê dat die mens se beste vriend ’n hond is. (Ek het geen idee wie dit was nie) Daar is ’n hele paar dames wat egter reken diamante is ’n vrou se beste vriend, maar hulle ken seker nie die liefde van ’n hond nie. Ek het ook al baie gehoor dat mens vir jou ’n hond moet koop, as jy lojaliteit wil hê. Dis helemaal waar. Ek het nog altyd in beroepe gestaan waar ek met mense te doen gehad het en hoe langer ek met mense gewerk het hoe liewer het ek vir my diere geword.
Is jy lief vir diere? Skryf dan daaroor.
Doen jou hond of kat snaakse dinge? Vertel vir ons daarvan.
Gril jy vir diere? Sê tog maar.
Het jou hond al met jou terug gepraat? Deel met ons, ons sal jou glo.
Was daar iewers in die verlede ’n baie spesiale troeteldier in jou lewe? Dig aan hom of haar ’n ode toe en deel dit met ons.
Is dit jý wat ’n vreemde troeteldier aanhou? Verras ons met die details.
Dalk is daar ’n dier in jou. Stel ons voor. As jy kon kies om ’n dier te wees, wat sou jy kies?


Projek: Juweel

Kere gelees: 1771 | Totale Kommentare: 109

Die nuwe tema vir ‘Vandag in Woorde’ is Juweel.
Definisie:
1. ’n Edelsteen, meestal geslyp en in metaal gemonteer. Iets soos ’n robyn, smarag of diamant wat tesame met ’n metaal omhulsel omskep is in ’n ring, hanger, armband ens.
2. Iemand wat vir jou baie belangrik is en uitstekend is in sy/haar rol.

Dit die letterlike betekenis, maar dis lánk nie waar dit eindig nie.

Wat ook al ’n liggie aangeskakel of ’n klokkie laat lui het by aanhoor van die woord ‘juweel’, kom vertel ons daarvan. Wie of wat is jou juweel? Waar lê die waarde daarin? Verras ons, stel ons voor en deel ons mee. Onthou tog die ‘Volwasse bydrae’ skakel indien van toepassing.


Projek: Bêre-goed

Kere gelees: 2074 | Totale Kommentare: 146

Almal bêre iets. Iewers in ’n laai of ’n boksie of agter ’n toe deurtjie. Om te onthou om nie te vergeet nie. Dan op ’n terugdink dag word dit uitgehaal. Baie versigtig. Om weer te bekyk, weer te onthou, weer te voel soos die dag wat jy dit die eerste keer gesien het. Dis nie ’n man-ding of ’n vrou-ding nie, dis ’n mens-ding.
Daar is ’n wye verskeidenheid van bêre-goed met net so verskeidenheid van bêre-redes. So is daardie gedroogde platgedrukte roosknoppie of madeliefie wat hy vir haar gegee het die aand wat sy die eerste grootmens soen gesmaak het. Die Wicks-borrelgom papiertjie wat hulle in die bioskoop gedeel het toe hy die eerste keer aan haar hand geraak het. Die strooitjie uit die eerste blikkie Marinda wat hulle saamgedrink het. Die laai vol foto’s van vorige kêrels of nooiens. Dalk ook ’n stapeltjie liefdesbriewe wat ruik na laventel of Eau-de-cologne 4711, met ’n blou lintjie vasgebind.

Waaruit bestaan jou bêre-goed en waarin bêre jy dit en vir watter rede? Wanneer haal jy dit uit en hoe voel jy dan? Vir wie wys jy dit? Hoe lankal bêre jy dit? Laat ons asse-groot-blief tog toe om saam te kyk, te onthou en te beleef. Ons sal met respek, baie versigtig met jou bêre-goed werk.


Projek: Monsters

Kere gelees: 1230 | Totale Kommentare: 103

Definisie: Monsters
- ’n Afgryslike wese wat mense bang maak.
- ’n mens wat soos ’n monster lyk of soos een optree.
- ’n klein stukkie of bietjie van iets.
Daai goed onder die bed, wat pa elke aand moes verjaag voor jy in die bed sou klim, toe jy ’n kind was. Onthou jy nog? Ek was al op hoërskool toe dit nog deurentyd vir my gevoel het daar is iets onder die bed. Toe nie meer ’n halfmens half-dier ding soos in sprokies nie, maar ’n rower of ’n moordenaar wat net op my wag om in die bed te klim voor hy toeslaan. Met al my krag het ek die hokkiestok in ’n halfmaan onder die bed geveeg.
Glo dit as jy wil, maar terwyl ons groot raak, groei die monsters saam en ondergaan ’n gedaante wisseling. Kom ek herinner jou aan ’n paar groot-mens monsters:
- Die spietkop wat in die skadukol van die brug sit.
- Die tandarts se singende boor.
- Die sperdatum vir jou belasting opgawe.
- Die monsters wat net in jou kop bestaan: Ek kan nie
- Ek vergeet altyd  
-  Ek is nie goed genoeg nie    ...

Laat ’n monster in jou oor fluister, luister mooi en kom skinder op skrif by jou Woes-tyn vriende.                                                                  
 


Projek: Verniet

Kere gelees: 1276 | Totale Kommentare: 78

‘VERNIET’ is dan hierdie week se tema en ek deel ’n paar van my verniet dinge:
Die blinklyf vissies wat om my voete dartel.
Die watte-bol wolke wat die uitspansel vul.
Die reuk en gesuis van die see.
Die pienk wye-bek glimlag van Brakkie wat opgewonde om my rond hardloop.
Die gelag van kinders wat mekaar natspat.
Die natuur skildery van ’n spierwit seiljag op die topaas-blou water.
Die purper, violet en rosige berge wat my rug bewaak.
Die gejil van die meeue en gekras van die ganse.
’n Vriendelike groet en glimlag van die stappers wat verbykom. Vir my en Brakkie.
Dis wat ek daar op ons uitstappie waargeneem het, maar toe dink ek verder:
Die liefde van my Bokka en my kinders en familie.
Vriendskappe vol omgee.
Die skitterblink sterre in die nagdonkerte.
Brandewyntert se sonsopkoms. (Dalk nie, want sy het daarvoor betaal met die nag-opstaan.)
Vars lug in die natuurskoon.
Plante, diere en klippe.
Loop, sien, hoor en praat.
Woorde om mee te kommunikeer.
Elke asemteug.
Elke nuwe dag.

