So tussen die lag en die huil deur is ek.... ....nie ‘n skrywer nie, maar is geroer deur hierdie uitlaatklep en tik dit wat op my hart lê...op daardie oomblik. ....nie ‘n digter nie, maar voel soms geroer om reël in ritme en rym te plaas. Lees Talent en jy sal hoor wat ek sê. ....nie ‘n teoloog nie maar ‘n student van die Woord wat geroer word oor vryspraak vir hulle wat aangekla is deur die “aanklaer”, maar vrygespreek word deur die Vrymaker, my Here en my God. Dit alles gebeur nie op grond van wat ons is nie, maar op grond van wie Hy is en wat Hy gedoen het. Hy wat vir ewig groot is, het ons aanspraak nie aan onsself oorgelaat aangaande ons verhouding met Hom nie, maar ons voordat die aarde bestaan het beide geroep en vrygespreek. Dit laat my warm. Jy sien, wat my verstand te bowe gaan is dat wanneer ek nie in Hom is nie is ek koud. Wanneer ek my beste probeer is ek lou en sal Hy my uitspuug, maar wanneer ek die alfa en omega aan Hom laat … net dan kan ek in Hom wees en Hy in my. Hierdie Waarheid het my geroer (beweeg) en verander, maar dit het nooit die manier verander waarop Hy dit in my gedoen het nie. Dit is eeue reeds beskikbaar vir ons. Sy Woord bly tot in alle ewigheid dieselfde. Dis net mense se opinie en “bydrae” en gevoel wat oor Hom verander juis omdat ons daaroor geraak word. Daarom moet ons soos van die reformasie tydperk af altyd seker maak dat die beroering in ons nie teen die volle getuienis van die Woord ingaan nie. .....getroud met Nonna (Katjie Katryn), God se bruid vir my van ewigheid af. Meer as haar gewig werd in suiwer goud. Sy is ‘n “class act” Lekker stoot ek nou bors uit. Ek het ‘n klomp pragtige dogters waarvan die een mooier wil wees as die ander. Elkeen is gelys by dramaqueen.com . ‘n Wonderlike, pragtige deel is vir my afgemeet. (Ps 16:6) ( Outeursreg geld hier asb, behalwe KinderdoopI-V. Daarvan mag jy druk en versprei soveel jy wil)