Projekte: Vandag in woorde

Projek: Voor

Kere gelees: 217 | Totale Kommentare: 29

Hierdie week se tema vir Vandag in Woorde is ‘VOOR’. Letterlik ‘voor’ of figuurlik ‘voor’. Jy kies self. Voor in die koor, voorbarig of voor op die wa. Dalk is jy ’n voor-danser, voor-sêer of voor-sanger. Voor is die teenoorgestelde van agter, maar voor is ook die teenoorgestelde van na. Ek sê mos: ‘jy kies self’. Skryf iets oor  die ‘voor’ wat in jou kop opspring.

Dalk is dit die water-voor wat water aan die landerye op die plaas voorsien. Jou plaas of jou oupa se plaas. In my grootword dae was daar ’n voor waarlangs al die mynwater weggevoer was. Waarheen, weet ek nie. Dit was ’n heerlike speelplek vir die kinders. In jou geboorte pak moes jy daar afgly, want as jy dit met ‘n swembroek sou waag, was dit sommer gou flenters geskuur en dan wou ma weet waar dit gebeur het en die waarheid sou jou suur bekom.

Daar is ek nou weer heel van trant af. Jy sien, dis die ding van skryf. Jy begin met een gedagte en eindig met ’n gedagte wat niks met die eerste een uit te waai het nie. 


Projek: Onverwags

Kere gelees: 617 | Totale Kommentare: 48

Die tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is ‘ONVERWAGS’. Daar het al soveel dinge helemaal onverwags in my lewe opgeduik of uitgespring soos springmielies. Daarom is ek doodseker dat elke WOES-teling ook al iets ‘ONVERWAGS’ beleef het om oor te skryf.

Onwillekeurig dink ek aan spreekwoorde soos:

• Uit die bloute
• Soos yswater in die gesig
• Met ’n pap snoek in die gesig geslaan
• Stom geslaan

Wat van daai geskenk wat iemand so ‘onverwags’ aan jou gegee of gestuur het?

Daai geld in jou rekening of die tjek in die pos?

Die deur wat jy oopmaak en daar staan hy of sy?

Die uitnodiging om ... dalk ’n geleentheid by te woon ... iemand iewers heen te vergesel ... jou manuskrip aan Lapa uitgewers te stuur ... watookal.

Die telefoonoproep van ’n stem uit jou verlede?


Projek: Sag

Kere gelees: 1027 | Totale Kommentare: 88

Hierdie week is die tema vir Vandag in Woorde is ‘SAG’. Ja sag, soos in snoesig of sappig. Dis ’n byvoeglike naamwoord of bywoord wat aan ’n wye verskeidenheid van selfstandige naamwoorde of werkwoorde toegeskryf word. Daarom dan skep hierdie woord ’n oneindige aantal onderwerpe waaroor ons kan skryf.

Wanneer ek die woord ‘sag’ hoor kry ek  ’n warm gevoel in my hart. Soos wanneer ek hoor van iemand met ’n sagte hart, sagte hande, sagte oë, sagte hare of sagte woorde. Daar is mos mense wat enige onenigheid met sagte woorde oplos. Wens ek kon ook so wees.

Dan is daar ’n sagte stem, sagte sang, sagte lig, sagte musiek en sagte aanraking. Hier word daar weer ’n gevoel van romanse of aanvaarding gewek.

As ons dink aan sag soos in sagte malvalekkers en spookasem wat smelt in my mond, of ’n sagte stukkie goudbruin fillet of likeur wat satynsag oor my tong rol, dan gee dit my weer ’n warm gevoel in die maag wat my smaak-kliere prikkel en my mond laat water.


Projek: Blomme

Kere gelees: 1058 | Totale Kommentare: 73

Met die geur van lente in die lug en hier en daar al ’n paar bloeisels wat die nog-kaal takke versier, is die tema vir Vandag in Woorde hierdie week ‘BLOMME’.
Weet nie of die vroue op Woes ook soos ek is nie, maar my Bokka toor met my as hy sommer in die middel van die week, in die middel van die maand, vir geen oënskynlike rede nie, vir my ’n bossie blomme bring. Verlede week Maandag was so dag, toe hy weg geglip het by die werk, om vir my ’n paar varkore en ’n paar rose te bring.  Gelukkig vir hom word ek nie beïndruk deur ’n rangskikking nie. Iemand het op ’n dag gesê dat ’n deurmekaar bos blomme, ware liefde wys.
Hierdie blomme-tema is nie beperk tot die vroue nie. Die beste blom-kwekers en tuin-skeppers is mans. Ek dink sommer dadelik aan Adrian Kuyper se roos plaas in die Boland.

Dis nie noodwendig die opgesmukte, peperduur blomme wat die mooiste is nie. Wat van laventel, kappertjies, viooltjies en gesiggies? Veldblommetjies en fynbos? Tog is die Orgideë in Singapoer, die tulpe in Holland en die Proteas in die Kaap, ook pragtig.   In Abu Dhabi word die sypaadjies omgetower met petunias en in Siprus is dit weer skottels vol leeubekkies. Nou onthou ek ook die lande vol kanola blomme in die Overberg streek en die kosmos verniet-blommetjies wat elke jaar oral langs die paaie in Gauteng en Noord-wes opkom.  Die Bougainvillea in Rustenburg, die Jakarandas in Pretoria. Die varkore langs die strande van Valsbaai. Hier in die bos groei daar oral, Poinsettia, Hibiskus en Frangipani. Skielik hoor ek vir Theuns Jordaan sing van die Namibsroos. 


Projek: Vrou

Kere gelees: 2375 | Totale Kommentare: 195

Die tema vir hierdie week se Vandag in Woorde is ‘VROU’. So byna rol vrouemaand by ons verby sonder dat ons die onderwerp aanraak. Wel nou het elke Woes skrywer ’n amptelike uitnodiging, dalk sommer ook ’n opdrag, om iets te skryf oor een of ander vrou. Of ‘VROU’ in die algemeen. Dit is tog heeltemal onmoontlik om mens te wees sonder die invloed van ’n vrou. Vertel ons maar van haar. Of enige ander vrou wat  invloed in jou lewe het of gehad het.

My pa was vas oortuig dat die duiwel ’n vrou is. Pa het ook gesê hy is nie bang vir die duiwel nie, want hy  was met die duiwel se suster getroud. Ma was ’n vrou vol geite en met befoeterd eerste op die lys.

As ek aan die vroue in my lewe dink, sluit dit my twee oumas in. Mev. Van Heerden, my graad een juffrou. Mevrou de Jager wat ons rekene juffrou en netbal afrigter in die laerskool was. Tannie Stienie, die burgemeester se vrou en ons kleremaakster. My dierbaarste pel, wat net ’n tiekie en ’n baksteen hoog staan, maar met die teenwoordigheid van Queen Elizabeth. Nog ’n hele paar vriendinne wat groot invloed op my gehad het of nog het.  My drie susters. Hier op Woes is ’n hele paar vroue wat sonder dat hulle dit besef, my lewe en denkwyse beïnvloed. Die vrou wat hier in die bos, my huis skoonmaak.

Dan was daar Prinses Diana. Helen Zille. Meryl Streep. Nee wag, genoeg van my!
Vertel ons van die vrou of vroue wat invloed het in jou lewe, hetsy positief of negatief. Van beide is daar lesse te leer. Watter vrou maak jou suur en watter vrou maak jou hart gelukkig? Watter vrou wil jy navolg of watter vrou wys jou hoe om nie te wees nie?


Projek: Foto 3

Kere gelees: 948 | Totale Kommentare: 70

Die vorige foto uitdagings het die Woesters se verbeelding aan die brand laat slaan en daar het sulke wonderlike bydraes van gekom, dat ek dink dis hoog tyd om die volgende foto vry te stel. Ek kan nie wag vir dit wat ons hierdie keer gaan sien nie!

Vir diegene wat nog nooit deelgeneem het nie, agge nee man, wat makeer vir jou? Maar moenie komkommer nie, hier is nou nog ’n kans. Komaan, neem deel, dis ’n wonderlike ervaring.

Laat ek net weer  verduidelik. Hierby aangeheg is ’n foto.  Ek gaan jou niks vertel van hierdie foto nie. Jy bekyk hom, bedink hom en maak jou oë toe. Dit wat jy daar agter jou ooglede sien, dis waaroor jy skryf. Dalk is dit ’n gedig. Dalk ’n kortverhaal. Dalk is dit die lirieke van ’n liedjie wat eendag van ’n verhoog af aan duisende gesing sal word. Miskien sien jy ’n artikel of selfs ’n rubriek. ’n Gorrel is ook welkom. Enige iets!

Maak seker jy las asseblief ‘Foto 3’ by jou titel, sodat lesers dadelik kan sien jy neem deel aan hierdie uitdaging. Nou kan ek nie meer wag om te sien watter idees en gedagtes hierdie foto by ons skrywers wakker gemaak het nie!

Merke....gereed....SKRYF!

Bos-groetnis
Kiekies.


Projek: BLOU

Kere gelees: 1809 | Totale Kommentare: 117

Vandag in Woorde se tema vir hierdie week is ‘BLOU’.
 
Ek weet nie hoekom mense altoos ’n goor Maandag as ’n blou Maandag beskryf nie, want blou is dan so mooi kleur. Wat is dan nou mooier as die blou berge wat in die verte lê. ‘Al lê die berge nog so blou,’ het Kerkorrel gesing. Afhangend van hoe vêr dit weg is en hoe die weer lyk, wissel dit van middernag blou tot potblou tot pers-blou en grys-blou. Net soos mense wat elke dag iets anders dra, verander die berge se blou ook.

Daar is soveel blou in die natuur. Die oseaan se blou en die blou-blou hemel op ’n wolklose dag. Tog is die hemel nog blouer wanneer daar bollende watte-wit wolke in die lug swewe. Daar is egter nie baie blou blomme nie, behalwe Plumbago en Krismisrose.

Daar is so baie skole wat blou skoolklere dra. Mense praat van die polisiemag as manne en vroue in blou. En is blou oë dan nie die mooiste oë nie?


Projek: Reis

Kere gelees: 2269 | Totale Kommentare: 102

Hierdie week se tema vir ‘Vandag in Woorde’ is ‘REIS’. Iets waarop ek versot is maar my spaarrekening en beursie is gans teenstrydig met my wense. En as daar ’n paar rand opgegaar het, verdwyn dit in die niet, as ek dit eers omgeskakel het na Dollar, Pond of Euro. Dis dan wanneer ek sommer teen my eie beterwete (en gewete) wil aanbeveel: ‘vlieg nou en betaal later!’

Ek luister Saterdag na RSG se reisprogram en ’n wyse man, wie se naam ek nie gehoor het nie, verklaar: Daar is oneindig baie skatte wat dié wat nie reis nie, nooit sal ontdek nie.  Dis daar dat ek besef dat ons deur ons Woes-vriende se skrywes oor hulle reise, tog daardie skatte kan ontdek. Moet asseblief nie verkeerd verstaan nie. Reis hoef nie noodwendig iewers oorsee of oor landsgrense heen te wees. Hoeveel wonderlike plekke in ons eie mooie Suid-Afrika, het ek en jy nog nooit gesien nie. Rudie het al gedigte geskryf oor sy gunsteling wegbreek plekkie, wat ’n duidelik skildery in my geestesoog, daarvan was.

Vandag nooi ek jou, nee, vra ek jou, nee, smeek ek jou! Doen vir ons ’n woord-skets , of twee, of tien.In enige genre van jou voorkeur, oor die plekke waarheen jy gereis het. Naby of vêr. Oorsee of oor gebergtes en riviere. Oor landsgrense of dorpsgrense. Plekke wat jy weer sal wil sien. Plekke wat jy vir ander sal aanbeveel. 

Gebruik asb die woord "reis" in jou titel.


Projek: Julie Woord Uitdaging

Kere gelees: 954 | Totale Kommentare: 30

Ek dink dis lankal weer tyd dat ons ’n woord uitdaging het as tema vir Vandag in Woorde. Hierdie week het ek lekker gekry met ’n klompie woorde wat ek toeka uit my ouma se mond sou hoor. Woorde wat net nie heeltemal so lekker en beskrywend, in enige ander taal uitgedruk kan of sal word nie.

Vandat on laas ’n woord-uitdaging gehad het, het daar heelwat nuwe lede bygekom. Ek nooi ieder en elk om aan die uitdaging deel te neem. Almal wat voorheen sulke uitstekende geskrifte voorgelê het en almal wat nog nooit probeer het nie, julle word ook amptelik genooi. 

Lees meer by die Nuusberig ...