Nou vra ek hierdie week: Maak jou oë, ore en hart oop. Neem waar en deel deur jou talent en passie vir skryf, in ons verniet-allermooiste-Afrikaans. Al die verniet dinge in jou lewe en omgewing, wat dit ’n vreug maak om te lewe.


Projek: Wag

Kere gelees: 1978 | Totale Kommentare: 126

Woordeboek definisies vir die woord ‘wag’:
- Iemand wie se werk dit is om ’n plek of persoon op te pas en te beskerm.
- Iemand wat moet verhoed dat gevangenis ontsnap.
- Posisie inneem totdat iemand kom of iets gebeur.
- Weerhou om iets te doen, uitstel tot later.

’n Baie groot deel van ons lewens bestaan uit wag. Vir die mens wat van sy derde jaar af, nét ’n halfuur per week moes wag, sal teen sy sewentigste lewensjaar meer as sewentig dae en sewentig nagte om gewag het.
Watter wag is vir jou die ergste? Wat neem jy waar, terwyl jy wag? Hoe verwyl jy die tyd terwyl jy wag? Vertel ons van ’n tyd wat jy moes wag.
Of van daai dinge wat jy laat wag deur uit te stel. Van uitstel kom afstel en later is jy teleurgestel. Hoeveel dinge wag al hoe lank om klaar te kom, hê?

Rym, vertel, gorrel of sing
Hoe hanteer jy die WAG-ding?
Ek het geleer: ‘Hy wat op die Here wag,
kry nuwe krag.’


Projek: As ek ...

Kere gelees: 2118 | Totale Kommentare: 101

As ek maar ’n digter was of as ek maar ’n skrywer was. Of is ek dalk? Ek praat mos nie van gepubliseerd of bekroond nie. Ek praat net van optree in die funksie van ’n digter of ’n skrywer.
As ek die president van hierdie land was………………
As ek die minister van finansies was en die laaste begroting moes saamstel……………………..
As ek baie, vreeslik baie, geld gehad het…………………………
As ek meer tyd in ’n dag gehad het………………………..
As ek nog twintig jaar by my lewe kon bylas…………..
As ek kon sing of dans of golf speel of toneel speel………
As ek soos Jennifer Lopez of Angelina Jolie of Gerard Butler of Brad Pitt gelyk het……..
As ek Warren Buffett of Donald Trump was……….
As ek die Moeder Heiligste van ’n klooster was………..
As ek nie my sonde ontsien nie …………


Projek: Leuens

Kere gelees: 2359 | Totale Kommentare: 102

Hierdie week se tema vir ‘VANDAG IN WOORDE’ is: LEUENS. En dis die reine waarheid.
Definisie van ’n leuen: doelbewus iets vertel wat onwaar is om uit die moeilikheid te kom, iemand anders skade te berokken of aandag te soek.
Jok. Lieg. Wit leuentjies. Valse getuienis. Ons lees in die Bybel daarvan. Ons lees in die koerante daarvan. Ons sien en hoor daarvan in die nuus. Ons kyk flieks en TV-reekse daaroor. Ons beleef dit. Ons haat dit met ’n passie. Huil daaroor, skel daaroor, bal ons vuiste. Beplan wraak om leuenaars te laat boet. Ons protesteer en toi-toi en swaai plakkate met uitgestrekte arms.
Langenhoven het van lieg en waarheid gesê:
- Die toets van 'n man is, hoeveel daar nodig is om hom te laat lieg.
- Waar is die waarheid. Ja, waar is hy, dis waar. Maar waar is hy?
- 'n Man wat sy toevlug tot 'n leuen moet neem, vind dikwels uit dat hy in 'n huis gaan skuil het wat nie 'n agterdeur het nie.
- Hoe meer waarheid daarby is, des te gevaarliker is 'n leuen. Die oneerlike melkboer sal niemand bedrieg as hy die bottels vol skoon water maak nie.
- Aanneemlikheid en waarskynlikheid is die lewensbloed van 'n leuen. 'n Leuen wat uit die staanspoor uit nie geglo word nie is 'n doodgebore duiweltjie.
- Om doeltreffend te lieg, moenie die waarheid heeltemal omdraai nie: hou hom skuins.
- Rek die waarheid en jy doen aan hom te kort.


Projek: Versamel

Kere gelees: 1156 | Totale Kommentare: 55

Definisie:  Bymekaarmaak, bymekaarbring.
’n Versamelaar is die persoon wat die versamel-aksie uitvoer en ’n versameling is dan die bymekaargemaakte goed wat die versamelaar versamel het.
Vir baie mense is ‘versamel’ ’n stokperdjie. Ons dink uit die staanspoor aan filatelie wat die versameling van seëls is. Hierdie mense is baie ernstig oor hulle bymekaarmakery en is ook heel dikwels bereid om ’n aardige bedraggie op te dok vir spesifieke seëls wat ontbreek in hul versameling.
Kom vertel ons in jou verkose genre, wat is dit wat jy versamel of opgaar en vir watter rede maak jy bymekaar. Jy kan maar jou geheime uitlap of die waarde van jou versameling bekend maak. Ons sal nie uitpraat nie.


Projek: LIEFDE

Kere gelees: 11341 | Totale Kommentare: 213

Die tema vir hierdie Valentyn week is …… kan jy raai…….? Agge toe man, probeer. Gee jy op? Wag, ek sê maar…..dis LIEFDE.

Die HAT sê: liefde is ’n gevoel van sterk tot iemand/iets aangetrokke voel. En dis maar net die begin. Verder weet ons dat liefde in drie klasse verdeel word.

Eerstens is daar Eros liefde. Dit laat my vreeslik aan Enos dink en dis presies wat dit is. Romantiese, borrelende, vlinders in die maag verlief geit. Oeee, lekker-kry opgewonde jeukerige liefde. As dit nie oorgaan na ware lank-hou, uithou en aanhou liefde nie, is dit oor en verby teen die tyd dat die borrels in die glas stil geraak het.

Dan is daar Philo liefde en die naam is afgelei van Philadelphia, wat die stad van broederlike liefde is. Dit verwys na vriendskaplike liefde en liefde vir jou boetie en sussie.

Derdens is Agapé liefde. Dit is onvoorwaardelike liefde soos God die mens liefhet. Dis onverdiend en onveranderbaar en onbeperk.

Soos Gé Korsten gesê het: As jy voel jy wil sing (of skryf), sing (of skryf) van liefde!


Projek: Die klank van ...

Kere gelees: 2520 | Totale Kommentare: 130

Die nuwe tema vir hierdie week is “Die klank van ...”

Klank gaan by die ore in, word deur een of ander sensor gestuur wat besluit of dit vandaar na jou hart of jou brein toe gaan. Dis wat ék sê, want dis wat met my gebeur en ek glo met meeste mense wat ’n oor het om te hoor.
Nou weet ons ook daar is mense wat luister maar nie hoor nie, of hoor maar nie luister nie.

Navorsing het bepaal dat klank ’n direkte effek op jou emosies het. Ons weet mos dat een enkele musiekstuk jou gemoedstemming helemaal kan verander.  Dit sit ’n huppel in jou stap wanneer daar dopamien in jou brein afgeskei word.  Of die walle van ’n trane-dam bars. Ek het geen idee watse afskeiding dit veroorsaak nie.  

Daar is so baie om te vertel oor klanke en geluide. Ware verhale, liefdes gedigte, spookstories en verbeeldings togte.

Ons wil graag ‘hoor’ wat jy te vertel het.

Onthou asseblief om die woorde: "Die klank van" in jou titel te gebruik.


Projek: Die reuk van ...

Kere gelees: 1896 | Totale Kommentare: 59

Vandag in woorde se tema is hierdie week: Die reuk van …
Wat ruik jy? Wat onthou jy? Hoe voel jou hart dan?  Beskryf en besing vir ons die reuk-herinneringe in jou lewe.


Projek: Toentertyd

Kere gelees: 2774 | Totale Kommentare: 117

Vandag in woorde se nuwe tema is ‘Toentertyd’.

Of jy 16 of 46 of 76 is. Almal het ’n toentertyd. Dis nie-gekoppel aan ’n jaartal nie. Party mense se toenter is net toenterder as ander s’n. Van ’n paar manne onder die WOES-tyne, wonder ek wie die toenterste stories kan vertel. Hierdie is ook ’n geleentheid om toenter-fiksie op te dis.
Ai man, vervloë ou dae verskaf ’n magdom dinge om oor te oee of te aaaa! Te rym of redeneer, te dig of droom, te sing of skinder, te lieg of te lag.
Ek sê saam met Carika Keuzenkamp: Hoeka Toeka   JA, JA!

Onthou asseblief om die woord “ Toentertyd” in jou titel te gebruik.


Projek: WOES/RSG Januarie 2013

Kere gelees: 7704 | Totale Kommentare: 260

Amore en ek het vanoggend e-posse gestuur laat dit klap. Dit was nadat ek 10 gedigte vir haar gestuur het en sy niks met haar voel “praat” het nie. Sy soek iets vars en nuut om voor te lees. So, dis hoekom ons nou ‘n nuwe projek gaan loods.
Sy lees die gedigte met gevoel voor en moet self daarmee kan “kontak maak” – die gedigte wat sy voorlees moet in mens se gedagtes bly speel na die tyd en ‘n spesifieke gevoel by die luisteraar wek.
Ek haal  ‘n gedeelte uit haar laaste e-pos aan, direk nadat ons besluit het om ‘n nuwe WOES/RSG Projek vir Januarie te loods ...
“Great, en gooi dit oor die boeg van ...mense gaan nie onthou wat jy geseg het nie, ook nie wat jy gedoen het nie, maar hoe jy hulle laat voel het......Maya Angelou”
Ok, so ons almal weet nou watter tipe gedigte sy kies om voor te lees.

Gedigte kan onder die PROJEK-skakel geplaas word onder WOES&RSG Januarie 2013.
Onthou asseblief om “WOES/RSG Januarie 2013 in jou titel te plaas, byvoorbeeld:
WOES/RSG Januarie 2013: Berkebome en Mos


Projek: Tuin

Kere gelees: 2528 | Totale Kommentare: 166

Die tema vir hierdie week is Tuin. Dis oudste tuin waarvan ek weet is die een van lank-lank gelede. Daar was ’n man wat al die skuld op sy vrou gepak het en ’n vrou wat haar ore uitgeleen het en ’n slinkse slang en ’n verbode vrug. Net daar in Eden het daai twee mense ’n moeviese groot fout gemaak.
Tuinmaak is ’n vreugde wat baie Woesters geniet. Of so dink ek. Eendag is eendag sal ek nog Sneeuwolf se groentetuin in bakke, persoonlik gaan inspekteer. Ek na-aap hom op die oomblik, maar wag nog vir my sukses.
Vertel ons van die plesier wat jy smaak in jou tuin. Is dit ’n blomtuin, vetplanttuin, groentetuin of rotstuin? Drie potte op die balkon is ook ’n tuin! 
Ek het onlangs groot plesier gesmaak in die Kirstenbosch Botaniese tuin, want ons Krismis-boks van die kinders af, was kaartjies vir ’n konsert daar. Het jy iets spesiaal in ’n tuin beleef? Dalk ’n partytjie of troue. Vertel tog, ons wil hoor!
As jy terugkyk, hoe lyk die tuin van jou lewe? Wat kan jy uithaal en vernietig, of dalk net verplant?  Gee vir ons raad en advies, dalk luister iemand. Wat onthou jy van die tuin waar jy grootgeword het?
Ons wil graag jou tuin-wedervaringe deel. En wat van ’n foto of twee?


Projek: Skool

Kere gelees: 3392 | Totale Kommentare: 99


VANDAG IN WOORDE: Skool
Dis weer sulke tyd! Môre begin die skool en wat lekkerder as om bietjie aan ons skooldae te dink hierdie tyd van die jaar? Kom ons skryf oor alles wat met skool te doen het – skooldae, skoolliefdes, skoolklere, skoolkyse, skoolboeke, skoolsport en skoolsports, skoolvakke, skoolbus, skoolmaats ...
Hier is ’n paar aanhalings om die grysstof aan die gang te kry ...
“Wysheid is nie ’n gevolg van skoolgaan nie, maar volg op lewenslange soeke daarna.” (Albert Einstein)
“Wiskunde is nie logies nie ... Vraag: Jan het 30 stafies sjokolade. Hy eet 23. Wat het hy nou? Antwoord: Diabetes?” (Taramuah)
“Skool het my 3 dinge geleer: 1. Om te SMS sonder om te kyk  2. Om met oop oë te slaap 3. Spanwerk met toetse.” (Anoniem) 
“Hoe los jy hierdie wiskundeprobleem op die swartbord op: 2x2xb/(8+21N) 7x45? Dis maklik. Jy stap na die swartbord toe en vee dit uit. Probleem opgelos.” (Anoniem)


Onthou asb. dat die woord “skool” in jou titel moet voorkom.

Geniet dit!


Projek: Nuwe Jaar 2013

Kere gelees: 2280 | Totale Kommentare: 59

Wat maak jou opgewonde oor 2013? Het jy spesiale planne, voornemens of dinge wat jy wil láát gebeur?
Hier volg ‘n paar aanhalings van bekendes oor die begin van ‘n nuwe jaar:
“Die verskil tussen jeug en ouderdom is maklik om te bepaal. Jy’s jonk wanneer jy toegelaat word om tot middernag wakker te bly op Nuwejaar. Jy’s oud wanneer jy gedwing word om wakker te bly …”  (Bill Vaughan)
“’n Optimis bly wakker om die nuwe jaar te verwelkom. ‘n Pessimis bly wakker om die ou jaar te groet.” (Bill Vaughan)
“Mag al jou probleme so lank as jou Nuwejaarsvoornemens hou.” (Joey Adams)
“Oor twintig jaar sal jy meer teleurgesteld wees oor goed wat jy nie gedoen het nie as dinge wat jy wel gedoen het. So, wees dapper – seil weg van die veilige hawe en voel die wind in jou seile. Soek. Droom. Ontdek.”  (Mark Twain)
“Gesondheid op die Nuwejaar en nog ‘n kans vir ons om dit te probeer regkry.”  (Oprah Winfrey)

Onthou asb: Die woorde: ‘n Nuwe Jaar: 2013 moet asb in jou titel voorkom.

Voorspoedige Nuwejaar!!!


Projek: Kersfees

Kere gelees: 3509 | Totale Kommentare: 59

Die gee van presente is 'n byna universele deel van Kersfeesvierings. Die begrip van 'n mitiese figuur wat geskenke bring vir die kinders, kom van Sint Nikolaas, 'n goedhartige biskop uit die 4de eeu in Klein-Asië. Die Nederlanders het 'n geskenkbringende Sint Nikolaas rondom sy feesdag op die 6de Desember geskoei. In Noord-Amerika het Engelse koloniste verskeie aspekte van hierdie fees aangeneem in hul Kersfeesviering, en Sinterklaas het Santa Claus geword. In Anglo-Amerikaanse tradisie kom hierdie joviale persoon op 'n slee aan wat deur takbokke gesleep word, klim teen die skoorsteen af, laat presente vir die kinders agter, en eet dan ook die kos wat vir hom agtergelaat word. Hy spandeer die res van die jaar dan met die maak van geskenke en hou boek oor die kinders se gedrag. In sommige kulture word Kersvader vergesel deur 'n handlanger genaamd Rupert, of Swarte Piet. In sommige verhale werk elwe in 'n werkswinkel en maak geskenke; en in ander is Kersvader met Mevrou Claus getroud. In baie winkelsentrums in die westerse wêreld is daar dan ook oor kerstyd 'n Kersvader vir wie kinders kan besoek en kan vra vir presente.
In baie lande laat kinders leë houers agter vir Kersvader om vol te maak met geskenke soos speelgoed, lekkergoed of vrugte. In die V.S.A. hang kinders 'n kerskous by die kaggel op Oukersaand sodat Kersvader dit kan volmaak gedurende Oukersnag. In ander lande weer plaas kinders hulle leë skoene daar sodat Kersvader dit vir hulle kan volmaak en in die geval van Sint Nikolaas op die 5de Desember. Die gee van geskenke word egter nie tot hierdie geskenkbringers beperk nie en vriende en familie gee ook aan mekaar geskenke.


Projek: Vakansie

Kere gelees: 2384 | Totale Kommentare: 61

Hierdie tyd van die jaar kan mens maar nie anders as om in daai lui-lekker vakansie gevoel vasgevang te word nie. Hierdie projek kan handel oor vakansieromanse, vakansie by die see, vakansie in die bos, die rit af see toe, vakansie oorsee, vakansiekos … kortom, enige iets met vakansie te doen.

Vertel ons van droomvakansies, vakansiedrome, vreemde vakansies, ver vakansies, vakansies by die huis …

Onthou asb dat die woord “vakansie” in jou titel moet voorkom

Geniet dit!!!


Projek: Spesiaal vir Jou

Kere gelees: 8667 | Totale Kommentare: 185

Vandag in Woorde hierdie week se tema is: Spesiaal vir Jou

Dis alweer byna die einde van 2012 en ek is seker daarvan dat een en almal van ons tot dusver ‘n propvol jaar gehad het. Mens doen dikwels nabetragting gedurende hierdie laaste maand van die jaar en hopelik is daar iemand spesiaals vir wie jy ‘n mooi boodskap wil gee.
Skryf ‘n gedig, gorrel of enige bydrae wat ons meer vertel van hierdie spesiale persoon of persone óf rig jou unieke woorde spesiaal aan hierdie persoon of persone.
Jy wil miskien iemand in jou lewe verwelkom met jou mooi woorde of tot siens sê aan iemand wat nie meer deel van jou lewe is nie …
Woorde het soms meer krag as geskenke, so neem hierdie kans om daai kreatiewe woorde aan iemand spesiaal te rig. Dis ‘n baie spesiale geskenk wat mens altyd saam met jou kan dra.

Onthou asb: Die woorde “Spesiaal vir jou/julle” moet asb in jou titel voorkom.

Geniet dit!


Projek: Helde & Heldinne

Kere gelees: 3198 | Totale Kommentare: 107

Hierdie week se interessante tema is deur Viooltjie voorgestel – baie dankie!

Ons gaan oor helde en heldinne skryf en die karakters kan fiktiewe sprokieskarakters wees óf helde en heldinne uit die werklike lewe.

Vervolgens, ‘n aanhaling van Ayn Rand:

“In die naam van die beste deel binne jou, moenie hierdie wereld opoffer aan diegene wat die swakste en slegste van die lewe verteenwoordig of versinnebeeld nie. In die naam van die waardes wat jou lewe rig, moenie dat jou beeld van die mens verwronge raak deur die lelik, die lafhartige en gedagteloosheid wat jy daagliks mag aanskou nie. Moenie jou vurigheid vlammetjie-vir-vlammetjie verloor  in die “miskien” of onsekerheid  nie.

Moet nooit toelaat dat die held of heldin in jou wese sterf of vergaan nie.” 

Jy kan natuurlik ook jou eie sprokiesgedig of –verhaal sryf …

Onthou asb: Helde en Heldinne moet in jou titel voorkom.

Ons sien uit na almal se fabels en verhale!!!


Projek: Gaste om my Tafel

Kere gelees: 3117 | Totale Kommentare: 103

Gestel jy kan kies, wie is die gaste wat jy die graagste om jou tafel sal wil hê? Hier hoef jy nou glad nie realisties te wees nie – kom ons fantaseer miskien ‘n bietjie … jy kan byvoorbeeld vir Moeder Theresa nooi, of vir Mandela, vir Paolo Coelho, André P Brink, of sommer enige mense wat jy wil. Miskien daai outjie met die mooi oë wat naby jou in die klas sit, miskien van jou familie wat jy lanklaas gesien het …
Jou gastelys mag so lank wees as wat jy wil! Jy kan ons vertel wat op jou spyskaart is as jy wil, of jy kan vertel waaroor julle praat. Vra die mense vrae …

Onthou: Begin asseblief jou titel met die woorde … Gaste om my tafel

Geniet dit en vertel ons van jou heerlike ervaring! 


Projek: Bygelowe

Kere gelees: 2581 | Totale Kommentare: 41

Wat veroorsaak bygelowe? Wie dink dit uit? Sneeuwolf het voorgestel dat hierdie week se tema oor “bygelowe” moet handel en hier gaan beslis baie interessante bydraes geplaas word.
Net om julle aan die gang te sit …

1 Vrydag die 13e is ‘n ongelukkige dag
2 ‘n Appel ‘n dag hou die dokter weg
3 Moenie onder ‘n leer deurloop nie – dit bring ongeluk 

Onthou asb dat die woord  “Bygelowe” in jou titel moet voorkom.

Om verstom ons met jou bydraes oor bygwlowe … 


Projek: Snor

Kere gelees: 1859 | Totale Kommentare: 49

Vandag in Woorde: Snor/re (Movember)

November is weer snortyd vir die manne! Die doel is om fondse in te samel vir instansies en bewusheidsprograme te loods wat help om manlike gesondheid te bevorder, met spesifieke klem op prostaat – testikulêre kanker. KANSA (CANSA) is sterk by hierdie programme betrokke.

Kom ons ondersteun hierdie projek en skryf bydraes oor snorre!

Uitdaging aan die Woes manne: Groei jul snorre en stuur foto’s. Ons sal die WOES Snorkoning aan die einde van die maand kroon.

Onthou: Die word snor moet asseblief in jou titel voorkom.

Dis ‘n harige besigheid hierdie … 


Projek: byname

Kere gelees: 2119 | Totale Kommentare: 47

Hierdie week se Vandag in Woorde gaan ‘n bietjie fokus op byname. Waar kom dit vandaan? Gee mense mekaar nog byname of was dit iets wat meer in ons voorouers se tyd aan die orde van die dag was?

Byname of troetelname? Is daar ‘n verskil?


Projek: Idiome

Kere gelees: 6253 | Totale Kommentare: 105

Hierdie week se Vandag in Woorde projek is deur Elvina voorgestel. Slim keuse. Ek dink ons gaan baie pret daarmee hê.

Hier is ‘n paar voorbeelde om jul tande mee te slyp:
Hy drink Adamsbier. (Hy drink water)
Hy eet met Adamsvurk. (Hy eet met sy hande)
Sy het weer aalwyn afgetap. (Sy’s in ‘n slegte bui)
Moenie hom in die gesig krap nie. (Moenie hom beledig nie)
Hulle was deeglik aangesmeer. (Hulle was hegte vriende)
Die idée wil my nie aanlag nie (Ek hou nie van hierdie idée nie)

Ek haal my hoed af vir diegene wat hierdie klompie idiome hier bo geken het. Dit het my met die eerste oogopslag heel kop aangesit. Ek het so min daarvan geweet as ‘n kat van saffraan en kon geen hond haar-af maak nie.

Onthou: Die woord “Idiome” moet asseblief deel van jou titel uitmaak.

Wys die ander WOESters bietjie waar Dawid die wortels gegrawe het.


Projek: 100 Woorde

Kere gelees: 10092 | Totale Kommentare: 242

Hierdie gaan ‘n tandeknersende, hare-uit-jou-kop-trek en voet-stampende oefening wees, maar wanneer jy dit regkry, mag jy jouself maar op die rug klop.

Sneeuwolf het met hierdie voorstel gekom en daag alle Woesters uit.

Enige bydrae wat jy lewer, hetsy gedig, artikel, gorrel, rubriek, kortverhaal of watookal, mag net 100 woorde lank wees.  Die 100 woorde sluit nie die titel in nie.
Jy kan enige tema kies. Ek wonder wat sal mens ‘n 100 woorde kortverhaal noem – miniverhaal? Milliverhaal? In alle geval, dit is gróót pret en mens leer gou om jou woorde selektief te kies.

Jou titel sal só lyk:  100 Woorde: Jou eie titel

ONTHOU: Jou titel se woorde word nie getel nie. Jy mag ook nie helfte van die storie in jou titel vertel nie ...

Geniet dit en kom ons kyk wie kry dit almal reg!



Projek: Skoene

Kere gelees: 3575 | Totale Kommentare: 73

Skoene? Ja, hierdie week se tema is skoene. Dink ‘n bietjie hoeveel daar oor skoene te sê is: ek wens ek was in sy skoene; hy staan sy skoene vol; hy kan sy ou skoene agterna gooi; loop eers ‘n ent in ‘n ander ou se skoene ...

ONTHOU: Gebruik asb die woord skoen/skoene in jou titel.

Skoene sê baie van die mense wat hul dra, hul volstaan en die pad met hulle loop. Vertel ons van jou skoen-stories ...


Projek: Resep

Kere gelees: 5284 | Totale Kommentare: 129

Hierdie een gaan ons klomp op Woes se kreatiwiteit, wysheid en oorspronklikheid beslis toets: Ons soek jóú resep of resepte vir:

Lekker kos, die liefde, geluk, hoe om ‘n braaivleisvuur reg aan te pak, geduld, sukses, lang verhoudings, braaivleispap, jou eie spesialiteit, hoe om kerse te maak, sagmoedigheid, flopvrye koek, hoe om geld te spaar, ‘n goeie lewe  ....

“Ek het resepte wat beveel doen dit, doen dat. Wie máák hierdie reëls?” (Emeril Lagasse)
“Ek is mal oor kook; dis een van my gunsteling tydverdrywe – om my voorsate se resepte te maak en die ou tyd weer te proe.” (Lance Bass)
“’n Mengsel van bewondering en empatie is een van die beste resepte vir werklike gevoel.” (Arthur Helps)

ONTHOU: Gebruik asb die woord “resep” in die titel van jou bydrae.

Kom ons kook ‘n WOESte storm los!
 


Projek: Vrou

Kere gelees: 8357 | Totale Kommentare: 154

Nou is dit vrouens se beurt ...  Laat waai met bydraes en kom ons kyk of almal soveel te sê het oor vrouens as oor mans. Hier is ‘n paar aanhalings van bekendes om die gedagtes los te kry:

“Een van die moeilikste goed in die lewe is om ‘n vrou te oortuig dat selfs ‘n winskoop geld kos.”  (Edgar Watson Howe)
“Vrouens is soos karre: alle mans wil ‘n Ferrari hê, soms ‘n 4x4, maar enidig gewoonlik op met ‘n stasiewa.” (Tim Allen)
“Mans is vreemd, maar vrouens is by verre meer vreemd.” (Lord Byron)
“Daar is 3 maniere om nuus te versprei: telegram, tevisie en televrou.” (Anoniem)

ONTHOU: Die woord  Vrou/vrouens/vroulik/vroumens moet asb in jou titel voorkom.

Hierdie gaan interessant wees ...
 


Projek: Renoster

Kere gelees: 4594 | Totale Kommentare: 58

Saterdag, 22 September is Wêreld Renosterdag en ons dra hierdie week se Vandag in Woorde op aan een van die mees bedreigde spesies tans in die wêreld.

Daar word egter tong-in-die-kies na mense ook verwys as renosters. Dink maar aan:
Hy’s so blind soos ‘n renoster. (Hy kan nie goed sien nie)
Hy’t ‘n renostervel. ( Hy steur hom nie aan wat mense van hom dink nie)
Hy’t  ingestorm soos ‘n renoster. (Blindelingse aanval; fisies of met woorde)

ONTHOU: Gebruik asb die word “renoster” in jou titel.

Kom deel asseblief jou bydraes oor renosters met ons en ondersteun so ons klein bydrae tot die aanloop na Wêreld Renosterdag.


Projek: Mans

Kere gelees: 7824 | Totale Kommentare: 230

Hierdie week se tema handel oor daai (dier)bare, vreemde, onverstaanbare en onweerstaanbare spesie wat op die aarde rondloop: MANS. Soos die spreekwoord lui – Jy kan nie saam met hulle leef nie, maar ook nie sonder hulle nie ...

Mans en vrouens is ewe welkom om bydraes te lewer. Ons sal graag wil hoor wat dink albei geslagte van regte boerseuns, sjarmantiese metro-mans, die “Camel”-man-tipe, en die skamerige outjie langsaan ...


ONTHOU: Die woord “man/mans” moet asb in jou titel voorkom.

Wat dink vrouens van mans en wat het mans oor hulself te sê?


Projek: Lente

Kere gelees: 5471 | Totale Kommentare: 228

Vandag in Woorde: Nuwe Projek: Lente

Hierdie week se tema is “lente” en ons kan heerlik daarmee rondspeel. Dink byvoorbeeld aan ... lentebloeisel, verspeelde lente,  die lente van jou lewe en so meer.
Bekendes het heelwat te sê oor lente:
“Die dag toe God hoop geskape het, was seker dieselfde dag as wat Hy lente geskape het.” (Bern Williams)
“Lente is die natuur se manier om te sê, ‘Kom ons hou partytjie!’” (Robin Williams)
“Sit stil, doen niks ... lente kom en die gras groei vanself.” (Lao Tsu)
“Lente ontwaak die blomme om die laggende grond te verf.” (Biskop Reginald Heber)
“Winter is op my kop, maar ewige lente woon in my hart.” (Victor Hugo)
“ Die eerste dag van die lente is een ding en die eerste lentedag is ‘n ander. Soms is hulle ‘n maand uitmekaar.”  (Henry van Dyke)
“ Gee nie om hoe lank winter is nie, lente volg verseker.” (Ou Spreekwoord)

ONTHOU: Die woord “lente” moet asseblief in jou titel voorkom.

Verwelkom die LENTE met ope arms!






Projek: Wonder

Kere gelees: 8252 | Totale Kommentare: 337

Hierdie week se projek handel oor “wonder” en is deur die nimlike Brandewyntert voorgestel. In werklikheid was haar voorstel, “ek wonder ...” maar mens kan die “wonder “– idee seker ook ‘’n bietjie wyer neem. Ons dink hier aan “bewonder”, “verwonder”, “wonderlik”, "wonderwerk" en meer. Ons Nuusartikel bevat talle wyshede oor "wonder" deur bekende persone.

ONTHOU: Gebruik asb. die woord “wonder” in jou titel.

Verstom ons met jou wonderlike bydrae oor wonder!
 


Projek: Droom

Kere gelees: 4523 | Totale Kommentare: 111

Hierdie week se Vandag in Woorde projek is “droom” en ek is seker daarvan dat elke een van ons drome het. Ons droom ook nie net in die nag nie, maar veral wanneer ons wakker is ...

Lees bietjie wat bekendes se siening van droom is:
“Diegene wat nie waag om te droom nie, slaap die grootste gedeelte van die dag.” (Marleen Loesje)
“Slegs ons drome maak ons vry. Die res van die tyd het ons geld nodig.” (Terry Pratchett)
“Ek gebruik nie dwelms nie, my drome is skrikwekkend genoeg.” (MC Escher)
“Hy was ‘n dromer, ‘n denker, ‘n filosoof ... of soos sy vrou gesê het, ‘n idioot.” (Douglas Adams)
“In my drome beleef ek dieselfde dinge wat geestesversteurdes beleef wanneer hulle wakker is.” (Rene Descartes)
“As jy dit kan droom, kan jy dit doen.” (Walt Disney)
“Daar is mense wat hulle drome in ‘n boksie sit en sê, ‘Ja, ek het drome, natuurlik het ek drome.’ Dan pak hulle die boksie weg en haal dit soms uit om daarna te kyk en ja, hulle is nog steeds daar.” (Erma Bombeck)

ONTHOU: Die woord “droom” moet asb in die titel van jou bydrae voorkom.

Lekker droom!


Projek: Dans

Kere gelees: 3836 | Totale Kommentare: 117

Ons nuwe projek handel oor dans, iets wat mens al doen vandat jy kan begin loop en dikwels doen totdat jy nie meer kan loop nie. Dans is romanties en laat mens se hart vinniger klop, dink veral aan ballet, wals en ... die Tango.
Verder kan dans mens fiks hou met heerlike loslit bewegings en dis sommer net een van daai lekkerrrr dinge om te doen. Ons praat ook van vlamme wat dans, diere wat pronkdanse uitvoer, blare wat dans in die wind en vele meer. Hier volg ‘n paar aanhalings van bekendes:
“Dans is ‘n poëtiese openbaring van die siel deur beweging.”  (Scott Nilsson)
“Alles in die heelal het ritme. Alles dans.”  (Maya Angelou)
“Dans is die vertikale voorstelling van ‘n horisontale begeerte.”  (George Bernard Shaw)
“Werk asof jy nie geld nodig het nie, probeer liefhê asof jy nog nooit seergemaak is nie en dans asof  niemand kyk nie.”  (Mark Twain)
“Ek doen alles wat die man doen, net agteruit en op hoë hakke.”  (Ginger Rogers)

ONTHOU: Die woord “dans” moet asseblief in jou titel en bydrae voorkom.

Laat jou woorde dans!
 


Projek: Kleur

Kere gelees: 5647 | Totale Kommentare: 172

Ons word elke dag geseën met ‘n magdom kleur om ons en kleur affekteer selfs hoe ons voel, bv rooi wek gevoelens van passie, opwinding en lewe. Blou is kalm, rustig en geel is prettig, waar pers meer misterieus is. Wit is klinies en swart is sjiek ...  Kleur kom voor in ons daaglikse taal, bv “jy kleur my lewe”, “blou Maandag”, “ek voel vaal vandag” en vele meer. Hier volg die gedagtes van ‘n paar bekendes oor kleur:
“Daar bestaan geen blou alleen nie ... nie sonder geel en oranje nie.” (Vincent van Gogh)
“Ek kan nie voorgee dat kleur my nie affekteer nie. Ek juig met helder kleure en voel regtig jammer vir die arme bruine.” (Winston Churchill)
“Liefde vir kleur is ‘n teken van ‘n rein en suiwer siel.” (John Ruskin)
“Hoekom maak twee kleure in juxta-posisie musiek en sing? Kan enigeen dit verduidelik?” (Pablo Picasso)
ONTHOU: Jou titel moet asb die woord “kleur” bevat.

Kom deel jou kleurvolle reënboog met ons!


Projek: Wen

Kere gelees: 5062 | Totale Kommentare: 135

Aangesien ons nou midde-in die 2012 Olimpiese Spele is, kan “WEN” netsowel die tema wees. Veral omdat Suid-Afrika reeds een goue medalje het, danksy die talent van ons swemmer, Cameron van der Burgh.
Ons temawoord vir hierdie week hoef egter nie slegs op sport van toepassing te wees nie, maar kan ook enige ander onderwerp insluit, soos bv: wenner van my hart,  oorwinning, wenperd, wenpampoen, weghol-wenner ens.
ONTHOU: Jou titel moet asb die woorde “wen” of “oorwinning” bevat.


Kom deel jou woeste-wen-wyshede met ons!


Projek: Karnuffel

Kere gelees: 3095 | Totale Kommentare: 116

Afrikaans het darem maar spesiale woorde, woorde wat lekker op die tong val en eie aan ons taal is. Een so ‘n woord is karnuffel. Wat beteken karnuffel?  Die HAT bied twee betekenisse:
1. seermaak, knou
2. liefkosend stoei

Dit wil voorkom asof die meeste Suid-Afrikaners  karnuffel as ‘n kombinasie tussen die twee betekenisse hier bo gebruik, byvoorbeeld:

“Die klein hondjie karnuffel sy speelding.” (Die hondjie speel bietjie rof met sy speelding.)

“Die branders het ons lekker karnuffel.” (Die branders het ons lekker rondgegooi.)
“Ek gaan jou karnuffel as jy nie nou ophou nie.” (Ek gaan speel-speel met jou stoei.)
“Jy lyk so oulik ek karnuffel jou sommer.” (Jy lyk so oulik, ek stoei sommer lékker met jou.)

ONTHOU: Die woord “karnuffel” moet asb in die titel van jou bydrae voorkom.

Karnuffel ‘n storm los!


Projek: Winter

Kere gelees: 11128 | Totale Kommentare: 402

Ons nuwe projek se tema is “winter” en kan vir heelwat pret sorg. Ons kan op die tema uitbrei en skryf oor winterkoue, winterliefde, wintersop, wintervoete, vuurwarm winterpret, winterkaggels en vele meer. Geniet hierdie projek en skryf die koue uit die winter uit.

ONTHOU: Gebruik asb. die temawoord “Winter” in jou titel. 


Projek: Musiek

Kere gelees: 4843 | Totale Kommentare: 154

Musiek is deel van ons lewe en al is ons nie self musikaal aangelê nie, kan die meeste van ons dit waardeer. Miskien het die betowering wat musiek bied, iets te doen met die assosiasies wat ons daaraan koppel, die herinneringe wat ons bybly en ag, sommer net omdat musiek mens altyd laat beter voel. Kom deel gerus jou bydraes met ons en onthou asb. dat die temawoord, “Musiek” in die titel van jou bydrae moet voorkom.


Projek: Geluk

Kere gelees: 7635 | Totale Kommentare: 139

Ons nuwe projek gaan oor “Geluk” en wat jou gelukkig of ongelukkig maak. Hier onder is ‘n paar bekendes se kwinkslae om dinge aan die gang te kry: “Wie sê dat geld nie geluk kan koop nie, weet duidelik nie wáár om te koop nie.” (Gertrude Stein) ”Sommige mense bring geluk waar hulle gaan; ander wannéér hulle gaan.” (Oscar Wilde) “Dit is nie nodig om ryk en beroemd te wees om gelukkig te wees nie. Dis net nodig om ryk te wees. “ (Alan Alda) ONTHOU: Die temawoord is “Geluk” en moet aseblief in die titel voorkom. Geniet dit!


Projek: Sjokolade

Kere gelees: 5297 | Totale Kommentare: 103

Dit is moeilik om te definieër hoekom sjokolade so 'n passie in mense uitbring en soveel bespreking, liefde, gewoontes en ja, kwotasies, genereer! Dikwels is sjokolade die eerste luukse geskenk wat mens as kind ontvang. Sjokolade is steeds ‘n gewilde geskenk vir alle ouderdomme en is sinoniem met vieringe soos Valentynsdag, (hartvormig), Paasfees, (hasies en paaseiers), Kersfees (kersvader, klokkies, sterre), om nie eers te praat van likieur-gevulde sjokolades nie … Hier is iets om die verbeelding aan die gang te kry: “Die lewe is soos ‘n boks sjokolade ... jy weet nooit wat jy gaan kry nie.” (Forrest Gump) “ Skryf “eet sjokolade” elke dag heelbo aan jou “moet doen”-lysie; so weet jy dat jy elke dag ten minste een ding op jou lysie sal doen.” (Robin) “Sjokolade is goedkoper as terapie en jy het nie ‘n afspraak nodig nie.” (Anoniem) “Sjokolade is die natuur se manier om op te maak vir Maandae.” (Anoniem) “Nege uit tien mense is versot op sjokolade. Die tiende persoon praat gewoonlik nonsens.” (John Q. Tullius) “Stres sou nie so erg gewees het as dit met sjokolade bedek was nie.” (Anoniem) “My terapeut sê dat die enigste manier om innerlike vrede te verkry, mens moet klaarmaak wat jy begin. Sover vandag het ek 2 sakkies M&M’s en ‘n sjokoladekoek klaargemaak. Ek voel sommer al klaar beter.” (Dave Barry) Onthou dat jy kan enige bydrae lewer solank die volgende woorde ook in die titel en die teks verskyn: sjokolade of tjoklits.


Projek: Verjaarsdae en verjaarsdagwense

Kere gelees: 18464 | Totale Kommentare: 55

Verjaarsdae ... of ons nou daarvan hou of nie, ons almal het een. Op ‘n stadium kan ons nie daarvoor wag nie, dan kom ‘n tydperk wat ons dit wil vergeet en effe later vergeet ons dit in elk geval. Kom skryf ‘n paar verjaarsdaggedigte, vertel komiese staaltjies of trakteer mekaar op interessante feite oor verjaarsdae. Mense het altyd iets te sê oor ouderdom. Loer bietjie na hierdie waarhede: “’n Diplomaat is iemand wat altyd ‘n vrou se verjaarsdag onthou, maar nooit haar ouderdom nie.” (Robert Frost) “Mans is soos wyn. Sommige verander in asyn, maar die bestes verbeter met tyd.” (C.E.M. Joad ) “In elke ouer persoon, is ‘n jonger persoon wat wonder wat gebeur het.” (Jennifer Yane) “Na 30, volg jou liggaam sy eie kop.” (Bette Midler) “Oudword is nie vir sissies nie.” (Betty Davis) “Jy weet jy word oud wanneer die kersies meer as die koek kos.” (Bob Hope) "Mag jy 100 jaar oud word en mag die laaste stem wat jy hoor, myne wees.” (Frank Sinatra)


Projek: Lag

Kere gelees: 7989 | Totale Kommentare: 184

Ons nuwe projek handel oor “lag” en jy kan na hartelus bydraes daaroor lewer. Skryf ‘n gedig, kortverhaal, rubriek of ‘n giggel-gorrel. Daar word beweer dat ‘n goeie paar lagsessies gelyk is aan tien minute se oefening op ‘n dag … Dus, kom ons warm op vir ‘n hele paar strawwe lagbuie! Baie belangrik: Onthou dat die woord "lag" in die titel asook die inhoud van jou bydrae moet verskyn, anders kan dit nie deel vorm van die projek nie.


Projek: Vadersdag

Kere gelees: 11937 | Totale Kommentare: 182

Vadersdag is om die draai en ons is op soek na bydraes wat wys wat Vadersdag vir jou beteken, hoe dit jou maak voel of selfs hoe jy Vadersdag wil sien. Laat jou emosies vloei en lewer ‘n gedig, kortverhaal, kinderverhaal, rubriek of selfs ‘n lekker gorrel. Onthou dat die woord "Vadersdag" in die titel asook die inhoud van jou bydrae moet verskyn anders kan dit nie deel vorm van die projek nie.




Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

deur Thalita Goosen

Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar