Hierdie laaste dag van 2009 bring my by amper twee jaar in woesland waar ek veel vreugde en hartseer beleef het. Met griffels vol emosie het ek hier aangeland en vriende gevind wat my reggehelp het, gewys het dat woorde met 'n bietjie skaaf en skommel baie anders kan klink.
Tussen hierdie blaaie roep stukkies herinneringe van hulle wat my lewe gedeel het. Baie strofes het verlore geraak in die jare toe ek voortgestrompel het op soek na lig aan die einde van die tonnel. Op my knieë het ek my smart uitgesnik tot ek in my eensame stiltewoestyn verdwaal het. Daar het my Vader my kom optel en gewys in watter sonkolle ek na Sy Genade moet gaan soek.
Wat verby is, is verby. Ek klou nie meer vas aan verlore versugtinge nie. Met hierdie Genade wat emmersvol oor my uitgestort word, griffel ek my gedagtes en emosies neer sodat julle elkeen 'n jasmynklokkie vol hoop kan kom optel om die toekoms vol liefde in te gaan.
Baie dankie aan my Vader vir talent wat soos die soet geur van Jasmyn deur my vingers vloei.
Dankie aan my woesvriende wat familie geword het, wat my optel en dra wanneer die dae te lank raak.
'n Groot mandjie vol rose aan elkeen met wie ek kon saamwerk om BLIKeMMER te voltooi.