Projek: Koud

Kere gelees: 2571 | Totale Kommentare: 123

Daar is geen ander woord wat so van toepassing is as hierdie week se nuwe tema vir Vandag in Woorde nie. Dit gebeur nie baie nie, indien ooit, dat elke WOESteling op ’n gegewe moment presies dieselfde omstandigheid beleef.  Kan jy al raai wat die woord is?

Kom ek versadig jou nuuskierigheid. Die woord en tema is ‘KOUD’!  Brrrrrr bibber been-beef en tande-klap, ritteltits koud. Van noord tot suid, van oos tot wes, dwarsdeur ons land, kry almal vrek koud. Die radio verkondig dat dit rekord laagtepunte is vir amper of meer as honderd jaar.

Mense ry kilometers om die sneeu te gaan aanskou. En nie net om te sien nie, maar hulle hande in te steek en lawwe sneeumanne te bou. Net om môre weer voor die verwarmer of kaggel vuur te sit en kla oor die vreeslike koue. Eish mense!


Projek: Vrede

Kere gelees: 2257 | Totale Kommentare: 109

Hierdie week se tema vir “Vandag in Woorde” is VREDE. Dis ’n toestand waarin ’n mens verkeer wanneer.....wanneer.....umm.....mm... Nee, ek gaan niks sê nie. Skryf jy vir almal op Woes wat vrede vir jou beteken. Waar, wanneer, hoe, waarom en hoe voel vrede? Toe jy die woord lees, wat is die eerste gedagtes wat by jou opgekom het en hoe het die prentjie in jou kop gelyk van die plek waar vrede teenwoordig is? Vir almal sal dit verskillend wees.

Ons ken die gesegdes:

Laat my asseblief tog net in vrede.
Ek het geen rus en vrede vir my siel nie.
Vrede en vreugde loop hand aan hand.
Ek vra vir Bokka: ‘wat beteken vrede vir jou?’ en hy antwoord sonder skroom: ‘Finansiële onafhanklikheid en rustig wees by my huisie by die see.’ Hy las ook vinnig by: ‘vrede is ’n besluit wat mens kan maak as jy glo.’


Projek: Glo

Kere gelees: 2233 | Totale Kommentare: 135

Die nuwe onderwerk vir hierdie week se Vandag in Woorde, is ‘GLO’. Hierdie onderwerp is so wyd soos die Heer se genade. Daar is ’n spreekwoord wat se : dit wat jy glo is jou eie werklikheid. Daarom dus is wat ek en jy glo nie noodwendig iets wat iemand anders glo nie.

Daar is mense wat jy sonder twyfel kan glo, want hulle self glo in die waarheid. Dan is daar ander wat nie meer weet waar die waarheid ophou en die leuens begin nie. Dis daai ouens se stories wat jy met ’n knippie sout moet vat. Hulle lieg so baie en so aanhoudend, hulle glo hulle eie liegstories. Ken jy so iemand of dalk sommer net ek lekker oorvertel lieg-storie. Deel dit met ons.

Dan is daar ’n klein kindjie se glo. Jy kan hom enige iets vertel. As hy dit in sy verbeelding kan sie, sal hy jou glo. Wonderbaarlik glo hulle baie makliker die mooi en goeie stories. Ek verlang so terug na die dae dat ek vir my kinders vertel het hoë die tandmuis ook stukkende tandjies opkap vir deurknoppe en handvatseltjies. Ek kan maar netsowel erken: hoe meer ek vertel het hoë meer het ek dit naderhand self geglo.


Projek: Lewe

Kere gelees: 6570 | Totale Kommentare: 278

Die tema vir Vandag in Woorde is hierdie week ‘LEWE’.  Meer spesifiek ’n lewe wat saak maak. Dis na aanleiding van hierdie skrywe wat ek in die rondwaai-pos (Sneeuwolf se woord) in my e-posbus ontvang het. Dit het my nogal diep laat dink. Ek hoop dit raak jou hart en gedagtes ook aan.
Of ons gereed is of nie, eendag kom alles tot ‘n einde. Daar sal geen sonsopkoms meer wees nie, geen minute, geen ure, geen dae nie. Alles wat jy bymekaar gemaak het, of dit nou vir jou kosbaar is of nie, sal aan iemand anders behoort.
Jou rykdom, jou roem, jou wêreldse mag sal verskrompel tot onbelangrikheid. Dit sal nie saak maak wat jy besit het nie of wat aan jou verskuldig is nie. Jou haat, griewe, frustrasies en jaloesieë sal uiteindelik verdwyn. Maar so sal ook jou hoop, ambisies, planne en moet doen-lysies verval.
Die winste en verliese wat eens so belangrik gelyk het, sal vervaag. Dit sal nie saak maak waar jy vandaan kom nie, of aan watter kant van die spoorlyn jy gebly het nie.
Dit sal nie saak maak of jy beeldskoon of briljant was nie. Of jy ‘n man of vrou is, en wat die kleur van jou vel is, sal onbelangrik wees. So, wat sal saak maak? Hoe sal die waarde van jou dae gemeet word?


Projek: Foto 2

Kere gelees: 3174 | Totale Kommentare: 215

VIW - Foto uitdaging nr. 2 

Ek kry sommer sulke kielie-kriewels in my maag, want ek onthou die wonderlike en verbeeldingryke bydraes wat ons by die vorige foto uitdaging ontvang het en ek verwag meer en beter. Ek kan nie wag vir dit wat ons hierdie keer gaan sien nie! Ek weet nie of iemand dit ooit vir julle sê nie, maar hoor vandag wat Kiekies vir julle sê: ‘As jy goed is, is jy goed! En julle mede Woestelinge IS GOED!’  Ek is geëerd om in julle geselskap te wees. Daar het die wonderlikste oorspronklike skryfsels opgeduik! 

Vir diegene wat nie deelgeneem het nie of nie die bydraes gelees het nie, aijajai, jy het baie gemis! Maar moenie komkommer nie, hier is nou nog ’n kans. Komaan, neem deel, dis ’n wonderlike ervaring.

Laat ek net weer  verduidelik. Hierby aangeheg is ’n foto.  Ek gaan jou niks vertel van hierdie foto nie. Jy bekyk hom, draai jou kop bietjie die kant toe en dan weer bietjie daai kant toe en dan wag jy. Wag dat die foto vir jou ’n storie vertel. En dan.....dan skryf jy vir ons ’n bydrae tot hierdie tema. Dalk is dit ’n gedig. Dalk ’n kortverhaal. Dalk is dit die lirieke van ’n liedjie wat eendag van ’n verhoog af aan duisende gesing sal word. Miskien broei daar ’n artikel of selfs ’n rubriek uit. ’n Gorrel is glad nie  onmoontlik nie.

Maak net seker jy las asseblief ‘Foto 2’ by jou titel, sodat lesers dadelik kan sien jy neem deel aan hierdie uitdaging. Ek is baie opgewonde en haastig om te lees watter stories hierdie foto, aan ons skrywers vertel het!

Merke....gereed....SKRYF!
Bos-groetnis
Kiekies.


Projek: Jeug

Kere gelees: 2080 | Totale Kommentare: 104

Die tema vir hierdie week se vandag in woorde is heel gepas ‘JEUG’. Jeugdag val een dag na Vadersdag. Vaders is die oorsprong van die jeug. Dis ook die Vaders (en Moeders) wat so graag kerm en kla oor die ‘jeug van vandag’ wat te veel so en te min sus. Die jeug wat nie meer weet hoe ... en nog nooit geleer het om te ... en nie naastenby ’n idee het waar geld vandaan kom en of wat ... beteken nie. Nog minder weet hulle hoe om hulle meerdere te behandel en is gans en al te ... of te ...

Daar word geskinder oor die jeug wat geen waardes het nie en ongeskik is en boonop helemaal te bederf is en alles te maklik het, deesdae.  Bederf is nie die jeug se skuld nie, maar die bederwers s’n. Ek het nog altyd geweet dat kinders en mans en troeteldiere net doen wat hulle toegelaat word om te doen.

Hokaai moenie klippe gooi nie, ek is helemaal bewus van die feit dat daar nie ’n enkele Woester is wat oor die jeug kerm nie en ook buitendien nie een Woester is met sulke kinders in die huis nie. Hierdie week word julle uitgenooi om oor julle eie voorbeeldige jeug te skryf en oor ander mense se onhebbelike kinders te skinder. Skinder, ja. Vir een week is dit toetentaal wettig om te skinder.

Niemand sal uit die Woes-huis uitpraat nie.

Skinder in ’n gedig, ’n klaaglied, ’n rubriek, artikel of ’n sappige souserige kortverhaal.  Of wat van ’n artikel vol feite en waarheid? Enige iets is aanvaarbaar en alles is toelaatbaar.


Projek: kRiEweL

Kere gelees: 1912 | Totale Kommentare: 146

Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘KRIEWEL’.
Dis ’n woord wat soveel dinge en aksies beskryf. Die idee het my vanoggend getakel toe ek Bokka aanspreek omdat hy lank voor die wekker moet lui, lê en kriewel en my wakker maak. Hy slaap rustig voort en weet van niks, terwyl ek haas-wakker lê en wag vir die skril geskree van die wekker. Of heelwat vroeër as nodig, opspring.
Ewenwel dit laat my toe dink aan al die soorte kriewel wat bestaan:
Daai slang-oog onderduimse vent, want my rug laat kriewel as hy naby kom.
As ek ’n spinnekop gewaar, al is dit net op die TV-skerm, voel ek ’n gekriewel oral op my vel.
As ek gejok het kriewel my gewete.
As ek iemand jammer kry, kriewel my hart.
As ek opgewonde is kriewel  daar wurmpies in my maag.
As ek iemand se wond aanskou, kriewel ek op dieselfde plek, uit pure medelye.
Kathare en stof laat my neus kriewel.
’n Sweetdruppel kriewel op my kopvel as ek klaar geoefen het.
As ek weet daar is werk wat lê en wag, kriewel dit sommer oral, sodat ek nie kan stilsit of lê tot ek dit gaan afhandel het nie.
Mens kan kriewel vereenselwig met onsekerheid, skuldigheid, gelukkigheid, geïrriteerdheid en ’n fisiese jeukerige gevoel.
Ek nooi nou ieder en ’n elk wat ’n krieweling in die vingerpunte ervaar, om daarvan ontslae te raak deur vir ons ’n skryfsel op te tower, wat ons harte en tone van lekkerkry sal laat kriewel!
Tot volgende week
Kriewel–groetnis uit die bos uit,
Kiekies.


Projek: Gevaar

Kere gelees: 2944 | Totale Kommentare: 151

Goeie dag aan al die Woes-telinge, Woes-ters en Woes-taards of Woes-tyne.
Hierdie week se tema vir Vandag In Woorde is ‘GEVAAR’. Iets waaraan ons Suid-Afrikaners al so gewoond geraak het dat ons nie eers meer in ons pasoppens is nie.  Wat my egter na hierdie tema gelok het, is die feit dat ons so konfoes raak deur almal wat ons teen een of ander gevaar wil waarsku. Lieven loven, geen mens weet meer wat reg of verkeerd is nie. Of iets nou rêrig gevaarlik is, al dan nie.
Een ou sê olyfolie. Dis die ding om te gebruik. Drink dit, eet dit in jou slaai, maak jou kos daarin gaar, bad daarin, smeer dit aan jou hande, jou naels en sommer ook daai skurwe hakke.
Nee, oe nee, asseblief tog nee, sê die volgende ou. Dis gevaarlik as jy dit verhit. Moenie dit doen nie.
Iemand anders sê weer eiers is gevaarlik. Dis vol cholesterol! Moenie meer as drie eiers ’n week eet nie. Asseblief moenie.
Nee, sê iemand anders, dis net die geel wat gevaarlik is. Gooi weg die geel en eet soveel witte as wat jy in jou liggaam kan kry.
Kom dis hierdie week vir ons ’n GEVAAR op in jou kortverhaal, gorrel, gedig, rubriek, artikel of liriek. Hoe gevaarlik kan dit nou wees om van GEVAAR te skryf?
Tot volgende keer.
Gevaarlike bos-groetnis
Kiekies. 


Projek: Foto 1

Kere gelees: 3932 | Totale Kommentare: 220

Ons het ’n kraakvars idee vir die tema van Vandag in Woorde vir hierdie week! Dis toetentaal te danke aan die kreatiewe denke van ons eie VIOOLTJIE. Gee vir haar al die applous wat sy verdien.

Wag ek verduidelik. Hierby aangeheg is ’n foto.  Ek gaan jou niks vertel van hierdie foto nie. Jy bekyk hom, draai jou kop bietjie die kant toe en dan weer bietjie daai kant toe en dan wag jy. Wag dat die foto vir jou ’n storie vertel. En dan.....dan skryf jy vir ons ’n bydrae tot hierdie tema. Dalk is dit ’n gedig. Dalk ’n kortverhaal. Dalk laat dit jou sing en jy skryf die liriek. Miskien wil jy ’n paar feite navors en gee vir ons ’n artikel of selfs ’n rubriek. ’n Gorrel is ook baie moontlik.

Las asseblief ‘Foto 1’ by jou titel sodat lesers dadelik kan sien jy neem deel aan hierdie uitdaging. Ek kan nie wag om te lees watter gedagtes en emosies hierdie foto in ons skrywers wek nie!

Nou toe waarvoor wag jy?

Bos-groetnis
Kiekies.


Projek: Weer

Kere gelees: 4425 | Totale Kommentare: 216

Hierdie week se tema vir Vandag in Woorde is ‘WEER’. Dis mos die ding waaroor mense praat as hulle nie weet waaroor om te praat nie. Kan jy dit hoor?
‘Dis bibber koud nè. Ek kan nie wag vir die warmer weer nie! Winter is nie vir my nie.’
‘Ons vrek van die hitte vandag. Die kraaie gaap eintlik.’
‘Ek het nou sowaar genoeg reën gesien. Alles is sopnat en versuip.’
‘Dis droog swaer, en daar is nie ’n wolkie in die lug nie. Weet nie wat die skaap een van die dae gaan vreet as dit so aanhou nie’
So nou en dan hoor ek darem ook iemand wat lofsange sing oor ’n pragtige dag.
Hier by ons ruk en pluk ’n kwaai wind vandag aan my voordeur en waai my plantjies genadeloos plat teen die grond.  Die gordyne ballon voor die vensters en gebrande grasstoppels en droë blare warrel in die lug rond. Dit herinner my aan die Augustus winde doer in die dorre Wes-Transvaal van my kinderdae. Rooi stof dwarrelwinde en mielieblare net waar jy kyk. Winde wat my gemoed heel deurmekaar waai.
Nou vra ek aan die Woes-familie, hoe affekteer die weer julle? Ek verstaan dat Europeërs wat so baie grou dae beleef, heelwat meer geneig is tot depressie.
Wat doen jy die graagste wanneer die weer daar buite te goor is om buite te wees?
Laat jy toe dat die weer jou beïnvloed?
Watter soort weer verkies jy?


Projek: Goud

Kere gelees: 2298 | Totale Kommentare: 70

Die tema vir ‘Vandag in Woorde’ is hierdie week ‘GOUD’. Ons hele lewe is deurspek en vervleg met spikkels en strepe van goud.
Goud is:
- Die hoogste toekenning wat ’n Olimpiese atleet kan ontvang vir enige item waaraan hy of sy sal deelneem.
- Die kleur van die oggendstond wanneer die eerste strale oor die oosterkim verskyn.
- Die kleur van die sonsondergang wanneer die laaste strale oor die westerkim verdwyn.
- Die kleur van stroop-slierte en heuningdruppels.
- Die glinstering in ’n blonde kind se hare wat op die strand of in die park speel.
- Die metaal waarvan die pant gemaak is wat twee lewensmaats in die eg verbind.
- Die rede hoekom hordes in ’n stormloop na Pelgrimsrus gestroom het.
- Die rede hoekom werkers tot vandag toe nog soveel as 4 km die donker warm aarde inkruip om hulle daaglikse brood te verdien.
- Die metaal waarmee die Arabiere hulle moskees se pilare en mure bedek.
- Selfs eetbaar as versiering op fyngebak.
- Die kleur van varsgebakte soetkoekies, brood en beskuit, pas uit die oond.
Wanneer ek aan gesegdes dink, onthou ek:
Al dra ’n aap ’n goue ring, bly hy steeds ’n lelike ding.
Onthou asseblief om die woord “goud” in jou titel te gebruik en gaan vir GOUD!


Projek: Hande

Kere gelees: 5157 | Totale Kommentare: 179

Die tema vir hierdie week se ‘Vandag in Woorde’ is ‘HANDE’. Hande sê so baie van die mens. Ek hoor in my kop vir Theuns Jordaan wat sing ‘.... hierdie hande van my....’ en iets van ‘...’n ou man se hande....’. sommige mense sien eers iemand se oë, ander sien lippe. Ek sien hande.

Ek sal altoos my pa se growwe sterk werkershande onthou  wat timmer en skaaf aan sy houtwerk of fyn sny met ’n knipmes aan ’n lang stuk rugbiltong en stukkie vir stukkie aan ons kinders uitdeel wat grootoog in ’n sirkel om hom sit en dophou om seker te maak ons mis nie ’n beurt nie.

Ma se hande weer was vir geen oomblik rustig of stil nie, net soos haar mond. Sy het ewe veel met haar hande gesels as met haar stem. Selfs al het sy oor die foon gepraat , het die hande saam beduie. Ek het dit so bietjie by haar geërf. Of dalk moet ek maar die waarheid praat. As jy my wil stilmaak, hoef jy net my hande vas te bind.

Dink aan die hande van toeskouers langs die krieketveld wanneer daar ’n vier of ’n ses geslaan word of ’n man word uitgeboul. En wanneer die ‘Mexican wave’ sy rondte doen. Met dieselfde hande en dalk dieselfde entoesiasme word ons Heer geprys. 

Onthou asb om die woord "hande" in jou bydrae se titel gebruik. Lekker skryf! 


Projek: Lees

Kere gelees: 2065 | Totale Kommentare: 80

Vandag leen ek ons tema vir Vandag in Woorde by ’n radioprogram. Hulle het  oor ‘Lees’ gepraat en dis toe dat ek besluit dis ons tema vir hierdie week omdat ‘LEES’ nie net ’n eindelose genot is vir my nie, dis so te sê ’n verslawing.  Dis my slaappil. Al lees ek net vier bladsye voor my oë toeval, lees moet ek lees.

Al ons Woestelinge skryf tog in die hoop dat iemand dit sal lees. En deesdae lees mense op allerhande maniere. Mense lees op selfone, op e-lesers, op rekenaars en wat nog. Selfs die Bybel op ’n tablet. Dis nogal handig, want mens kan ’n paar vertalings aflaai om te vergelyk.

Tog is papier-tussen-die-vingers lees die heel lekkerste. So dink ek altans. Daai reuk van ’n nuwe boek, is beter as die vars leer reuk van ’n nuwe motor. Dalk oordryf ek nou weer ’n bietjie. Blinde mense lees ook. Hulle lees audio boeke. Ek het ’n pragtige Barbie pienk Kindle persent gekry. Skoonseun het ’n horde boeke afgelaai en ek het nog nie eers 1 gelees nie. Dis ’n skande nè? As dit papier boeke was, het ek beslis al ’n hele paar afgehandel.

Wat lees jy? Ek dink literêre boeke is soos werk en fiksie is soos vakansie.

Waar lees jy? Daar is mense wat nie die troon sonder ’n boek in die hand, besoek nie.

Hoe lees jy?
Wie lees jy?
In watter taal lees jy?

Die woord "Lees" moet asb deel vorm van jou bydrae se titel. Geniet dit!


Projek: Vic

Kere gelees: 2462 | Totale Kommentare: 89

So week of 2 gelede was on tema vir Vandag in Woorde ‘WOES’. Hierdie week is ons tema dan heel gepas ’n Woesteling. Meer spesifiek is die tema ‘VIC’! Ons  geëerde Woes-vriend! Nie sommer hieroor of daaroor nie, maar omdat ons die eer het om op 10 April sy  80ste verjaardag te vier. Jy lees reg ...

’T-A-G-T-I-G’, tien maal agt!

Sou jy dit ooit kon raai aan die pragtige werke wat hy hier op Woes plak, vir ons om te geniet. As jy nog nooit iets van hom gelees het nie, is jy beslis aan die verloorkant. Gaan skrop sommer dadelik op sy werf. Hy skryf in verskeie genres en daar is beslis iets vir ieder en elk om te proe en geniet.

Kom skryf gerus saam en onthou asb om "Vic" in jou titel te gebruik. 




Sonstraalbeloftes

deur DMJR

'n Digbundel. Grootliks in Afrikaans, maar bevat ook vyf van my gedigte wat ek in Engels vertaal het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar